My Covid-dagboek #1: ‘Van griepsimptome na Covid-19-positief na ’n ventilator’

DEUR ANNA-LEE BOTHA

Op 8 Junie 2021 is ek dokter toe omdat ek griepsimptome gehad het. Sy het my vir ’n Covid-19-toets gestuur. Ek werk van die huis af, die kinders word tuis onderrig, ons het ons maskers op as ons moet uitgaan, ons ontsmet alles en doen dit gereeld. Ons gaan nie baie winkel toe nie, en ons sosialiseer baie min met familie en vriende.

Maar op 9 Junie kry ek die oproep van my dokter af: “Jy is Covid-19-positief.” Ek was stomgeslaan. En ek was bang, want ek sukkel met asma.

My simptome was elke dag anders. Een dag voel ek amper gesond, die volgende dag is ek baie siek. Ek het nie koors gehad nie maar wel baie erge kouekoors. Tydens die kouekoorsaanvalle was my vel baie sensitief en my hande soos ys.

Teen Dag 7 was ek so swak dat ek skaars kon loop. Ek was uitasem bloot as ek praat of ’n entjie stap. Ek het aan my man gesê ek dink ek moet hospitaal toe, en ons het my tassie gepak.

Ek het gedink dit sal so twee of drie dae duur. Ek kon nie my kinders, onderskeidelik nege en twaalf jaar oud, soen of druk nie. Ek moes hulle van ver af groet.

LEES OOK: My Covid-dagboek #2: ‘Ek het Bybelverse opgesê en lofliedere gesing’

Ons is na die hospitaal se trauma-eenheid – waar daar aan ons gesê is om na die ambulans-ingang te gaan, dis waar hulle Covid-19-pasiënte opneem. Dis ’n groot hek, daar is ’n donker tonnel. Ons het enkele minute daar gestaan en wag voordat ’n verpleegsuster my kom haal het. My man is nie binne toegelaat nie en ek moes daar buite tot siens sê. Die asemnood was so erg dat dit ’n vinnige afskeid was …

Ek is in ’n klein kamer op ’n traumabed geplaas. Hulle het dadelik begin om suurstof toe te dien en my te monitor. My suurstofvlakke was laag, byna té laag. Hulle het bloed getrek, X-strale geneem en ’n RTT-skandering (“CAT-scan”) gedoen. Ek was bang, alleen en onseker oor wat op my sou wag.

Anna-Lee Botha en haar gesin. Foto: Verskaf

Die uitslae het gekom en uitgewys dat my longe erge inflammasie opgedoen het, daar was littekens. Die bloedtoetse het aangetoon dat my infeksietelling ongeveer 270 is (dit moet eintlik 5 wees).

Nou het die opnameproses voorgelê. Ek moes ongeveer vier ure wag voordat ek na die Covid-19-saal verskuif is.

Die Covid-19-saal, sien ek toe, word deur ’n dik rooi lyn op die vloer van die ander sale geskei. Enigeen wat oor die rooi lyn moet beweeg, word ontsmet en trek dan die nodige beskermende kleredrag aan. Daar is ook deurskynende plastiekgordyne wat van die dak af hang.

Ná drie dae se medikasie en suurstof het ek begin beter voel, my energievlakke het verbeter. Maar toe, as gevolg van te veel beweging, het ek weer begin hoes. Daar het bloed uitgekom. My bors en my rugspiere was baie seer. Die dokter het gesê ek het Covid-19-longontsteking en hy het my medikasie aangepas.

Ek mag nie alleen badkamer toe gegaan het nie; die suurstofvloei mag nie onderbreek word nie. Dit het beteken ek moes elke keer vir ’n verpleegkundige wag om ’n suurstofsilinder te bring en saam te stap badkamer toe. Ek het gevra of dit moontlik is om ’n langer suurstofpyp te kry sodat ek kon badkamer toe gaan sonder om ’n silinder te hoef saam te sleep.

LEES OOK: My Covid-dagboek #3: ‘Ná 47 dae … hou ek weer my kinders vas’

Die nuwe medisyne het begin werk. Die dokter het stelselmatig my suurstofvloei verminder. Ná ’n paar dae was die suurstofvloei maar 6%, die masker is verwyder en daar is pypies in my neusgate geplaas.

Maar eensklaps het my suurstofversadiging na 78 verminder. Die ideale syfer is 95 of hoër. Op 24 Junie is die suurstofmasker teruggeplaas, en ek het die maksimum-suurstoftoediening ontvang.

Vanselfsprekend was ek weer baie moeg, ek het siek gevoel, ek het geen energie gehad nie. Die dokter het verduidelik dat dit Covid-19 se manier is – op en af. Jy voel een of meer dae goed, en dan word jy skielik weer baie siek. Dit kan maande lank so voortduur. Hy het ook gesê dat ’n mens se longe soms net ’n bietjie langer nodig het om van die inflammasie ontslae te raak.

Maar op 26 Junie was die maksimum-suurstoftoediening nie meer voldoende nie. Ek is na die hoëvloei-saal toe verskuif waar die pasiënte tot 60 liter suurstof kan ontvang. Die masker is verwyder en ’n baie groot, dik pyp is in my neus geplaas.

Op 27 Junie het ek gesukkel om asem te haal. My suurstofversadiging was in die lae 70’s. Die dokter het voorgestel dat ek na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas en aan ’n ventilator gekoppel word. Ek het dadelik ingestem, dankbaar, omdat dit vir my duidelik was dat ek nie lank meer self sou kon asemhaal nie. Ek was so swak en my asem so vlak dat ek nie my man of kinders kon bel nie. Ek kon net ’n vinnige WhatsApp-boodskap stuur om te sê ek word na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas. En dat ek baie lief vir hulle is.

Die dokter het my later vertel dat ek net betyds ingestem het om aan die ventilator gekoppel te word. As ons langer gewag het, sou my suurstofvlakke só gedaal het dat my organe beskadig kon word.

Ek het geleer dat die dokter niemand kan dwing om aan ’n ventilator gekoppel te word nie. Omdat pasiënte bang is vir die ventilator, neem hulle te lank om te besluit.

Ek het later verneem dat, nadat ek so benoud begin voel het, dit drie ure geduur het om my by die intensiewesorgeenheid te besorg. Hulle het glo met my in die gange af gehardloop na die eenheid toe. Dit was baie besig daar, maar tot tien verpleegkundiges het daar op my gewag. Ek is op die bed oorgetel en hulle het aan die werk gespring. Een het ’n kleinerige masker op my gesig geplaas wat net my neus en mond bedek het. Daar het so baie suurstof deur dié masker gevloei dat my wange behoorlik bol gestaan het! Nog ’n verpleegster het begin om my van my klere te stroop. ’n Ander een het ’n kateter ingesit.

LEES OOK: ‘Dit voel asof ek my een been en my een arm verloor het,’ sê Covid-weduwee oor haar ‘Oukie’

Ek onthou net dat ek daar gelê en bid het. Dat ek met die Here gepraat en vir Hom gesê het hoe bang ek is. Dat ek Hom graag sal wil ontmoet, maar dat ek nou eers die lewe kies. Ek het twee jong kinders wat ek wil sien grootword, daar is so baie wat ek nog wil doen.

Ek weet ek is verdoof sodat hulle my aan die ventilator kon koppel. Ek onthou  hoe een verpleegster oor my hare gevryf en gesê het: “Don’t worry, sweetheart, we’ve got you.”

Hulle het my man gebel om my te kom groet. Hulle was nie seker of ek dit sou oorleef nie. Ek het later gehoor dat toe ek by die intensiewesorgeenheid aanland, my suurstofversadiging van 70 na 47 gedaal het.

My man vertel hoe hy my op my maag sien lê het, gekoppel aan ’n masjien wat vir my asemhaal. Ek het geen lewe getoon nie, geen reaksie nie.

Deur God se genade het ek aan die lewe vasgeklou. My liggaam het positief op die medikasie gereageer. Ek onthou niks – behalwe God se teenwoordigheid. Ek het later verneem daar was honderde mense wat vir my gebid het. Vandag wil ek vir elkeen sê: “Baie dankie vir jou gebede!”

NOTA: Dit was vir my gesin baie moeilik om inligting oor my vordering te bekom. My man het ná ’n ruk geleer dit werk die beste om met die suster te praat wat na my omsien. Sy weet wat met haar pasiënt aan die gebeur is.

* Anna-Lee Botha is 42 jaar oud en woon in Middelburg in Mpumalanga. Sy vertel hier van haar 45 dae lange geveg teen Covid-19-longontsteking. Sy sê sy deel dit met LiG-lesers om God te verheerlik, om alle eer aan Hom te bring vir die tweede kans op lewe wat Hy haar gegee het. Daarby hoop sy haar dagboek kan lesers ’n idee gee van wat tans in ons land se hospitale gebeur. Hopelik, sê sy, kan mense wie se geliefdes in die hospitaal is op dié manier iets leer, juis ook omdat hulle hierdie soort inligting dalk nie op ’n ander wyse in die hande kan kry nie.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img