“Gewoonlik is my dagboek vol met optredes teen dié tyd van die jaar. Maar nou is daar maar net drie of vier vir 2021.”

Só sê Jacques de Villiers, oftewel die sanger Joshua na die Reën, op Facebook. 

Foto verskaf

Hy skryf ook: “Ek is onseker oor wat om te doen, ek plaas dit hier omdat ek graag deursigtig wil wees en nie net maak of alles okay is nie. Ek gaan vir ‘n jaar lank iets anders doen om vir my gesin te sorg.” 

Hoewel sterftes en siek geliefdes duisende Suid-Afrikaners se gedagtes tans oorheers, is daar ook ander “klein” bekommernisse.

LEES OOK: Angs, my meedoënlose metgesel

“Ek dink elke musikant en kunstenaar in die land staan met die onsekerheid vir wat die jaar inhou. En dis ’n klein bekommernis as ek dit vergelyk met wat baie mense op die stadium deurgaan wie se geliefdes siek in hospitale lê,” het Jacques verder gesê.

Intussen het mense se “mooi boodskappe” Jacques se hart geraak en het hy geskryf dat hy nooit sal ophou musiek maak nie. Daarom bied hy in 2021 privaat optredes, liefdjieskryfkursusse, klavierlesse, opleiding vir skoliere en musiekgroepe aan.

Jacques het verder vertel: “Hierdie lewe is vir ons baie werd, en dis hoekom hierdie tyd so swaar is. Maar ek wil nie nét in die swaar vaskyk wanneer daar ook die mooi om ons is nie.

“Wat ek wel weet, is dat ek steeds wil soek na die oomblikke wat lewe bring, en die bome en die wolke en die reën inneem, met my kaalvoete op die grond staan en voëltjies hoor sing wanneer die son in die oggend sy soentjies op my wang los.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail