11 Februarie 2021


Marinda Engelbrecht is ’n bekende TV-aanbieder agter die kospotte en jare lange skepper van kinderteaterproduksies. Maar die inperking het gekom en haar inkomste kom halveer. Gelukkig het dié planmaker as plaaskind vele vaardighede by haar vrugteboer-pa en dinamiese ma aangeleer.

DEUR DEONETTE DE KOCK

Wanneer en hoe is jy aan entrepreneurskap blootgestel?

Ek het as plaaskind gesien hoe my pa handel dryf met die produkte op die plaas. Ek onthou hoe ek, ’n klein dogtertjie met stywe vlegsels, langs hom op die lorrie se sitplek gestaan het, my een armpie om sy nek. Ons het mark toe gery met ons waatlemoene en ander vrugte.

Dan het ek na die driftige onderhandelings op die mark gestaan en kyk. Die mooi, vars vrugte en groente het my liefde vir vars kos aangewakker.

My dinamiese ma, vir wie ek ’n groot bewondering gehad het, het die saadjie vir lekker kos gesaai. Sy het potte vol konfyt gekook, heerlike uitgerysde brode gebak, asook melkterte met pofferige skilferkors. Om vir almal wat onverwags by ons opdaag, kos te gee.

Hoe het jy in die begindae die pot aan die kook gehou?

’n Vrou word met planne gebore, en sy maak altyd nóg een!

Met ’n onderwyskwalifikasie en ’n Hoër Onderwysdiploma agter my naam, asook  spraak- en drama-opleiding, het ek gaan skoolhou om my gesin finansieel by te staan. Ons hou mekaar se hande hoog in moeilike tye. As jou arms lam raak, vra jy God vir krag. ’n Gesin wat saam bid, bly by mekaar.

Twintig jaar gelede het ek met my man Johann – hy sing soos ’n engel! – se ondersteuning die teater aangedurf. Hy was die wind onder my seile.

Marinda en haar man Johann saam met hulle kleindogter Lea op die strand. Haar honde Flappie en Vlooi mis glo ook nie graag ’n strandwandeling nie. Foto verskaf

Nie lank daarna nie het ek die opvoerregte vir Vlooi/Kipper gekry, die voorgeskrewe werk vir die grondslagfase wat ek sedertdien elke jaar in Augustus by Artscape opvoer. Die afgelope twintig jaar reeds. Hiervoor is ek met ’n Fleur du Cap-toekenning vereer.

Die mense in Doha, Qatar, het van die toneelstuk uitgevind en hulle het my gevra om dit na hul land te bring. Nou gaan ek vyf tot ses keer per jaar met my kinderteater Qatar toe.

LEES OOK: Lindie: ‘Ons groot skuif net nog ’n tree agter Jesus aan’

Om kos te maak, was aanvanklik net ’n groot lekkerte. Maar nou het dit die grootste deel van my werk geword. ’n Nederige, alledaagse werk – wat deesdae my vernaamste bron van inkomste is.

Jy behaal groot sukses met jou kosprogramme op TV …

Daar was eers my deelname aan Kokkedoor, waar ek een van die tien finaliste was. Maar niks gebeur vanself nie, en ek het baie bemarking gedoen. Asook talle voorleggings van kosprogramme aan VIA. Daar was die optredes by VLV-byeenkomste en skoue.

My passie vir kos is oplaas raakgesien en ek is as aanbieder van die kosprogram Maklik met Marinda aangestel, en as mede-aanbieder vir Laat die Potte Prut.

Ek het ook maar my “insecurities” … Daar kom dae dat ek dink ek is te vet, nie mooi genoeg nie, nie ’n opgeleide sjef nie en nie goed genoeg nie. Dan kos dit my diép grawe om weer my kop op te lig.

Televisie is genadeloos. Jy kuier in mense se sitkamer, en jy kan niemand flous nie. Daarom probeer ek deurgaans om eerlik te wees in my aanbieding, getrou aan myself, opreg. Daar is geen teks nie. En met kos is daar nie ’n “take two” nie. As die kos aanbrand, dan brand dit aan.

Gelukkig ken ek my gaste. Ek probeer ontspan en ek probeer vergeet dat dit ’n regstreekse uitsending is. Eintlik is dit vir my heerlik! My drama-opleiding help darem baie.

Vertel ons iets oor jou verhouding met God

Sonder my God is ek niks. Dis net genade dat ek kan doen wat ek doen.

Ek het in ’n tradisionele Christen-huis grootgeword. Huisgodsdiens was deel van my grootwordjare. Voordat ons soggens op die bus geklim het, is ons eers aan die Here opgedra.

Foto verskaf

Ek is geseën om met ’n gelowige man getroud te wees, en ons leef steeds ons godsdiens uit soos dit in ons onderskeie ouerhuise die geval was. In die swaar tye lê ek snags en bid, ook as ek wakker word.

Vanselfsprekend beweeg ek nader aan God in die swaar tye. En ek leef in vertroue, geloof en berusting.

Ek leef met oorweldigende dankbaarheid teenoor die Vader dat ek ’n werk het. ’n Lewe sonder God is ’n leë lewe.

Hoe het die inperking jou geraak?

Gelukkig is al my eiers nie in een mandjie gepak nie. Ek het my vernaamste bron van inkomste verloor: Daar is geen Augustusmaandse Vlooi/Klipper-produksie nie; daar is geen Doha-produksie nie; daar is geen optrede by vrouedae nie. My inkomste is meer as gehalveer.

Dank die Here ek het televisiereekse. Ons het in dié tyd Laat die Potte Prut geskiet, waarvan die eerste episode op 21 Januarie uitgesaai is. Dis ’n mooi en opwindende reeks programme. Daar is boonop die vooruitsig van ’n nuwe formaat vir dié reeks.

My nuwe kookboek, Marinda se Koskas, verskyn hopelik in Mei, en in Juniemaand verskyn my nuwe, funky kookboek vir kinders!

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail