Tuesday, June 22, 2021

Moet tog nie vergelyk nie!

DEUR SIMONE GAUCHE

“Om te vergelyk, steel vreugde,” is ’n gesegde wat aan pres Theodore Roosevelt toegeskryf word. Hoekom hou ons dan so baie daarvan om ons met ander mense te vergelyk?

Is dit dalk omdat ons geskape is om in verhoudings te staan? Omdat ons betekenisvolle verbintenisse wil vorm en dan na raakpunte soek?

Ons almal weet tog dat dit dom is om ons met ander mense te vergelyk, dit doen ons geen guns nie. Want daar is gewoonlik een van twee dinge wat ná die vergelyking gebeur: Óf ons voel minderwaardig, óf ons sien op die ander neer. In al twee gevalle is dit so onnodig. Ons reis verloop tog verskillend van daardie mense s’n. Ons roeping is anders.

LEES OOK: Mamma, wie hou jou arms in die lug?

Die Bybelverhale leer ons dat om vergelykings te tref hartseer bring. Kaïn het hom byvoorbeeld met Abel vergelyk. Josef se broers het hulle met hom vergelyk. Jakob en Esau se jare lange stryd spruit ook uit jaloesie voort, uit vergelykings tref.

Ons leer nie. Ons vergelyk ons daagliks met ander mense. Ons vergelyk ons met wat ons in die media sien. Dan gebeur dit dat ons dikwels ons slegste oomblik of dag met iemand anders se hoogtepunt vergelyk. Dit laat ons minderwaardig voel, selfs onwaardig.

Ons vergelyk ook gereeld die hede met die verlede. Ons praat graag van die “goeie ou dae” … Ja, in plaas daarvan om te fokus op wat ons het, is ons behep met wat ons verloor het.

As ons maar sal leer …

… ons kan ons nie met iemand anders vergelyk nie, omdat ons uniek is. Omdat ons roeping verskil van dié van die ander persoon.

… ons kan nie ons kinders met ander kinders vergelyk nie, omdat hul persoonlikheid en talente van ander kinders s’n verskil.

… ons kan ons mawees nie met ander mammas s’n vergelyk nie, omdat ons kinders en ons omstandighede van ander mammas s’n verskil.

… ons kan nie ons eggenoot met iemand anders s’n vergelyk nie, ook nie met onsself nie, omdat mense se sterk- en swakpunte van mekaar s’n verskil, omdat ons mekaar moet aanvul.

Daar is drie dinge om te onthou sodat jy nie in die vergelyk-strik trap nie:

Een: Herinner jouself gereeld daaraan dat God jou uniek gemaak het. Jy het ’n bepaalde persoonlikheid, talente en sterkpunte. Dit alles rus jou toe met die oog op die doel waarvoor Hy jou geskape het. Jy behoort aan Hom. Jy is genoeg. Jou lewe en jou reis beteken iets.

Twee: Herinner jouself gereeld daaraan om dankbaar te wees. Dankbare mense het geen behoefte daaraan om hulle met ander te vergelyk nie. Dankbaarheid kweek vergenoegdheid.

Drie: Ontwikkel diensbaarheid. Dienaars het nie tyd om hulle met ander te vergelyk nie; daar is ander, beter, dinge om te doen. Onthou jy nog wat gebeur het toe die dissipels onder mekaar gestry het oor wie die belangrikste in God se koninkryk is?

LEES OOK: Overbergse boer sê sy geloof dra hom deur verlies, uitdagings

“Jesus het hul bymekaar geroep en gesê: ‘As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.’ Toe het Hy ’n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om die kind gesit en vir die grootmense gesê: ‘Elkeen wat so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het. Wie die minste onder julle almal is, hý is groot. By die nasies is dit so: Konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. Wie is die belangrikste: Die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien.’”

Mag die Here gee dat ons ons tog in hierdie dae sal weerhou van vergelykings tref. Dat ons ons waarde as sy skepsels sal raaksien, dat ons deurlopend dankbaar sal wees, dat ons in nederigheid diensbaar wil wees.

En as jy jou dan met iemand anders móét vergelyk, vergelyk jou met Jesus. Met Hom wat homself arm gemaak het sodat jy ryk kan wees.

Gaan kyk in die Bybel

Matteus 18:1-5;
Markus 9:34-37;
Lukas 22:24-30;
Lukas 9:46-48.

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die hoeksteen vorm vir ’n gesonde, gelukkige gesin met gesonde, gelukkige kinders.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img