‘My Bibi se stilgeboorte bring nou hoop vir ander’

DEUR ANDA GROBBELAAR

Ek wil graag my storie met jou deel. Dit gaan oor hoe ek en my gesin ’n traumatiese belewenis te bowe kon kom.

Ná die stilgeboorte van Bibi (Anelda Grobbelaar) op 1 Augustus 2001, was klein Lané (sy was destyds drie jaar oud) baie kwaad omdat ek sonder haar “Sonneblom” huis toe gekom het.

“Sonneblom” was die naam wat sy vir haar sussie gekies het. Dit was hartverskeurend, dié kind se onbegrip. En ek wou haar vashou, maar sy wou nie vasgehou word nie.

Dit was ’n ellendige tyd, maar my wonderlike man en ons vriende het so goed na my omgesien dat ek besef het dat ek nie kan toelaat dat ek in ’n donker depressie-gat versink nie. Ek het myself gedwing om elke dag na iets moois te soek.

Mamma glimlag weer

Dit het daartoe gelei dat ek vir Lané die verskillende kleure in die natuur begin wys het. Ek het haar gewys hoe die lug van kleur verander. En wanneer ’n nuwe blomknop verskyn, het ons opgewonde gewag dat die blom oopgaan.

LEES OOK: ‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Wanneer ons soggens wakker word, het ons uitgeroep: “Goeiemôre, wêreld!” Dan het ons die blindings oopgeskuif om te sien watter soort dag God aan ons gegee het. Ongeag die weer, het ons ​​Hom vir die nuwe dag gedank.

Lané se tekening. Foto verskaf

Lané het uiteindelik haar woede vergeet en my op haar eie manier probeer vermaak. Sy het in dié tyd ’n prentjie geteken wat tot vandag toe my waardevolste besitting is. Dit wys hoe ek lang trane huil omdat my babatjie dood is … maar Mamma glimlag weer as sy vir Lané sien.

 

Kraamverlof in ons land laat toe dat mammas wat ’n miskraam of ’n stilgeboorte beleef het ses weke lank by die huis kan bly. In daardie tyd was my vriendin Jansie ’n wonderlike teenwoordigheid in my lewe. Sy het nooit “nee” vir ’n antwoord aanvaar wanneer sy besluit het dis tyd om te gaan inkopies doen of tee te drink nie.

Ons is tot vandag toe vriende en ek is baie lief vir haar.

’n Einde, en ’n nuwe begin

Dit was moeilik om terug te keer werk toe, want dit het gevoel of almal na my kyk. Net kyk, sonder om iets te sê. Dit was asof hulle hartseer was, maar nie met my wou praat nie en my eerder wou vermy. Dit het seergemaak, want ek het iets anders verwag: sensitiwiteit, ja, maar ook ondersteuning.

Die maatskappy se besturende direkteur het boonop gesê as hy in my situasie was hy nooit sou terugkom werk toe nie; ek moet dalk eerder by die huis bly, by my “lewende kind”. Dit was woorde wat ek nooit sal vergeet nie.

My en my werk se paaie het uiteindelik uit mekaar geloop – en dit is hier waar my reis eintlik begin het.

Ek het baie met die Here baklei oor Bibi wat van ons weggeneem is. En toe het Hy my nog ’n dogter gegee, Andele. Uiteindelik het Lané toe tog haar “Sonneblom” gekry …

My man en ek doen moeite om by ons kinders se lewe betrokke te wees. Ons maak beurte om hul swemklasse, hul kooroptredes, hul hokkie- en netbalwedstryde en skouspringklasse en -kompetisies by te woon.

Bibi se storie

Intussen het ek ’n hele klompie boeke oor hartseer en verlies gelees, en ek het besef dat sommige mense dalk nie weet hoe om met iemand te praat wat diep trauma deurgemaak het nie.

Dit was in vele opsigte ’n “aha!”-oomblik. En ek het besluit om Bibi se storie neer te skryf. Só wou ek mense help om woorde te vind om ander se hartseer te hanteer. Maar ook om hul eie seer te konfronteer.

Toe Lané agt jaar oud was, het sy eendag van die skool gekom, baie opgewonde. “Kan ons nie Bibi se verjaardag met ’n engelpartytjie vier nie?” wou sy weet. Haar plan was dat ons al die geskenke wat ons vir Bibi sou gee, aan die hospitaal se kankereenheid vir kinders skenk.

Dit was 16 jaar gelede – en ons doen dit steeds, elke jaar! Ek dink ek het die wonderlikste dogter ooit grootgemaak …

Bibi se storie het reeds die lewe van minstens 150 ma’s geraak; hulle het almal Bibi se storie soos ek dit geskryf het, gekoop. Dié voorreg is vir my veel meer werd as goud.

Ek kry wonderlike terugvoer oor wat Bibi se storie vir ander beteken. Mense vertel hulle kry dit nou reg om uiteindelik aan hul diepste emosies uiting te gee. Al het hulle dit jare lank weggesteek. Hulle vertel ook dat hulle geleer het om dankbaar te wees te midde van hul hartseer. Die manier waarop ons elke jaar Bibi se verjaardag vier, help hulle daarmee.

Ek het met verloop van tyd verskeie kursusse voltooi. Dis vir my die grootste, kosbaarste voorreg denkbaar om mense te help wat ’n rouproses deurmaak. Ek doen dit reeds die afgelope 16 jaar.

MY RAAD:

‘Net vir vandag’

Besluit om vandag gelukkig te wees, om saam te leef met wat joune is – jou gesin, jou sakeonderneming, jou werk, jou geluk. As jy nie kan hê waarvan jy hou nie, kan jy dalk hou van wat jy het.

Wees vandag vriendelik, vrolik, aangenaam. Gee om en toon begrip.

Wees vandag die beste wat jy kan wees, trek jou beste aan. Praat sag, soek die blink kant van alles wat jy beleef. Prys mense vir wat hulle doen; moet hulle nie kritiseer vir wat hulle nié kan doen nie. As iemand iets doen wat vir jou dom lyk, vergewe en vergeet. Dis immers net vir een dag.

En wie weet, vandag kan dalk net ’n lekker dag word.

My boodskap is dit: Daar is lewe ná hartseer. Hartseer kan jou tot stilstand ruk en jou net daar laat, of hartseer kan jou laat groei. Die keuse is joune.

  • Anda Grobbelaar werk as ’n menslikehulpbronne-konsultant vir verskeie maatskappye in Kaapstad. Sy is dankbaar vir haar wonderlike man en hul twee dogters, Lané (23) en Andele (17).
  • Bestel Bibi’s story hier.

 Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

#2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

DEUR ADRI COETZEE So breek my eerste chemoterapiesessie aan. Teen die muur in die onkologie-afdeling staan dié teksvers geskryf: Neh...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img