Mense wat op rommelhope leef spook steeds by skrywer

DEUR ENGELA DUVENAGE

Die bekroonde skrywer SP Benjamin se nuwe roman Dinge van ’n hond is ’n verhaal oor vergeet, maar ook oor onthou. Dis oor die besef dat ’n mens jou nooit rêrig van jou verlede kan losmaak nie. Dit speel af in die Kaap – iewers tussen ’n rommelhoop wat talle se heenkome is, en ’n familieplaas genaamd Gatlek wat die Fouries aan die staat verkoop het en wat nuwe eienaars kry.

Klik op die omslag om die boek te bestel.

Die boek is vol kleurvolle karakters. Die voormalige grondeienaar, Dawid Fourie, oftewel Dawid Druiwe, maak deesdae grafstene. Daar is sy fotograaf-broer Outa en sy seun Jan-Vlok, ’n polisieman met ’n donker kant wat wrewelrig is omdat daar nie meer erfgrond is nie. Sy jeugvriend Klippies wens hy kan Bettie Rondganger genoeg beïndruk sodat sy haar kitaar net by hom sal staanmaak. Magdaleen, Lê-Oeg en Sunshine is almal reeds dood.

Die gebeure tydens ’n laaste afskeidsbraai voordat die plaas se oorspronklike inwoners Gatlek verlaat, bly spook regdeur die verhaal.

LEES OOK: ‘God wil ons seer vir liefde ruil’

Op ’n keer verduidelik Klippies aan Dawid: “Dalkies is die dood ’n duisend gedaantes, Druiwe. Soos mense verskil, so verskil hul oorgaan ook.”

Ek het onlangs met die skrywer gesels en hom onder meer gevra:

Hoe sou jy die roman in een sin opsom?

Dis ’n moderne plaasroman oor vergeet, maar ook oor onthou en hoe moeilik dit is om jou van jou verlede los te maak.

Hoekom het jy juis hiérdie boek geskryf?

Grond was nog altyd ’n tameletjie vir elke Suid-Afrikaner, dit maak nie saak aan watter kant van die draad jy jou bevind nie. Dis vandag nog meer so sedert die debat oor onteiening sonder vergoeding weer olie op die vuur begin gooi het. Dinge van ’n hond is ’n storie oor grond, oor die verlies daarvan en die nadraai van daardie verlies.

Hoekom juis nou?

Sal daar ooit ’n beter tyd wees om hierdie roman te lees? ’n Plaas word teen ’n belaglike prys deur die staat teruggekoop en kry nuwe eienaars. Baie gou is daar niks van ‘n eens suksesvolle onderneming oor nie. Dis ’n scenario wat so maklik ons voorland kan wees as ons nie versigtig met die huidige grondkwessie omgaan nie.

LEES OOK: ‘Kinders moet meer as die jongste oor TikTok weet,’ sê skrywer

Waar het jy navorsing gedoen? Ek dink byvoorbeeld aan die karakters wat op rommelhope lewe.

Eendag, baie lank gelede, het ek ’n draai by ’n stortingsterrein gemaak nadat die vuilgoedwa nie by my huis opgedaag het nie. Wat ek daardie dag gesien het, het nooit ophou spook by my nie. Die wete dat daar mense is wat só lewe, wat op dié manier ’n bestaan uit ander se wegskiet (probeer) maak, het my geprikkel. Dis nie bloot ’n losse kyk-en-gryp-gedoente nie. In daardie skynbare malligheid was ’n soort orde sigbaar, ’n manier van doen wat deur ’n stel eenvoudige reëls in stand gehou word.

Hoe hoop jy sal die boek mense raak?

’n Lewe op ’n stortingsterrein is nie hoe ’n mens, enige mens, behoort te lewe nie. Tog word daar op dié manier in ons land en, ja, ook in ander wêrelddele, ’n bestaan gemaak én oorleef. Hierdie is net ’n poging om sin uit die verskynsel, en daardie mense, te probeer maak.

Wil jy lesers deur die boek laat beweeg, of wil jy hulle eerder laat besin?

SP Benjamin

Ek sou reken die een is so goed soos die ander. Dinge van ’n hond vertel nie ’n maklike storie nie. Ons moet besef dat nie almal wat haweloos is en op straat leef of wat hulle in ’n plakkerskamp bevind noodwendig hierdie leefstyl verkies nie. Nie almal nie! Maar hoe sal ons ooit weet wat in ’n ander se kop aangaan as ons nie tyd daaraan afstaan om na mekaar te luister nie?

Vertel van een stukkie hoop wat in die boek vervat word.

Ons kou tans harde bene in hierdie land as gevolg van onbevoegde regeringsamptenare en die grootskaalse korrupsie wat net nie ophou nie. Dis die gewone mense wat aan die kortste end trek. In Dinge van ’n hond is dit nie anders nie. Ons lees van allerhande vergrype, en van geheime waaroor daar geswyg word. En tog is daar iemand soos Klippies wat nie in sy verlede vasgevang wil bly nie. Hy beur hinkepink vorentoe, op soek na ’n beter môre. Hy wil vergeet van die onreg op die plaas Gatlek waar hy grootgeword het en hy wil, te midde van sy omstandighede, liefhê. Hy wil vir hom ’n groentetuin aanlê met aartappels, pampoene, wortels en kool, en die vrug van sy arbeid met Bettie deel.

Klippies sê op ’n dag dat hierdie geskarrel op vullishope nie ’n maklike lewe is nie, maar dat jy maklik kan lewe as jy verstaan wat dit is wat jou gelukkig hou. Dis met hierdie uitkyk op die lewe dat hy elke nuwe dag groet.

Watter terugvoer het jy reeds ontvang?

Daar is ’n treffende lesersindruk by LitNet beskikbaar wat die storie baie akkuraat op dié manier opsom: “Dis nie net die sigbare rommel wat sneeubal nie. In elke mens se lewe is daar ’n asblik, aslorrie en “dumpsite”. Daar is nie ’n maklike manier om met hierdie aaklige waarheid om te gaan nie. Hierdie goed steek gewoonlik kop uit wanneer jy die minste gereed is daarvoor. Dinge van ’n hond het ook nie ’n regte tyd om gelees te word nie. Dis ’n vuishou wat lankal wag om te tref.”

Vertel iets oor die omslag.

Dis die besonder bekwame werk van Maryke Sutherland. Die saamgooi van beelde skets presies waarvoor ek gewens het: daardie gevoel van afstand doen en verlies. En daardie alomteenwoordige gewete, of hond.

  • Ongeveer 21 jaar gelede het Benjamin se kortverhaalbundel Die lewe is ’n halwe roman Dit het die Eugène Marais-prys gewen. Sy vorige roman, Die reuk van steenkool, het hom die Sanlam/De Kat-debuutprys in 1997 besorg.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img