15 Februarie 2021


FRANCINE PRINS

Daardie eerste koppie koffie in die oggend. Die dankgebed voor ete. Die gereed maak vir slaaptyd, stapsgewys, met stories en badtyd en laaste nagsê-soentjies.

Dis alles rituele: die meer-as-bloot-gewoontes van ons alledaagse bestaan.

LEES OOK: Maandag-inspirasie: Jy sal gedra word!

Rituele is handelinge met ’n dieper en ’n dikwels simboliese betekenis. Juis daarom anker dit ons.

Ons godsdiens is vol rituele. Nagmaal is ’n ritueel. Ook lofprysing en aanbidding. Kerk toe gaan is deel van ’n ritueel. Die Bybel beskryf dit dikwels. Ons lees in die Ou Testament oor die priesters se rituele gebruike. Hoe hulle die Here se opdragte in dié verband nougeset nagekom het.

Die Nuwe-Testamentiese rituele kom meer versteek in die teks voor, want Jesus se koms het ons manier van doen dieper in die waarheid kom anker. Ons rituele het nou ’n voller betekenis, omdat Hy die middelpunt daarvan is.

Die geheim van ons godsdienstige rituele het uiteindelik dít geword: ’n verhouding met Jesus. Om Jesus te leer ken, Hy wat die Weg na die Vader is, is die belangrikste ritueel in ons lewe. Dis ons vernaamste  anker, ons omvangrykste leerproses, ons diepste reis. Ál die ander rituele wat ons elke dag uitvoer, is bloot uitvloeisels van dié een ritueel, dié een verhouding.

  • Francine Prins is redakteur van die gedrukte LiG, en is ook verantwoordelik vir die tydskrif se aanlyngemeenskap.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail