Dis sekerlik een van die moeilikste paadjies denkbaar: dié van herstel ná huweliksontrou. Hoe vergewe jy? Hoe vertrou jy weer? Is daar hoegenaamd hoop op ’n nuwe begin ná sulke verraad?

Deur Yolanda Wessels

“Ons is in die sogenaamde ‘Maand van die Liefde’ getroud. Dis vooraf so beplan, en die datum het ooreengestem met ’n pragtige volmaan se weerkaatsing op die see.

“Maar vier volmane later het hy my met sy vorige meisie verkul. Ek vind toe uit dat hy deurentyd, sonder my medewete, met haar kontak gehad het.”

Nicola* se storie is ongelukkig nie uniek nie; dis vele se verhaal.

“Die ergste was dat ek in elk geval moeilik vertrou. Maar Anthony* het net vir mý oë gehad. Ek was seker daarvan dat ek die enigste vrou in die wêreld was wat hy raakgesien het. Min het ek geweet …”

’n Tweede kans

Nicola en Anthony het mekaar vyf jaar ná hul onderskeie egskeidings ontmoet. Uit al twee se eerste huwelik was daar twee jong kinders. Hierdie verhouding was ’n tweede kans op huweliksgeluk, iets wat hulle met ope arms aangegryp het.

Nicola vertel: “Ons is tien maande nadat ons mekaar ontmoet het, getroud. Natuurlik was daar harder werk nodig as met ’n eerste huwelik. Ons kom boonop uit verskillende kulture: Hy is Engels, en is in Kaapstad gebore en getoë. Ek is Afrikaans en het op die platteland grootgeword.

“Boonop verskil ons kinders hemelsbreed van mekaar. Maar ons was bereid om die nodige aanpassings te maak om hierdie saamgevoegde gesin te laat werk.”

Nicola vertel dat sy ná haar egskeiding enkellopend was. “Ek het ‘in die bondel’ gekuier. Ek wou my nie in ’n verhouding begewe voordat ek geweet het ek is weer heel nie. Weer gereed vir ’n vaste verbintenis. Ek wou tot ’n nuwe verhouding kon toevoeg, nie wegneem nie.

“Toe ek Anthony ontmoet het, was ek gereed. My hart het gesê: Hierdie een is die regte maat vir jou.”

Rooi ligte

Anthony was ná sy egskeiding in ’n kort verhouding met Melissa* betrokke. Nadat hul weë geskei het, het hulle steeds kontak behou.

“Daar het uit die staanspoor rooi ligte geflikker,” vertel Nicola. “Sy reaksie wanneer hy haar naam gehoor of gesien het, en wanneer hy hul foto’s op haar Facebookblad gesien het, het my ongemaklik gemaak.

“Op my versoek het hy haar op Facebook ontvriend. Maar elke keer wanneer hy naweke by sy kinders in die Kaap gekuier het, het hulle met mekaar kontak gemaak.”

Ná een so ’n naweek moes hy die Sondag van die kuier af terugkeer. Nicola het gewag en gewag, maar Anthony het nie daardie Sondagaand huis toe gekom nie. “Hy het my later gewhatsapp dat hy by sy broer oorbly. Dit was uiters verdag en ek was bitter ongelukkig. Hy het eers daardie Dinsdagaand huis toe gekom.”

‘My lewe stort inmekaar’

Op die Woensdagaand het Nicola se hele wêreld inmekaargestort nadat sy ’n boodskap van ’n vriendin van Anthony ontvang het. Dié het erken dat hy drie dae lank by haar oorgebly het, en dat Melissa ook daar was.

Nicola vertel: “Ek was op die rand van histerie. Maar selfs nadat ek dié boodskap op my selfoon aan hom gewys het, het hy steeds gesukkel om die waarheid te praat. Dit was ’n emosioneel uitmergelende week. Ek moes die waarheid stuk-stuk uit hom trek.

“Uiteindelik het hy gebieg. Hy het vertel dat hulle deurentyd hegte vriende gebly het. Dat hulle net kontak gehad het wanneer hy in die Kaap was. Hulle het mekaar twee maal gesien vandat ek en hy in ’n verhouding was – een keer was dit vier maande voor ons troue, en die tweede keer vier maande daarna, en al twee kere was hulle intiem.

“Die pyn wat ek ervaar het, was genoeg om ’n mens aan ’n gebroke hart te laat sterf.”

Vlug of veg?

Nicola se emosies was in ’n warboel. Sy het ’n pastorale berader en ’n sielkundige om bystand, ondersteuning, gebede en insig genader. “Ek wou nie net van alles wegstap nie; ek wou verstaan hoe Anthony my so seer kon maak. En dít terwyl hy sê ék is die een wat hy liefhet.

Dit het weke se berading, gebede, dink en oplees gekos voordat Nicola ’n soort berusting begin vind het. Ook Anthony het vir berading gegaan om by die wortel van die kwaad uit te kom.

Nicola vertel: “Dis beslis die seerste ding nóg waardeur ek moes werk. My eerste instink was om te vlug – maar watter voorbeeld sou dit vir ons kinders stel? Boonop kon ek nie begryp wat ek verkeerd gedoen het nie. Hoe kon Anthony sy dade regverdig?

“My selfbeeld was aan flarde, my hart gebroke. Boonop moes ek, ter wille van my kinders wat permanent by ons inwoon, op my werk gefokus bly en my emosies in bedwang hou.”

Nicola se berader het Gary Chapman se bekende boek, Vyf tale van die liefde, vir die egpaar voorgestel.

“Vir die eerste keer het daar vir my ’n lig opgegaan,” vertel Nicola. “Ek het geleer dat elke mens ’n ‘liefdestaal’ het, en ’n ‘liefdestenk’ wat vol gehou moet word. Dit het die legkaartstukkies beter laat pas. Maar steeds kon ek nie verstaan waar ek gefaal het nie.”

Intussen het Anthony alle kontak met Melissa verbreek. Deesdae gebruik hy selde sosiale media. Nicola het nou volle toegang tot sy selfoon, sy selfoonrekords en sy e-pos. Anthony moes ook Gary Chapman en Jennifer Thomas se Five languages of apology lees. Volgens die beraders moes hy leer dat daar ’n enorme verskil tussen verskoning vra en opregte berou is.

Nicola sê: “Ek het baie vrae aan hom gevra, want dit was vir my belangrik om te verstaan waarom hy dit gedoen het, om sodoende te verstaan waarom hy dit nié weer sal doen nie.

“Ek sien opregte berou by hom raak, en ek werk daaraan om hom te vergewe. Sommige dae is beslis moeiliker. Daar is baie ‘snellers’, byvoorbeeld wanneer dit volmaan is. Dis in sulke tye dat ek besef hoe sy optrede ons verhouding verander het. Dit breek my hart, want geen hart verdien om verraai te word nie.”

Die lang pad

’n Huwelik verg altyd harde werk. En met ’n uitdaging soos die een waarmee Nicola gekonfronteer is, is daar soveel meer druk. “Ek wil hom verwyt,” erken sy, “maar ek weet dis nie die pad na vergifnis en herstel nie.

“Dis ’n groot uitdaging om in ons verhouding, wat steeds bitter jonk is, ’n heel nuwe fondament te lê. Een waar vertroue, deursigtigheid, eerlikheid, lojaliteit, respek en liefde alle ander emosies of aksies oorheers.

“Liefde is beslis nie alles nie, maar ek reken dat solank al twee partye vir mekaar lief is, eerlik met mekaar is (al maak dit seer), bereid is om na mekaar te luister en aan die verhouding te werk, en indien daar opregte berou is, kan ’n huwelik wat skade gely het, wel herstel.”
*Skuilname

Waarom?

Egbreuk is ’n relatief algemene verskynsel. Ongelukkig is plaaslike statistieke nie altyd geredelik beskikbaar nie. In die VSA word beweer dat vier uit elke tien huwelike deur egbreuk geraak word. Meer as die helfte van dié huwelike oorleef dit.

Die trauma- en verhoudingsberader Elzaan Brand sê daar is verskeie moontlike redes waarom ’n man egbreuk pleeg:

  • Verslawings. Seks-, drank- en dwelmverslawing kan tot swak besluitneming aanleiding gee, onder meer onverantwoordelike en impulsiewe seksuele gedrag.
  • ’n Swak selfbeeld. ’n Man wat voel dat hy nie goed genoeg vir sy eggenoot is nie sal dikwels aanvaarding elders gaan soek, in plaas daarvan dat hy sy gevoelens met sy lewensmaat sal bespreek.
  • ’n Gebrek aan mansvriende. ’n Man wat op sy eggenoot staatmaak vir emosionele en sosiale behoeftes sal bevrediging hiervoor elders gaan soek wanneer sy eggenoot nie aan sy behoeftes voldoen nie.
  • Onafgehandelde trauma gedurende sy kinderjare. Verwaarlosing, fisiese, emosionele en seksuele mishandeling gedurende sy kinderjare kan tot verbintenis- en intimiteitsprobleme aanleiding gee, en dit kan toewyding aan een maat bemoeilik. Mans kan die opwinding van seksuele ontrouheid gebruik om die emosionele pyn van hul kinderjare te verlig of dit só tydelik uit hul gedagtes ban.
  • Die rol van ’n gewese vrou of ’n “ou liefde”. Om in die geheim met dié deel van jou verlede kontak te maak, is ’n seker resep vir moeilikheid. Hierdie soort opwinding kan baie maklik tot ontrouheid aanleiding gee. Dit kan ook verslawend wees. Indien daar nie duidelike grense bestaan nie, kan dit gou tot iets meer as bloot “mooi woordjies” lei.

Daar is altyd hoop

Caryn Feldmann, ’n pastorale berader, is daarvan oortuig dat daar altyd hoop is. “God is ’n God van liefde,” sê sy, “en Hy is passievol oor gesinne. Dis belangrik om te weet dat daar twee mense in ’n huwelik betrokke is. En as al twee bereid is om aan die huwelik te werk, is daar steeds hoop. Al was een van hulle ontrou.

“Die belangrikste faktor hier is dat die skuldige party om vergifnis vra, en dat die ander een die keuse moet maak om te vergewe en te vergeet en die verlede agter te laat.”

Daar is wel ook bepaalde reëls wat voortaan nagekom moet word: duidelike en eerlike kommunikasie; ’n ooreenkoms wat die betrokkenheid by ’n buitestander bepaal (die sogenaamde “rules of engagement”); onbelemmerde toegang tot die maat se selfoon, e-pos en sosiale media.

Die een wat ontrou was, moet besef dat die maat tyd nodig het om van die skok en vernedering te herstel. Nuwe vertroue kan slegs met verloop van tyd gebou word, en dit impliseer ’n keuse wat elke dag gemaak moet word.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail