Menopouse #1: Waar bevind jy jou en wat kan skeefloop?

Die menopouse is vir die meeste vroue ’n misterie. Maar het jy geweet hoe later jou menopouse, hoe langer is jou lewensverwagting? LiG het meer gaan uitvind oor die drie fases, vroeë menopouse en wat kan skeefloop as jy nie meer estrogeen produseer nie.

DEUR SALOMÉ DELPORT

Wanneer gebeur dit?

Jy verkeer in jou menopouse indien jy twaalf agtereenvolgende maande nooit gemenstrueer het nie.

Maar lank voor dít gebeur, het dinge reeds begin verander. Gelukkig is al daardie veranderings normaal, hoewel nie noodwendig gemaklik nie.

Wat kan ’n mens verwag?

Al wat jy vooraf kan weet, is dat jóú ervaring uniek sal wees. Net soos jou eerste menstruasie as ’n tienermeisie eiesoortig was, is dit ook met die menopouse die geval. Niemand kan dit voorspel nie. En net jou liggaam en jou psige “weet” hoe maklik (of nie) jy daardeur sal gaan.

Wat ons wel weet, is dat sommige vroue ligvoets, en met slegs ’n paar warmgloede, na hul postmenopousale fase vorder. Maar aan die ander kant van die spektrum is die simptome intens, lastig en langdurend.

Die meeste vroue beland iewers tussenin: Dis lastig, maar hulle kan die oorgang met grasie hanteer.

Waar bevind jy jou?

Ná veertig kan jy begin wonder wanneer dit jou gaan tref. Die eerste tekens kan so subtiel wees dat baie vroue nie eens besef hulle is besig met ’n groot oorgang nie.

Die medici identifiseer drie fases: die perimenopouse, die menopouse en die postmenopouse. In werklikheid ervaar die meeste van ons dit as ’n stadige oorgang van die een fase na die volgende, eerder as ’n duidelike “sprong”.

*Tog verklap dié tekens waar jy jou tans bevind:

– Jy weet jy verkeer in die perimenopouse, die eerste fase, as jou tipiese menstruasiepatroon begin verander van hoe dit tot op hede was. Dit kan langer, korter, ongereelder, ligter of swaarder as tevore wees.

Tydens die perimenopouse vervaardig jou eierstokke ál minder estrogeen. Dus ovuleer en menstrueer jy ooreenstemmend ongereeld. ’n Vrou is gewoonlik so vier jaar lank perimenoupousaal.

– Jy bevind jou amptelik in die menopouse as jy twaalf agtereenvolgende maande nie gemenstrueer het nie. Die tipiese tekens het dit waarskynlik dan reeds aan jou verklap: warmgloede, nagsweet, slaapprobleme, vaginale droogheid, urienprobleme, seksuele probleme, depressie, buierigheid, vergeetagtigheid en ’n ingeperkte vermoë om te konsentreer. Asook … ’n ekstra kilogram of drie. Gelukkig het die meeste van ons met slegs ’n paar hiervan te kampe.

Bogenoemde simptome is vanweë die feit dat jou eierstokke opgehou het om estrogeen te vervaardig, en dit het ’n groot klomp gevolge op jou liggaam, insluitend jou brein.

LEES OOK: ‘Jongmense wat ernstig siek word van Delta-variant en mense wat entstof weier ‘n bekommernis,’ vertel dokter van Mosselbaai

– Jy weet jy is postmenopousaal as jy weer jou “ou, kalm self” voel. Die warmgloede is iets van die verlede. Die meeste vroue vertel dat hulle nou weer soos tevore funksioneer.

Wat veroorsaak vroeë menopouse?

Daar is ’n hele reeks faktore wat aan ’n vroeë menopouse verbind word, onder meer:

  • Sekere soorte chemoterapie, soos dié wat estrogeen onderdruk en wat aan vroue met estrogeen-sensitiewe borskanker toegedien word.
  • Die verwydering van jou eierstokke
  • ’n Histerektomie. Ongeveer een uit elke drie vroue betree hul menopouse binne ’n jaar ná ’n histerektomie; vir ander begin die menopouse sowat vyf jaar vroeër as die gemiddelde.
  • Outo-immuunsiektes
  • ’n Familiegeskiedenis van vroeë menopouse
  • Vroeë menarg (dit wil sê as jy baie jonk begin menstrueer het)
  • Kinderloosheid
  • Ondergewig en/of ondervoeding
  • Rokers bereik die menopouse gemiddeld vyf jaar vroeër as nierokers.
  • Om die een of ander onbekende rede betree 5% van identiese en nie-identiese tweelinge die menopouse vroeër as ander vroue.

Wanneer gaan dit my tref?

  • Dit kan iewers in jou veertigs begin, of eers as jy 60 is.
  • Die meeste vroue beleef die menopouse tussen 49 en 52.
  • As jy voor 45 in die menopouse ingaan, sal jou dokter sê jy het ’n vroeë menopouse. As dit voor 40 begin, beleef jy ’n premature menopouse.

Wat kan skeefloop?

Jy produseer nie meer estrogeen nie. Jy is ook ouer. Let dus mooi op die volgende, en gee daaraan aandag voordat dit ’n groot krisis word.

  • Gewig
  • Hartkwale, hoër bloeddruk en hoër cholesterol
  • Demensie
  • Diabetes
  • Urogenitale probleme (blaas en vagina)
  • Osteoporose en beendigtheid

Babas in die menopouse is moontlik!

* Ja, jy kán tydens die perimenopouse swanger raak. Jy ovuleer immers steeds, al is dit ongereeld en onvoorspelbaar. Hou jou voorbehoeding vol, tot twaalf maande ná jou laaste menstruasie – tensy jy op ’n laatlammetjie hoop.

* Jy kan ook tydens jou menopouse swanger raak, maar slegs met gespesialiseerde hulp. Jy het nie meer voorbehoeding nodig nie. Die hormoonterapie wat jy nou kan gebruik, is nie as voorbehoeding bedoel nie.

LEES OOK: Menopouse #2: Hormoonpille, depressie en raad vir jou meno-gemoedFacebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img