Plastiekvrye Julie #3: Meesters in hergebruik

Plastiekvrye Julie is ’n beweging waaraan miljoene mense oor die wêreld heen elke jaar deelneem. Fay van Eeden gaan in vyf artikels haar gesin se reis na eenvoud en ’n meer volhoubare lewe met LiG-lesers deel. In dié derde aflewering kyk sy na idees hoe om ’n meester van hergebruik te word.

DEUR FAY VAN EEDEN

Die derde beginsel van Bea Johnson se Zero waste-leefwyse bied eiesoortige uitdagings. As ek daaraan dink, gaan my gedagtes onwillekeurig terug na my ouma. Sien, my ouma was ’n groot teedrinker. Daar was altyd teesakkies wat op haar vensterbank in die son gelê en droog bak het. Die gedroogde sakkies is later in paraffien “ingelê” en as vuuraanstekers gebruik.

LEES OOK: ‘Ons leen die aarde by ons kinders’

Ouma het haar flesse vir ingelegte vrugte weer en weer gebruik. Haar gesin se ou klere het skroplappe geword. My ouma was dus ’n “eco warrior” lánk voordat dié gonswoord bestaan het.

Om weer te gebruik (Hergebruik/Reuse)

My ouma was niks minder nie as ’n meester in hergebruik. Maar … elke kas en laai was vol lappies, bottels en sakkies. Haar huis was oorvol. Toe ek dus aan die hergebruikidee voorgestel is, was my eerste reaksie: “Nee, dankie! Ek is nie van plan om op te gaar nie.”

Maar ek het intussen geleer dat hergebruik nie tot ’n oorvol huis hoef te lei nie. Hergebruik kan eenvoudig en mooi wees.

Hoe vaar ons?

Om die hergebruikbeginsel te omhels, vereis ’n kreatiewe kyk na alles in jou huis – veral daardie dinge wat jy reken weggegooi moet word. Ons probeer om alles wat ons wil herwin of wil weggooi, eers vanuit ’n hergebruik-hoek te bekyk. En om onsself dan af te vra: “Hoe kan ons dit weer gebruik?”

Hierdie vraag het tot ’n hele paar veranderings in ons huishouding aanleiding gegee. Byvoorbeeld:

Glasbottels en -flesse word nie summier weggegooi nie. Ons het ’n rakkie in ons kombuis vir bottels en flesse van verskillende groottes. Die flesse word vir allerlei dinge gebruik – van die wegbêre van droë bestanddele wat ons by ons weeg-en-betaal-winkel koop, tot die bêreplek vir oorskiet wat in die yskas moet kom. Ek gee ook graag vir gaste wat by ons eet ’n brakpakkie in ’n fles saam huis toe.

Glasflesse werk ook lekker om tuisgemaakte geskenke soos koekies te verpak.  Die glasbottels op ons rak kom handig te pas by die aanmaak van koeldrank of wanneer ons melk in grootmaat koop.

Teesakkies en koffiemoer word nie meer weggegooi nie. Die teesakkies wat in ’n fles met paraffien gebêre word, kom handig te pas wanneer ons die braaivleisvuur wil aansteek. Ouma se destydse truuk sorg daarvoor dat ons nie meer vuuraanstekers en hul plastiekverpakking hoef te koop nie.

Foto: Madison&West Lifestyle

Die koffiemoer beland ook nie meer in die asblik nie. Ek maak ’n wonderlike lyfskrop daarvan. (Kyk na die resep hieronder.)

Ons dogtertjie se leë melkblikke word ook op verskeie maniere weer gebruik. Van hulle staan in die motorhuis en is vol skroewe, spykers en boute, terwyl ander haar houtblokkies huisves. Ek het een op my lessenaar wat vol skryfbehoeftes is.

LEES OOK: Plastiekvrye Julie #1: Toe ek die groen kloutjie by die oor gebring het …

Met ’n kleuter in die huis is daar deurentyd krummels en plasse koeldrank wat opgevee moet word. In die verlede het ons verskeie rolle papierhanddoek in ’n maand gebruik. Ons het dit vervang deur ou handdoeke in kleiner blokkies te sny. Dié handdoekies is byderhand in ’n houer in die kombuis om daardie glipsies op te vee, waarna dit saam met die wasgoed in die wasmasjien gedruk word.

Foto: Madison&West Lifestyle

Enigiemand wat al ná Kersvieringe moes opruim, sal weet hoeveel toedraaipapier, karton en plastiekverpakkings onder die boom lê. Ná een van hierdie opruimsessies het ek besluit om nie net anders te begin dink oor die geskenke wat ek gee nie, maar ook oor hoe ek dit moet toedraai.

Deesdae hergebruik ek die geskenksakkies, linte en toedraaipapier wat ek van ander mense ontvang het. Ons koop ook nie meer kleefband nie; linte uit lap maak ’n pakkie mooi toe en dit kan weer en weer gebruik word. Sommige van die kartonhouers waarin jy byvoorbeeld klein tamaties koop, sorg vir oulike boksies waarin geskenke soos tuisgemaakte koekies verpak kan word. Ons het ’n rak in ons gangkas waarin ons geskenksakkies, linte en houers bêre.

As jy hierdie jaar één boom in jou tuin plant, sorg tog dat dit ’n suurlemoenboom is. Ons het ’n ruk gelede ’n suurlemoenboom geplant en was nog nie een dag daaroor spyt nie. Ek kook graag met suurlemoene. ’n Stukkie suurlemoen saam met heuning in kookwater verrig wondere om jou immuniteit te verhoog. In die somer maak ons ons glasbottels vol water en stukkies suurlemoen.

Die gevolg is dat daar altyd stukke uitgedrukte suurlemoen en suurlemoenskille in ons kombuis is. Maar voor dit komposhoop toe gaan, gebruik ons dit eers om ’n skoonmaakmiddel te vervaardig.

Dit werk so: Plaas vyf suurlemoene se skil in ’n glasfles en vul die fles met wit asyn. Skud die mengsel goed en bêre dit in ’n kas of enige plek weg van direkte sonlig. Verwyder die skil ná twee weke en gebruik die mengsel om allerlei oppervlakke in jou huis skoon te maak.

* Suurlemoenskil het baie gebruike in en om die huis. Kyk gerus op my blog vir verdere planne met suurlemoenskil. https://enroutefoodie.co.za/

ONS TOPWENKE

  • Stel ondersoek in

Stel eers vas of ’n stukkende toestel herstel kan word voordat jy dit weggooi of met ’n nuwe een vervang. Dis die moeite werd om op die uitkyk te bly vir nutsmanne in jou omgewing wat met herstelwerk kan help.

  • Koop gebruikte toestelle/produkte

Tweedehandswinkels, oudhedemarkte, Gumtree, BidorBuy en Amazon is almal goeie plekke om toestelle, produkte en meubels wat voorheen gebruik is, te koop. ’n Goeie tweedehandskopie is nie net goed vir die planeet nie, maar ook vir jou sak.

  • Koop slimmer

Koop produkte wat veelsydig en duursaam is. Produkte wat herstel kan word, is ook ’n goeie keuse. Indien ’n toestel met batterye werk, kies een wat ’n herlaaibare battery het.

Foto: Madison&West Lifestyle

  • Hou daardie glasflesse en -bottels

Daardie leë grondboontjiebotter- of mayonnaisefles is ’n wonderlike houer waarin droë bestanddele soos rys, pasta en lensies gebêre kan word. Glasflesse werk ook lekker om oorskietsop of -bredie te vries. Glasbottels werk goed as jy gegeurde water wil maak en bedien.

  • Gee jou klere nege lewens

Die dekades lange disintegrasieproses van een kilogram lap wat op ’n vullishoop beland, stel vier kilogram koolstofdioksied vry. Daarom is dit belangrik dat ons ons klere goed oppas sodat ons die lewensduur daarvan kan verleng. Wanneer die dag aanbreek dat jy van daardie kledingstuk moet afskeid neem, vra jou af of dit weer gebruik kan word. Kan jy dit nie dalk regmaak nie? Of wat van ’n aanpassing, byvoorbeeld om ’n langbroek in ’n kortbroek te verander?

LEES OOK: Plastiekvrye Julie #2: Een ou se gemors, ander se skat en ander minder maak-idees

Indien nie, ondersoek die moontlikheid om dit te verkoop. “Vintage” en “pre-loved” is nou mode. Dalk kan jy dit vir ’n ander kledingstuk ruil, óf dit aan ’n behoeftige persoon skenk.

Indien nie een van bogenoemde moontlikhede haalbaar is nie, kan die kledingstuk waarskynlik steeds as ’n kombuis- of motorhuislap gebruik word.

  • Vervang papier- met lapservette

Lapservette is ’n wonderlike alternatief vir papierservette. Goeie lapservette laat ’n tafel stylvol lyk en sal jare lank hou. Kies ’n kleur wat nie te vinnig gaan verbleik of oud lyk nie. Lappe met ’n patroon verbloem vlekke en kolle.

  • Gebruik daardie kartondoos en papier weer

Voordat jy daardie kartondoos of papier herwin, gebruik dit weer. Papier waarop daar net aan die een kant gedruk is, kan gebind word vir ’n notaboek of vir ’n tekenboek vir die kleinspan.

  • Draai ’n geskenk in ’n geskenk toe

Die meeste geskenkpapier en kleefband kan nie herwin word nie. In plaas daarvan om geskenke in geskenkpapier en met kleefband toe te draai, verpak eerder jou geskenk in ’n vadoek, ’n  T-hemp, ’n tafeldoek of ’n mooi stuk lap. Op díe manier gee jy twee geskenke.

* Leer die kuns van furoshiki aan. Hierdie tradisionele Japannese styl van geskenke toedraai kom uit die agtste eeu en is oorspronklik gebruik om waardevolle items veilig te vervoer.

Foto: Madison&West Lifestyle

  • Vervang jou weggooibare masker met ’n lapmasker

Dit lyk asof maskers in die voorsienbare toekoms deel van ons lewe gaan wees. Vervang daardie weggooibare maskers met ’n klompie mooi lapmaskers. Of maak self lapmaskers uit ’n ou T-hemp of wintershemp. Daar is verskeie patrone op die internet beskikbaar.

  • Gebruik leë toiletrolle in die tuin

Hier is twee lekker aktiwiteite waarmee jy jou kinders oor hergebruik kan leer:

  1. Sny drie kepe, 3-4 cm lank, in ’n leë toiletrol en vou die drie flappe na binne om ’n bakkie te vorm. Vul die bakkie met grond en plant saadjies daarin. Wanneer die saailinge sterk genoeg is, kan hulle met bakkie en al in die tuin geplant word.
  2. Leë toiletrolletjies kan ook gebruik word om ’n voerplek vir voëltjies te maak. Smeer die rolletjie se buitekant vol grondboontjiebotter. Rol dit dan in voëlsaad en hang dit aan ’n toutjie in ’n boom.

God roep ons om vir die wêreld te sorg

“Use it up, wear it out, make it do, or do without.” – ’n antieke spreuk

Die ekologiese krisisse wat ons in die gesig staar, vereis ’n verandering in ons lewensingesteldheid. Dit vra ons om aan onsself as versorgers te dink, eerder as verbruikers. God se Koninkryk is ’n sorgende ruimte. Wanneer Jesus sy volgelinge leer om te bid ‘laat u koninkryk kom’, roep Hy hulle ook op om te sorg dat hierdie wêreld ’n plek is waar alle lewe kan floreer. Om God se koninkryk in hierdie opsig te laat kom, vra van ons om verantwoordeliker met hulpbronne om te gaan, omdat dit belangrik is vir ander mense en diere se lewe. As ek oor hierdie roeping nadink, kan ek nie anders nie as om aan Mahatma Gandhi se woorde te dink: “Live simply so that others may simply live.”

Naas weier en verminder, is die beginsel van hergebruik die manier waarop ons God se koninkryk hier op aarde kan vestig. Wanneer ons hergebruik, erken ons nie net dat daar beperkte hulpbronne is nie, maar doen ons ook iets prakties om te verseker dat daar genoeg is vir almal.

Sommige mense verwar hergebruik met herwinning. Terwyl herwinning die herverwerking van ’n produk is om ’n nuwe een te skep, is hergebruik die herhaaldelike gebruik van ’n produk in die oorspronklike vorm ten einde die lewensduur daarvan te verleng.

 

Hergebruiklysie

Een van die maniere om hergebruik in jou huis toe te pas, is om weggooibare produkte te vervang met produkte wat weer gebruik kan word.
Lap-inkopiesakke / Glasflesse / Glasbottels / Ou handdoeke en ou lappe / Lapservette / Lapsakdoeke / Herlaaibare batterye / Covid-19-maskers

 

MAAK DIT SELF

Koffiemoerskrop

Koffiemoer kan weer gebruik word as ’n lyf- en handskrop. Bêre die koffiemoer in ’n glasfles totdat jy ’n koppie vol daarvan het.

Wat jy nodig het

1 koppie koffiemoer

½ koppie bruinsuiker

2 eetlepels klapperolie of olyfolie

1 teelepel amandelgeursel of vanieljegeursel

Hoe jy moet maak

Meng al die bestanddele saam en bêre dit in ’n lugdigte fles. Die skrop kan maande lank teen kamertemperatuur gebêre word. Die tekstuur van die skrop hang af van hoe fyn (of hoe grof) die koffiebone gemaal is.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img