My Covid-dagboek #2: ‘Ek het Bybelverse opgesê en lofliedere gesing’

DEUR ANNA-LEE BOTHA

Ek was eers weer op 5 Julie wawyd wakker. My suurstoftoevoer is na 40 liter verminder, en die druk wat die masjien gebruik om suurstof na my longe te stuur, is van 15 na 14 verminder. Alles is stelselmatig gedoen om te verseker dat daar nie weer ’n terugslag kom nie.

My hande was aan die bedrelings vas. Dit was om te verhoed dat ek die ventilatorpype onbewustelik uitruk. Die vasgebinde hande was baie frustrerend, want ek kon nie praat nie en ek moes deur middel van handgebare kommunikeer.

Ná ’n ruk het ek geleer om te wys ek wil skryf. Ek het ’n skryfbord en ’n pen gekry, en my een hand is losgemaak. My eerste skryfpoging was … ’n C met drie kolletjies. Ek het vergeet hoe om te skryf! Ná ’n groot gesukkel het ek egter weer behoorlik begin skryf en ek kon op dié manier aan die verpleegsters sê wat ek nodig het.

Die dae en nagte in die intensiewesorgeenheid is lánk. Ek het deur donker tye vol angs gegaan en soms paniekerig geword. Ek het vir kalmeerpille gevra, en slaappille. Dit het my gehelp.

LEES OOK: My Covid-19-dagboek #1

Dis in dié tyd dat ek geleer het watter rol ’n mens se brein en jou gemoedstoestand speel terwyl jy besig is om gesond te word. Ek het trouens geleer jou brein kan óf jou beste vriend óf jou dodelikste vyand wees.

As jy angstig of paniekerig word, klop jou hart vinniger en moet die longe harder werk. Dit is dus ontsettend belangrik om jou gedagtes te probeer beheer, om kalm te bly. Dis wel baie moeilik om dit reg te kry wanneer jy in die intensiewesorgeenheid lê. Jy slaap nie baie nie, want daar is voortdurend iets wat in jou onmiddellike omgewing gebeur. Jy word om 02:00 wakker gemaak sodat die personeel jou op jou sy kan draai om room te smeer. Dit voorkom bedsere. Daar is elke uur iemand by jou om die statistieke by te hou en te monitor. Elke vier ure is bloed uit ’n slagaar getrek om die suurstofvlakke na te gaan. Dit geskied deur ’n arteriële lyn wat in my linkergewrig se slagaar geplaas is, en dit het die bloed trek makliker en vinniger gemaak. Aan jou vinger is ’n toestelletjie wat die suurstofversadiging deurentyd dophou. En om 05:00 word al die ligte aangesit. ’n Nuwe dag het aangebreek.

Anna-Lee Botha en haar gesin. Foto: Verskaf

Daar was baie siek mense om my wat erg gehoes het. Gereeld hoor jy iemand benoud roep, daar is mense wat hyg dat hulle nie asem kry nie. Ek het gelê en luister hoe pasiënte weier om deur die dokter of verpleegster gehelp te word omdat hulle êrens gehoor het dat die medisyne nie werk nie. Ander het volstrek geweier om aan ’n ventilator gekoppel te word omdat hulle gehoor het dat ’n ventilator nie vir hulle goed sal wees nie.

Ná ’n ruk hou hul hoesery op. Die gordyne om die bed word toegetrek …

Ek het altesaam 17 nagte in die intensiewesorgeenheid deurgebring – eers in die mediese eenheid en daarna, omdat ek nie meer as Covid-19-positief beskou is nie, in die chirurgiese eenheid. Omdat ek so lank stil gelê het, het my spiere verswak. Die fisioterapeut sê dat elke 24 uur se stil lê jou spiere swakker maak. Hulle “vergeet” hoe om te werk. Daarom het sy my elke dag kom besoek en ek moes oefeninge doen.

Ek was hulpeloos en moes op die verpleegsters staatmaak om alles vir my te doen. Hulle moes my tande borsel en het my elke aand ’n sponsbad gegee. Hulle het ’n vierkantige sponsie op ’n stokkie in tandepasta doop en só my tande geborsel. Daar is pypies soos dié wat jy by ’n tandarts teëkom – een wat water spuit en ’n ander wat die water opsuig. Dikwels is die suigaksie nie sterk genoeg nie en dan loop die water in jou keel af. Dit voel asof  jy versmoor – en tegelyk is jy so bly oor daardie bietjie water …

Omdat jy aan ’n ventilator gekoppel is, kry jy niks om te drink nie sodat daar geen risiko is dat jy verstik en dat dit jou longe kan beskadig nie. Ek het dae lank gelê en dagdroom oor die baie water wat ek gaan drink wanneer ek van die ventilator gespeen is.

Die stuk van die ventilatorpyp wat in jou mond pas, is van harde plastiek. Dit druk teen jou verhemelte. En dit kan beweeg. Wanneer die verpleegsters my ’n sponsbad gee, moes hulle my op my sy draai – eers op die een, dan die ander. Dié aksie het my óf erg laat hoes óf die stuk plastiek na die sagte gedeelte van my verhemelte laat skuif. Dit het my baie naar gemaak. Ek het met handgebare probeer wys dat hulle die plastiek moet reg skuif.

Sodra jou toestand stabiliseer en jy ’n bietjie sterker word, word die ventilator afgeskakel sodat jy sonder hulp kan asemhaal. Jy ontvang steeds die suurstof, maar die masjien haal nie meer namens jou asem nie. Maar wanneer jy slaap, word die ventilator weer aangeskakel sodat jy kan rus. Net voor die pype uit my keel gehaal is, het ek 15 liter suurstof gebruik en self asemgehaal, dag en nag.

LEES OOK: My Covid-dagboek #3: ‘Ná 47 dae … hou ek weer my kinders vas’

In my tyd in die intensiewesorgeenheid het ek Bybelverse in my gedagtes opgesê, ek het lofliedere “gesing”. Ek het net met die Here gepraat, soos ek nooit tevore met Hom gepraat het nie. Wanneer ek sleg gevoel het, of wanneer ek besig was om die stryd teen angs en die warreling in my gedagtes te verloor, het ek uitgeroep: “Here, hoekom! Hoekom ek? Hoekom moet ek hierdeur gaan, en hoekom kan U my nie volledig genees nie? Hoekom raak U my nie aan soos ek weet U kan nie?”

Dan het hierdie vrede oor my gedaal, en ek het geweet Hy is by my. Later sou ek weer met Hom praat en sê: “Ek is jammer, Jesus.” Dan het ek verder met Hom gesels en gefokus op die mense wat om my lê, en ek het vir hulle gebid.

Wanneer jy langer as sewe dae in die intensiewesorgeenheid lê, laat die personeel toe dat een geliefde jou kom besoek – net vir tien minute. My man het op 7 Julie kom kuier. Ek het hom byna nie herken nie; hy moes die beskermende klere aanhê wat die mediese personeel dra. Eers toe ek sy oë sien, het ek geweet dis hy. Ek kon nie praat nie, want ek was nog aan die ventilator gekoppel. Hy het oor hom en die kinders gepraat, oor my familie, en oor hoeveel mense vir my bid. Ek het darem ’n klompie dinge neergeskryf wat hy kon lees.

Ja, dié besoek het maar tien minute geduur, maar bloot om hom te kon sien, het my emosioneel-gesproke só goed gedoen. Noudat ek daarop terugkyk, wens ek daar is ’n manier om, sonder om groot risiko’s te loop, geliefdes by ’n Covid-19-pasiënt toe te laat. Ek het soveel mense sien moed opgee bloot omdat hulle begin glo het dat hulle nooit weer hul geliefdes gaan sien nie.

Ek weet daar is hulpmiddels soos sosiale media en video-oproepe, maar dit vergoed nie regtig vir die feit dat jy nie jou mense in lewende lywe kan sien nie. So ’n besoek gee jou die hupstoot wat jy nodig het, dit wys jou waarvoor jy so baklei en vir wie jy wil gesond word.

My liefde vir my gesin en my familie en vriende, en hul liefde vir my, het my die krag gegee om aan te hou baklei. Ek het aan daardie liefde bly vasklou.

En God was my anker. Ek is daarvan oortuig dat Hy ’n wonderwerk verrig het. Dat Hy my lewe gered het. Dat Hy elke tree van hierdie pad saam met my was. En dat dit steeds so is.

* Anna-Lee Botha is 42 jaar oud en woon in Middelburg in Mpumalanga. Sy vertel hier van haar 45 dae lange geveg teen Covid-19-longontsteking. Sy sê sy deel dit met LiG-lesers om God te verheerlik, om alle eer aan Hom te bring vir die tweede kans op lewe wat Hy haar gegee het. Daarby hoop sy haar dagboek kan lesers ’n idee gee van wat tans in ons land se hospitale gebeur. Hopelik, sê sy, kan mense wie se geliefdes in die hospitaal is op dié manier iets leer, juis ook omdat hulle hierdie soort inligting dalk nie op ’n ander wyse in die hande kan kry nie.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img