Moenie dat vrees jou vreugde steel nie

DEUR SIMONE GAUCHE

Ek het onlangs by die skrywer Brené Brown gelees van die onheilspellende emosie wat saam met blydskap by ons kan opdaag: die angs wat ons, paradoksaal, beetpak in ’n oomblik van uitbundige vreugde.

Eintlik ken ons dit goed. Dis daardie gevoel van “dis te goed om waar te wees”. Jy sit en wag eintlik vir iets om skeef te loop, want alles kán tog nie so perfek wees nie. Buitendien: Ek verdien dit mos nie …

LEES OOK: #covidkinders:‘My groot vrees is nie Covid-19 nie’

Só lyk dié soort vrees: Jy is bang jou vreugde is van korte duur. Jy is bang dat die onvermydelike oorgang na teleurstelling of hartseer vir jou te moeilik gaan wees om te hanteer. Jy is bang vir wat die toekoms inhou. Jy is daarvan oortuig dat jy nie vreugde verdien nie; daarvoor het jy eenvoudig te veel tekortkominge.

In jou kwesbaarste oomblikke

Hierdie vreesagtigheid-te-midde-van-vreugde oorval jou gewoonlik wanneer jy op jou kwesbaarste is. Dink byvoorbeeld aan:

*wanneer jy by jou baba se bedjie staan en sien hoe vreedsaam sy lê en slaap;

*wanneer jy erken hoe lief jy jou eggenoot het;

*wanneer jy jou werk geniet en dankbaar voel daarvoor;

*wanneer jy sien hoe lekker jou ouers met jou kinders speel;

*wanneer jy uitvind jy is swanger;

Onmiddellik ná hierdie gewaarwordinge volg daar ’n oomblik waarin jy die slegste moontlike gevolg verwag. Laasgenoemde kom gewoonlik tot uiting in die vreesaanjaende gedagte dat hier ’n onvermydelike tragedie kom, ’n natuurramp, ’n aanval, ’n fratsongeluk, ’n gevreesde siekte.

Jy sien voor jou geestesoog ’n wiegiedood, ’n geliefde wat verongeluk, jou aflegging by die werk, jou ouers wat ernstig siek word.

LEES OOK: Herprogrammeer jou brein met God se hulp

Jy voer as ’t ware die tragedie in jou gedagtes op. Jy “oefen” solank ter voorbereiding van dié erge ramp. Jy wil nie onverhoeds betrap word nie.

Maar vra nou enigeen wat al so ’n soort tragedie oorleef het, en jy sal hoor dat niks jou daarop kan voorberei nie.

Jy mors dus jou tyd, jou energie. Jy mors die mooi oomblikke wat aan jou geskenk word.

Dit sal jou regtig baat om eerder die goeie te geniet en daardie goue oomblikke te omhels.

Hoe skei jy die onheilsgedagtes van die vreugde?

Hier is ’n klompie wenke:

* Kweek dankbaarheid. Skaf byvoorbeeld ’n dankbaarheidsjoernaal aan. Verskuif doelbewus jou fokus na dankbaarheid vir alles wat jy ontvang het – die mense in jou lewe, die dinge in jou huis, die kosbare oomblikke in jou dag.

* Moenie wegskram van vreugde bloot omdat dit iemand anders nie beskore is nie. Moenie jou blydskap oor jou kind opskort omdat jou vriendin nie kan swanger raak nie of omdat sy ’n kind verloor het nie. Waardeer opnuut wat jy ontvang het en moet dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Vier dit!

*Besef dat vreugde in die alledaagse na jou toe kom. Jy gaan dit misloop as jy voortdurend die buitengewone verwag of najaag.

* Ervaar jou vreugde bewustelik en heelhartig. Omhels die oomblik. Só word vreugde ’n deel van wie jy is. Wanneer die slegte wel opdaag, is jy ’n sterker mens en kan jy dit beter hanteer.

* Herken die weerlose tye wanneer allerlei vrese jou oorval. Laat dit verbygaan, en sê dankie dat dit net tydelik is.

* Besef dat vreugde nie afhanklik van jou omstandighede is nie. Blydskap is ’n geestelike manier om in hierdie wêreld te leef en te oorleef.

Wat sê die Woord?

Ek dink nie dit was ooit die Here se bedoeling dat vreugde en vrees langs mekaar moet bestaan nie.

LEES OOK: Wanneer jy worstel …

Wanneer Jesus aan sy volgelinge verklaar hoe lief Hy hulle het, sê Hy onder meer: “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees” (Joh 15:11).

Die psalmdigter het dit eeue gelede reeds gesnap: “U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is” (Ps 16:11).

En wanneer Paulus oor die vrug van die Gees skryf, neem vreugde ’n ereplek in – tussen liefde en vrede (vgl Gal 5:22).

Ek voeg dus my mooiste vreugdewense vandag aan elkeen wat hier lees, by Paulus se seëngebed: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom 15:13).

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img