My Covid-dagboek #3: ‘Ná 45 dae … hou ek weer my kinders vas’

DEUR ANNA-LEE BOTHA

 Ek is op 9 Julie na die chirurgiese-intensiewesorgeenheid oorgeplaas. Omdat ek nog aan die ventilator gekoppel was, het ek steeds dié soort sorg nodig gehad. Tydens elke skof in daardie eenheid, dag en nag, is ’n spesifieke verpleegsuster toegewys om na my en twee ander pasiënte om te sien.

Links van my bed was ’n tafel met groot velle papiere waar hulle tot in die fynste besonderhede van my vordering rekord gehou het.

Omdat ek nie kon eet of drink nie, is my voeding deur ’n pypie in my neus na my maag gelei. My eerste dag in die chirurgiese-intensiewesorgeenheid was byna rampspoedig: Die kos het my naar gemaak en ek het vier keer opgebring – met die ventilator se pype in my mond en keel. Dit het gevoel asof ek versmoor. En omdat my hande vasgebind was, kon ek nie betyds die regte handgebare gebruik om die personeel te waarsku nie. Al wat ek kon regkry, was om so ver ek kon oor die bed se kant te leun. Om te hoop ek mors nie te veel nie. Elke keer moes die verpleegsters my skoonmaak. Dit was erg.

Later het ek gevra of ek my selfoon mag gebruik. Die suster wat deurlopend langs my bed was, het my een hand losgemaak sodat ek op die foon se skerm kon tik. Maar my spiere was baie swak en ek kon skaars die foon vashou. Daarby het my hande baie gebewe. Uiteindelik kon ek die foon teen die beddegoed staanmaak en met een vinger tik. Dit was ’n boodskap aan ons familiegroep. My familie het sedert 27 Junie niks van my gehoor nie, behalwe dit wat my man vertel het. Hul reaksie op my eerste boodskap was die ene liefde en opgewondenheid. Dit het my aangespoor om aan te hou veg.

Deur dit alles heen het ek aanhoudend met die Here gepraat, met ’n oop, eerlike en rou hart. En op 10 Julie het die dokter goeie nuus gebring: Hulle gaan my van die ventilator verlos. Ek was so bly om dit te hoor!

LEES OOK: My Covid-19-dagboek #1: ‘Van griepsimptome na Covid-19-positief na ’n ventilator’

Maar die proses om die pype uit my keel te kry, was soos iets uit ’n gruwelfliek.

Nadat al die pype uit was, ook die een in my neus, het ek ’n neuspypie gekry wat die suurstof sou gelei, en die suurstofvloei is op 10 liter gestel. Uiteindelik is my hande losgemaak.

Daardie liters en liters water waarna ek so gesmag het? Ek moes eers leer sluk. Ek is twee dae lank op ’n vloeistofdieet geplaas. Ek moes doodseker maak ek sluk stadig sodat niks in my longe beland nie. My hande en arms was swak. Ek was baie bewerig en moes leer hoe om ’n mes en vurk te gebruik.

Anna-Lee Botha en haar gesin. Foto: Verskaf

Ek kon nie eens my arms bo my kop optel nie. Dit het gevoel asof my hele lyf bewe, omdat al my spiere so verswak het. Ek het begin om die fisioterapeut se oefeninge vir my arms te doen. Die fisioterapeut het weer verduidelik dat vir elke 24 uur se stil lê die spiere merkbaar verswak. Dat hulle “vergeet” hoe om te werk. Dis waar ek besef het ek sal weer moet leer om alles te doen wat voorheen vanselfsprekend was, ook om te loop. Ek sal nooit weer enigiets as vanselfsprekend aanvaar nie.

Op 14 Julie verlaat ek die intensiewesorgeenheid; voortaan sou ek in ’n algemene saal wees. Elke dag wat ek my oë oopmaak, sê ek eers dankie. Dankie, Here, vir nog ’n dag. Dankie dat ek lewe.

Die algemene saal is baie rustiger as die intensiewesorgeenheid en ek kon my eerste video-oproep na my man en kinders maak. Die kinders het op daardie stadium 17 dae laas met my gepraat. Daardie gesiggies toe hulle my op die skerm sien …

Ek het begin oefen om op die bed se kant te sit. Ek het geleer hoe om te staan, wel met die hulp van ’n loopraam en ’n fisioterapeut. Nadat ek dit bemeester het, het ek begin leer om te loop. My spiere het swaar en dom gevoel. Maar elke klein oorwinning is gevier, en dit het my gemotiveer.

Op 16 Julie het die dokter laat weet my infeksietelling het na 6 afgeneem. Maar teen laatmiddag het ek skielik ’n hoë koors ontwikkel. Die verpleegkundiges het kom bloed trek, ’n urinetoets gedoen en daar is X-strale van my longe geneem. Hulle stel toe vas daar is ’n sekondêre infeksie in my blaas. Dit was die kateter se skuld, dit moes dringend verwyder word en ek moes dadelik antibiotika kry.

Teen 27 Julie kon ek sonder hulp loop. Ek het stadig en wankelrig beweeg, maar dit reggekry om uiteindelik self toilet toe te gaan. Iemand moes my wel kom help om van die toilet op te staan …

Op 29 Julie het ek die beste nuus ooit gekry: Ek gaan huis toe! Ek moet wel nog suurstof gebruik, en ons het gereël vir ’n suurstofmasjien tuis. Uiteindelik kon ek my hospitaalrokkie uittrek en gewone klere aantrek – hoe heerlik! Daardie middag vieruur is ek in ’n rolstoel sitgemaak en met ’n suurstofsilinder en ’n hart vol blydskap na buite gestoot. Ek het my man styf vasgehou. Die kinders het, saam met ons buurvrou, by die huis gewag.

Ek het by ’n huis aangekom waar vrolike ballonne my ingewag het. Sussie kon nie langer wag nie en het kar toe gehardloop en my daar kom groet. Sy is nege jaar oud. Boeta, wat 12 jaar oud is, het geduldig sy beurt afgewag. In die huis het ek en Sussie saam gehuil; Boeta het bly sê dis oukei om te huil, en dat alles oukei gaan wees.

Ek weet nie hoe lank ons so gesit het nie, ek weet net dit was die beste dag van my lewe. Ek het my kinders styf vasgehou. My hart was vol dankbaarheid teenoor die Here wat my ’n tweede kans gegee het. Ek kon hulle weer vashou.

LEES OOK: My Covid-dagboek #2: ‘Ek het Bybelverse opgesê en lofliedere gesing’

My pa het op 4 September verjaar, en my dogtertjie die volgende dag. Ek is dankbaar dat ek by hulle kon wees. My man hoef my nie meer op te tel as ek wil staan nie. Ek kan alleen stort en self my klere aantrek. En ek stap al baie beter. Ek is wel versigtig. Ek mag my nie ooreis en die risiko loop om my longe seer te maak nie. Ek bemerk elke dag ’n verbetering, soms klein, soms groter. Ek sien elke dag hoe ek besig is om my kragte te herwin.

Elke paar dae steek daar wel weer van die Covid-19-simptome hul kop uit. Dit wissel van uitputting en ’n lam gevoel, tot ’n seer bors, tot hoofpyn en seer ore. Op daardie dae rus ek. Ek het geleer om na my liggaam te luister.

Ek gebruik steeds die suurstofmasjien, maar ek begin om my stadigaan daarvan te speen. Ek kan nou effens langer as twee en ’n half ure sonder die suurstofmasjien klaarkom voordat my suurstofvlakke begin daal.

As ek bid, sê ek: Dankie, Jesus, dat U by my was toe ek die dood in die oë gestaar het. Dankie dat U my nie verlaat het nie, dat U by my was, dat U my in die donkerste tye vertroos het. Dat U my ’n tweede kans gegee het.

Covid-19 is nié “net nog ’n griep” nie; dis longontsteking “op steroïede”. Ongelukkig vir my is die inent-registrasie vir my ouderdomsgroep eers van stapel gestuur nadat ek siek geword het en in die hospitaal opgeneem is. Maar ek sal beslis, so gou ek mag, my laat inent.

Ons land se gesondheidwerkers verdien báie respek. Ek wil vandag dankie sê aan elkeen van hulle. Dankie vir julle diens, dankie dat julle daar is om ons en ons geliefdes te help waar niemand anders kan nie. Ek bid vir julle.

Ek wil nóg iets sê: Daar is mense wat besig is om moord te pleeg deur allerlei “raad” uit te deel. Hulle stuur boodskappe op sosiale media rond oor dinge waarvan hulle geen kennis dra nie. Waarvan hulle geen ondervinding het nie. Só maak hulle mense dood. Ek het met my eie ore gehoor hoe pasiënte die dokters se raad in die wind slaan – want ’n vriend van ’n vriend het hulle vertel om eerder dit en dat te doen. Om nie hospitaal toe te gaan nie. Om nie naby ’n ventilator te kom nie.

Ek wil sê: Hou op om na al die bangmaakstories te luister! Luister eerder na die dokters wat elke dag met hierdie plaag te doen kry. Dit mag dalk net jou lewe red.

* Anna-Lee Botha is 42 jaar oud en woon in Middelburg in Mpumalanga. Sy vertel hier van haar 45 dae lange geveg teen Covid-19-longontsteking. Sy sê sy deel dit met LiG-lesers om God te verheerlik, om alle eer aan Hom te bring vir die tweede kans op lewe wat Hy haar gegee het. Daarby hoop sy haar dagboek kan lesers ’n idee gee van wat tans in ons land se hospitale gebeur. Hopelik, sê sy, kan mense wie se geliefdes in die hospitaal is op dié manier iets leer, juis ook omdat hulle hierdie soort inligting dalk nie op ’n ander wyse in die hande kan kry nie.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img