Sunday, July 25, 2021

My aftrede: Sal ek dit finansieel oorleef?

Aftrede en pensioen is twee onderwerpe wat vir vele Suid-Afrikaners ál belangriker word, want dis ’n feit dat ’n groot deel van die bevolking die sogenaamde aftree-ouderdom nader. Én dat baie wonder of hulle dit finansieel sal oorleef.

DEUR CHRIS HARMSE

Hier onder volg ’n klompie wenke vir gesonde finansiële beplanning. Die eerste deel fokus op persone wat nog nie afgetree het nie, en die tweede op diegene wat reeds afgetree is. Dis in alle gevalle belangrik dat jy ’n finansiële beplanner het wat na jou finansiële sake, aftrede en boedel omsien.

Bewaar al jou belangrike dokumente in ’n lêer, ongeag of dit elektronies of in harde kopie is. Jou bankrekening(e) met die toepaslike PIN’s moet daarin wees, asook jou testament, huweliksvoorwaardekontrak, jou beleggingskontrakte, lewensversekeringskontrakte en polisse. En alle dokumentasie wat vir jou naasbestaandes van belang is.

As jy bang is dat jou PIN’s kan uitlek, hou ’n elektroniese dokument by, met ’n wagwoord wat slegs aan ’n betroubare persoon bekend is.

VOOR AFTREDE

WENK 1 Jou testament

Maak seker dat jy ’n testament het wat deur ’n kundige opgestel is. Wees versigtig vir instellings wat jou ’n “gratis standaardtestament” beloof. Die meeste finansiële beplanners stel ’n testament kosteloos op, of baie goedkoop, as deel van die finansiële beplanning wat hulle vir jou doen.

LEES OOK: Ek verdien ’n groter salaris as my man …

Dis belangrik om ’n eksekuteur aan te stel wat jou omstandighede goed ken. Dit kan ’n familielid wees, of ’n goeie vriend of vriendin.

Hersien jou testament gereeld.

WENK 2 Lewensversekering en mediese fonds

Lewensversekering is een van die goedkoopste maniere om voorsiening vir jou geliefdes te maak, veral as jy die broodwinner is. Hoe vroeër jy lewensversekering uitneem, hoe beter. Hersien die polis(se) gereeld, aangesien daar dikwels nuwe produkte op die mark verskyn wat goedkoper en beter dekking verleen.

Sorg dat jy aan ’n mediese fonds behoort, al is dit bloot ’n hospitaalplan. Die standaard van hospitaalsorg by staatsinstellings bly onder verdenking. Bekostigbare gapingsdekking (“gap cover”) is ook ’n baie goeie opsie. Probeer om jou mediese spaarrekening op te bou, sodat jy by aftrede meer kontant tot jou beskikking het.

WENK 3 Stel ’n begroting op en hou ’n noodfonds

Stel ’n maandelikse begroting op, en deel dit met die gesin. Daar moet vir ’n noodfonds voorsiening gemaak word. Probeer om te alle tye die ekwivalent van een maand se salaris in so ’n fonds beskikbaar te hê. Daar is geldmark- en/of inkomsteprodukte beskikbaar waarin jy so iets kan belê, en wat jou beter rente as ’n lopende rekening of ’n gewone spaarrekening sal bied.

WENK 4 Spaar vir aftrede

Hoe gouer en vinniger jy vir jou aftrede kan spaar, hoe beter. Daar is verskillende beleggingsprodukte. ’n Gewilde en maklike manier is ’n annuïteit. Só belê jy in ’n private pensioenfonds.

Dit het ook ’n groot belastingvoordeel wat jy kan benut solank jy daartoe bydra. Die maksimum belastingaftrekking is 27,5% van jou belasbare inkomste, tot R350 000 per jaar, en voor die insluiting van kapitaalwinsbelasting.

’n Verdere voordeel wat ’n annuïteit bied, is dat jy op die dag wat jy uit die fonds tree die eerste R500 000 daarvan belastingvry kan onttrek. Die res word in ’n lewende annuïteit belê. Indien jy verkies om nie die R500 000 te onttrek nie en dit eerder verder te belê, is dit vrygestel van inkomstebelasting.

LEES OOK: Covid-planmaker: Kameraman laat nou die wiele rol

Jou inkomste op die lewende annuiteit is belasbaar. Maar as jy bo 65 is, is die belastingkoers veel laer. Wanneer jy 75 word, is dit nog laer.

WENK 5 Doen finansiële beplanning

Finansiële beplanning kos jou niks. Finansiële beplanners verdien wel ’n fooi ten opsigte van die lewens-, mediese en beleggingsprodukte wat jy kies. Dis die standaardfooi in ruil vir die diens wat gelewer word.

Maak seker dat jy jou finansiële beplanner minstens een keer per jaar besoek. Hy/sy moet aan jou kan verduidelik wat die stand van jou annuïteit of ander spaarprodukte is, en waarom. Vra jou af: Bring die beplanner die nodige aanpassings op jou portefeulje aan? As jy nie tevrede is nie, klop by ’n ander een aan.

Laat die finansiële beplanner ’n boedelbeplanning doen. Maak seker daar gaan genoeg geld wees om die boedel te laat beredder as jy vroeg sou sterf, sonder om dalk eiendomme te moet verkoop om boedelbelasting en beredderingskoste te verhaal.

Ná aftrede

WENK 1 Maak seker jy leef nie bo jou vermoë nie

Jou aftreegeld sal waarskynlik tussen tien en twintig jaar en selfs langer moet hou. Die algemene riglyn is dat jy nie meer as R7 000 per maand moet onttrek vir elke R1 miljoen wat belê is of wat vir pensioen beskikbaar is nie. Indien jy dié bedrag oorskry, is die kanse goed dat jou pensioen se kapitaalwaarde sal verminder.

WENK 2 Boedelbeplanning

Statisieke wys dat die lewensverwagting vir mans laer is as dié vir vroue. Maak seker daar is ’n finansiële plan indien een van die gades sterf. Maak eweneens seker jy het genoeg kontant beskikbaar om die boedelkoste te kan dek. Maak seker van ’n begrafnisplan.

WENK 3 Mediese koste

Mediese koste gaan jou belangrikste en waarskynlik die grootste onkoste wees. Baie afgetredes kan nie ’n mediese fonds bekostig nie. Daarom is dit belangrik om op ’n vroeë ouderdom ’n spaarplan uit te neem wat jy vir die finansiering van ’n mediese plan kan gebruik. Baie mense gebruik die geld wat hulle vir hul kinders se skool- en universiteitsuitgawes gebruik het vir so ’n plan.

  • Dr Chris Harmse is ’n ekonoom en finansiële beplanner by S3 Capital Finansiële Beplanners. Hy beantwoord graag lesers se navrae. Kontak hom by Chris@s3capital.co.za of 083 273 5583.
  • Dié artikel het oorspronklik in die 2021-winteruitgawe van die gedrukte LiG verskyn.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img