22 Februarie 2021


DEUR RENÉ BADENHORST

“Maar iemand kan miskien sê: ‘Die een het die geloof en die ander het die dade.’ Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs” (Jak 2:18-19).

“Glo” is ’n woord wat verskillende dinge vir verskillende mense beteken. As “glo” bloot beteken dat jy in God se bestaan glo, sal daar ’n hele klomp bose geeste eendag saam met ons in die hemel woon.

LEES OOK: Maandag-inspirasie: Jesus, ons anker

Een definisie van “glo” wat my diep laat dink het, is dié een: “om volle vertroue te hê, om met jou alles te vertrou.”

Volle vertroue – dat God alle mag in die hemel en op aarde het.

Volle vertroue – dat Hy my alles sal gee wat ek nodig het om te lewe en om Hom te eer.

Volle vertroue – dat Hy my liefhet en my beste belange op sy hart dra.

Volle vertroue – dat Jesus se bloed al my sondes afwas.

Ons dade wys hoe ver en diep ons vertroue strek, en ek moet bieg dat my vertroue wat dit betref dikwels ver tekort skiet. Ek gaar op met die oog op die toekoms, en ek maak dubbel seker alles is onder beheer vóórdat ek van my tyd of geld aan God beskikbaar stel. Ek maak só seker dat ek volledig beveilig is dat ek dit byna nie nodig vind om Hom vir enigiets te vertrou nie.

LEES OOK: Maandag-inspirasie: Om te sing

Abraham stel ’n voorbeeld soos min. Hy het volle vertroue in God en sy krag gehad. Daarom was hy bereid om die seun wat aan hom belowe is, te offer. Hy het eenvoudig geweet Isak sou ongeskonde daarvan afkom. God het dan belowe dat sy nageslag uit Isak sou kom. Abraham se volle vertroue was op Hom.

Dit is dus hoe volle vertroue lyk, en ek weet hoe ver ek nog moet groei.

 Bid saam met my: “Vader, ek weet ek kan slegs ten volle vertrou as U my daarmee help. En ek kan dit slegs regkry as U na aan my is. Wys my asseblief meer van U. Help my in my swakheid, laat my groei. Amen.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *