Mianke, die perdefluisteraar, sien kans vir enigiets

“Die verhaal van ’n Karoonooi met downsindroom wat vir enigiets kans sien, selfs ’n boek – al kan sy self nie lees en skryf nie.”

Só verduidelik die voorbladteks van Mianke fluister vir perde en skryf ’n storie (Naledi) die soort verhaal wat jy in dié biografiese vertelling sal vind.

Brawe Karoonooi Mianke en die skrywer van haar boek Jan Bezuidenhout op hulle plaas Beestekuil in Hanover. Foto verskaf

Hierin vertel die oudjoernalis Jan Bezuidenhout die verhaal van die 27-jarige Mianke van den Hever van Hanover in die Karoo, deur grootliks haar eie woorde te gebruik.

Sy het ’n wonderlike gawe om met perde te werk, vertel Jan, en sy is haar pa se regterhand op die plaas Beestekuil.

LEES OOK: ‘Gebruik die Blou Feetjie om met kinders oor die dood te praat,’ sê Lizette Rabe

“Maar pasop, jy kan jou maklik met dié boerenooi misgis! Sy is vlymskerp, glad nie op haar mond geval nie, en sy kom met die pittigste kwinkslae na vore!”

Sy het by haar pa die name van plante soos “biltongbos” en “katdoorn” geleer. En dat ’n bees “anderster as ’n skaap” is – “met vier groot maagde: bossiepens, grasmaag, turksvymaag en sy eie groot maag”.

En, vertel sy iewers in die boek, “perde wys jou watter diere is lief vir jou”.

In die boek verskaf Jan ook inligting oor downsindroom, en oor die rol wat bepaalde organisasies speel om ouers te ondersteun. Mianke se ouers vertel oor die pad wat hulle sedert haar geboorte met hul dogter gestap het, en hoe hulle doelbewus haar lewe deur ervarings en belewenisse verryk.

ENGELA DUVENAGE het met Jan Bezuidenhout oor die boek gesels, en oor wat dit vir hom beteken het om daaraan te werk.

Hoe sou jy die boek in 25 woorde opsom?

Die aangrypende verhaal van ’n jong vrou met downsindroom wat ’n boek wou skryf, al kan sy self nie lees of skryf nie.

Die voorblad van Mianke se boek. Die foto is deur haar ma Linda aan Naledi, die uitgewers van die boek, gestuur. Mianke se treffende inkleurwerk is ook subtiel onderaan gevoeg.

Hoe het dit gebeur dat jy die boek geskryf het?

Ek en Mianke se pa, GP van den Hever, ken mekaar al baie lank. Hy het net meer as ’n jaar gelede ’n video aan my gestuur van ’n vrou wat ’n halter vir ’n perd in die veld aansit. Ek was verwonderd en het gedink sy is ’n perdefluisteraar. GP sê toe dis sy dogter, en hy vertel my van haar boek-droom. En hy vra of ek iemand ken wat kan help. So het die boek sy oorsprong gekry.

Hoe lank het dit geduur, en hoe het die skryfproses verloop?

Dit het so ses maande geduur om die boek te skryf. Ek het my onderhoude met Mianke eers neergeskryf en daarna met ander rolspelers gesels om meer oor hul siening van Mianke te hoor, asook oor downsindroom.

Hoe reken jy het jou loopbaan tot dusver jou op die skryf van hierdie boek voorberei?

Net soos Mianke het ek as oudjoernalis ook daarvan gedroom om eendag ’n boek te skryf. My leerskool was om berigte, stories en artikels te skryf wat uit feite bestaan. ’n Niefiksieboek sou nie maklik wees nie.

LEES OOK: ‘Gesinstyd met God is veral deesdae broodnodig’

Toe verskyn Mianke en haar droom op my pad. Sy wou ’n boek skryf, maar kon nie; ek wou ’n boek skryf, maar het nie geweet waaroor nie. En siedaar!

Wat het jy gedurende die skryfproses geleer?

Dis harde werk om ’n boek te skryf! Ook belangrik is dat ek my woordgebruik moes aanpas: Jy skryf of praat nie van ’n “gestremde mens” nie. Nee, dis ’n mens met ’n gestremdheid. As jy mooi daaroor nadink, maak dit nogal ’n verskil.

Vertel ’n staaltjie uit die skryfproses wat jou altyd sal bybly.

Mianke het die vermoë om dinge baie goed te beskryf. Verskeie mense met wie ek onderhoude gevoer het, het voorbeelde daarvan genoem. Ek het haar op ’n keer gevra of sy kan lees, en toe antwoord sy: “Ek lees met my oë, nie met my lippe nie.” Dié woorde het haar wêreld en dié van downsindroom vir my net oper gemaak.

Hoekom is dit belangrik dat die boek die lig gesien het?

Myns insiens wys die boek dat enigiemand wat ’n droom het dit kan najaag. Mianke se ouers, GP en Linda, het besluit om haar net soos haar drie ouer broers groot te maak. Sy word aangemoedig om dinge te doen. En, volgens GP, “om nie in die geel streep te ry nie”. Hopelik kan dit vir ’n leser, of enigiemand anders wat haar verhaal hoor, tot nut wees.

Reken jy dis ’n boek wat mense sal laat beweeg, of hulle laat besin?

Ek vertrou dit sal al twee wees. Dit was op die boekbekendstelling duidelik dat mense aangegryp is deur Mianke se verhaal, en dat dit talle se siening van downsindroom in ’n heel ander lig gestel het.

Vertel iets oor die voorblad.

Mianke se ma, Linda, het talle foto’s van Mianke aangestuur vir oorweging. Karen Cronjé van Naledi se ontwerpspan het op die spesifieke foto besluit. Karen het boonop baie gehou van Mianke se inkleurwerk en het dit subtiel onderaan die voorbladfoto aangebring. Die voorblad is vir my baie treffend.

Wat sê Mianke oor die boek?

Kort en kragtig: “Oulik, want ek mag nie awesome sê nie.”

Toe ek die eerste onderhoud met Mianke gevoer het, het sy reeds geweet hoe sy die boekbekendstelling wou hanteer: “Ek wil daar voor sit en mense se boeke teken.”

En sy het dit gedoen. Sy het haar naam in drukskrif voor in elke boek geskryf. Asook ’n prentjie, soos ’n hartjie of ’n “smiley face”, daarby geteken.

  • Volg Mianke op Instagram @miankevandenhever om van die foto’s wat sy neem te sien.
  • Jan Bezuidenhout is ’n Kapenaar. Hy was tot 2017 redakteur van Landbouweekblad se webwerf landbou.com.
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img