‘My God is groter as mediese statistieke’

DEUR DEONETTE DE KOCK; FOTO: EUGENE VILJOEN

Melissa Daniels van Nigel in Gauteng is ’n dapper enkelma wat nie sommer tou opgooi nie. Sy is ’n vegter. Sy kry haarself ook nie jammer nie. “Die lewe is nie altyd regverdig nie,” sê sy, “jy moet dit bloot leer hanteer.

“Ek en Jayden het ’n hegte verhouding. Hy is so ’n liefdevolle kind … Hy het ’n klein hartjie en hy moes al so baie dinge deurmaak. Ek weet hy is baie bekommerd oor my. Hy sal ná ’n chemoterapiesessie snags by my kamer insluip en my toemaak en kyk of ek oukei is.

“Dis vir my erg om hom so te sien. Hy weet ek is siek en dat ek chemoterapie ondergaan, maar hy besef nie werklik die impak van my siekte nie. Hy hoef ook nie.”

’n Lang pad

Melissa se siekte kom al ’n lang pad met haar saam. Reeds in 2010 het sy bloeding en maagkrampe beleef. Tot 2015 is sy vir maagsere behandel en later vir divertikulose. Daarna is sy vir ’n kolonoskopie gestuur, en uiteindelik is sy met FAP (familial adenomatous polyposis) gediagnoseer. Aan die begin van 2016 is haar kolon verwyder; dit was deurtrek met vergroeisels, ongeveer 7 700 daarvan.

LEES OOK: ‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

’n Maand later het die dokters Melissa laat weet dat die vergroeisels op die kolon kankeragtig is, en sy is met fase 3A-kolonkanker gediagnoseer.

Op 17 Maart 2016 het Melissa haar eerste chemoterapiebehandeling ondergaan. Ná die eerste sarsie moes sy, as gevolg van komplikasies wat die chemoterapie meegebring het, ses maande lank in die hoësorgeenheid deurbring.

Daarna, tot 2018, was ondersoeke by die onkoloog elke drie maande haar voorland. Toe het die bloeding en maagkrampe teruggekeer. In Januarie 2019 is sy met fase 3B-kanker in die rektum gediagnoseer, en daar is weer met chemoterapie begin.

In Oktober 2019 is ’n ileostomie uitgevoer en ’n stomasakkie is op haar maag aangebring. Nog chemoterapie het gevolg.

Van April 2020 tot November 2021 is sy weer driemaandeliks ondersoek, en met die laaste ondersoek het Melissa aan die dokters genoem dat sy hyggeluide hoor wanneer sy asemhaal.

Sy is vir verdere toetse gestuur, en in Desember 2021 is sy met kanker in die longe en lewer gediagnoseer. Die chemoterapiesessies vind nou elke drie weke plaas.

Moeg

Chemoterapie maak Melissa liggaamlik en emosioneel moeg. Jayden neem karatelesse en daar is dae wat Melissa daarna gaan kyk ten spyte daarvan dat sy lewensmoeg is. “Ek plak dan maar ’n glimlag op en gaan net aan, want Jayden is belangriker as my moegheid.

“By my werk – ek is die operasionele bestuurder by ’n vervoermaatskappy – word ek baie ondersteun. Hulle wil my werklas ligter maak, maar ek wil dit nie hê nie. Ek wil alles so normaal moontlik hou.”

LEES OOK: #3 Dokter se winterpad met kanker: ‘Uiteindelik: een pienk blom’

In ’n stadium het Melissa se emosies erg wipplank gery en depressie het die oorhand begin kry. Maar sy veg daarteen. “Ek het ’n reël dat daar op elke af- en huildag twee goeie dae moet volg. So hou ek myself uit die gat.

“Ek het al dikwels gevra: ‘Here, my seuntjie is maar agt jaar oud. Hy het nie ’n pa wat na hom sal kyk nie. Hoe kan U my wegneem? Ek is so jonk! Hoekom weer ek, en hoekom kanker? Ek probeer tog reg leef!’

“En ek hoor hoe die Here aan my sê: ‘Hoekom nié jy nie?’

“Dis een van die eerste lesse wat ek geleer het: dat slegte dinge ook met goeie mense gebeur. Maar my God is groot. Selfs in die dae wat ek getwyfel het, het Hy my aan Romeine 8:28 herinner: ‘Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.’”

Melissa se ma woon langs haar, en dié het haar deurentyd ondersteun. “My ma is my rots,” sê Melissa. “Sonder haar sou ek dit nie kon regkry nie. Daardie dae wat ek nie uit die bed kan opstaan nie, neem sy alles oor. Dan sorg sy ook vir my kind. Hulle is baie erg oor mekaar. Jayden kan enige tyd na sy ouma toe loop. My verstandelik-gestremde sussie Michelle (26) woon ook by my ma.”

‘Ek is nie ’n statistiek nie’

As die chemoterapie wat Melissa tans ondergaan nie doeltreffend is nie, is daar nie veel wat die medici kan doen nie. Medies gesproke word sy uiters vyf jaar gegun.

“Maar ek is nie ’n statistiek nie,” sê sy beslis. “My God is groter as mediese statistieke.”

Die enigste kans dat die chemoterapie kan werk, is as die middel Avastin daarmee saam gebruik word. Maar haar mediese fonds weier om daarvoor te betaal. Daarom is ’n “back a buddy”-rekening vir Melissa geopen, asook ’n Facebookblad “Raise the Bar for Melissa”. Sodoende word daar gepoog om  voldoende fondse in te samel sodat sy die nodige behandeling kan ontvang.

“My geloof is die spilpunt van my lewe,” sê sy. “Dis wat my staande hou. Dis al manier waarop ek deur hierdie moeilike tyd gaan kom. Ek swot deeltyds, ek wil ’n Nasionale Diploma in Finansies verwerf. Ek sou graag my studies wil voltooi. En ek het ’n werk waarvoor ek baie lief is.

“My grootste wens is egter vir tyd saam met die mense wat ek liefhet, veral my kind. Ek sou so graag wil sien hoe hy grootword.

“Al wat ek nou kan doen, is hoop, bid en glo. Want die Here het ’n doel hiermee, al verstaan ek dit nie. Eendag sal ek wel verstaan. En in die dae wat ek huil, en bid en vra vir ’n positiewe uitkoms, weet ek dat die Here reeds by my is.

“As ek sommige dae nie krag het nie, dan veg die Here namens my. My toekoms is in sy hande.”

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img