Menopouse #2: Hormoonpille, depressie en raad vir jou meno-gemoed

Wanneer dit by die menopouse kom is daar ongelukkig nie een resep wat vir almal geld nie. LiG het meer gaan uitvind oor hormoonterapie en depressie in dié fase van jou lewe.

DEUR SALOMÉ DELPORT

Is menopousale hormoonterapie (MHT) die regte ding vir jou?

“Daar is nie een resep wat vir almal geld nie,” sê dr Herman Botma. Deesdae is die fokus op individualisering. Jou persoonlike profiel bepaal of jy MHT kan gebruik of nie. Daarom evalueer jou dokter eers jou mediese geskiedenis – insluitend die risiko van hartkwale, diabetes en kanker – asook gesondheidsfaktore soos bloeddruk, tiroïed en beendigtheid.

“As jy nie ’n histerektomie ondergaan het nie, moet jy progesteroon ook gebruik – indien jy estrogeen kies. Vandag weet ons dat sommige vroue ’n intoleransie vir progesteroon het en nie goed daarby aanpas nie.

“MHT is kompleks. Byvoorbeeld: As jou beendigtheid laag is, is jou kans op osteoporose en/of ’n heupbreuk groot. Dan is estrogeen die beste opsie vir jou.

“Maar wat gebeur indien jy borskanker gehad het? Dan moet ons weet of dit ‘n estrogeen-sensitiewe kanker was of nie.

LEES OOK: Menopouse #1: Waar bevind jy jou en wat kan skeefloop?

“Indien jy hoë bloeddruk het, sal jou dokter ook wil vasstel wat die kans vir bloedklonte is.

“Daar is soveel dinge om te oorweeg. Praat met jou dokter, en besluit saam met hom of haar wat die beste by jou pas.”

* Kyk intussen wat die European Menopause Society oor MHT sê:

  • MHT – en veral estrogeen – is die doeltreffendste manier om warmgloede, slaaploosheid en die ander ligter maar lastige simptome van die menopouse te behandel.
  • MHT hou die weefsel van die blaas en vagina in ’n goeie toestand. Hoe langer hierdie weefsel jonk en gesond bly, hoe langer funksioneer die blaas en vagina goed.
  • MHT – en spesifiek estrogeen – het ’n positiewe invloed op die cholesterolvlakke in jou liggaam: Dit verlaag die nadelige LDL en trigliseriede, terwyl dit die “goeie” HDL verhoog.
  • MHT help om osteoporose en heupbreuke te voorkom.

Buierig en depressief?

Was jou siklus gereeld? Was jou siklus taamlik kort? Het jy jou eerste baba eers in jou dertigs gehad? Is jy gesteriliseer ter wille van geboorteperking?

Dan is die kans dat jy depressief ná jou menopouse gaan wees heelwat kleiner.

Hoe dan so?

Navorsers, en dalk ervaar jy dit self, reken dat ons hormone ’n groot rol in ons emosionele gesondheid speel. Met ander woorde: Die estrogeen-, progesteroon- en testosteroonvlak in ons liggaam het ’n invloed op ons geluk.

Dis wel moeilik om dit te bewys. Daarom is die uitslag van ’n 2019- ondersoek onder 5 537 Chinese vroue so interessant. Hier is die reproduktiewe geskiedenis van menopousale vroue met gepaardgaande simptome en dié daarsonder  met mekaar vergelyk.

Wat het hulle bevind?

Al daardie dinge wat deel van jou menstruele geskiedenis is, het inderdaad ’n groot invloed op jou gemoedstoestand ná menopouse.

Wat maak jou ’n kandidaat vir depressie?

Vroue wat baie kinders gehad het, en diegene wat ’n miskraam of ’n aborsie gehad het, is baie meer geneig tot depressie ná die menopouse.

Die European Menopause Society sê dat veral vroue wat voorheen depressie gehad het ná die menopouse ekstra vatbaar daarvoor is. Hulle sukkel ook om dit te oorkom.

Indien jy besonder depressief voel, praat met jou dokter en/of ’n sielkundige. Hierdie seisoen is veronderstel om ’n gelukkige tyd in jou lewe te wees. Moenie toelaat dat onbehandelde depressie jou geluk steel nie.

Goed vir jou meno-gemoed

Die beste raad teen menopousale depressie is lankal nie meer bloot die afsluk van ’n antidepressant nie. Jou gemoed is kompleks, en selfs jou dieet kan jou gemoed ligter of donkerder maak. Die onderstaande  is net so deel van jou behandeling vir depressie as die regte antidepressant:

 Oefening: Stap, fietsry, pilates, ballet vir volwassenes, akwa-gim, biodanza … Die moontlikhede is oneindig. En dankie tog vir aanlyn klasse wat byna alles toeganklik maak, ongeag waar jy woon of watter tyd van die dag (of nag!) dit is.

Vriendinne, familie, bure: Hoe sterker jou vriendskapsbande, hoe beter is jy teen depressie gepantser. Doen moeite om tyd en liefde in ander mense te belê ten einde ’n netwerk hartsmense om jou te versamel.

Vrede in jou hart: Wroeg jy steeds oor destyds se seerkry? Dan het die tyd vir selfgenesing en selfvergifnis nou aangebreek.

Slaap genoeg

Eet gesond Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img