Tuesday, June 22, 2021

‘My lewe is in ’n oogwink verander,’ skryf man voor sy dood

Charl Munnik het dié aangrypende getuienis vanuit sy hospitaalbed geskryf voordat hy ontslaan is en twee weke later tydens ’n rooftog doodgeskiet is. Hy laat sy moeder, Esmé Munnik, suster, Suzanne Haylett, swaer, Travis Haylett, en sy susterskinders agter. Hierdie skrywe, wat oorspronklik op Facebook geplaas is, word met toestemming van Munnik se familie gepubliseer:

 

Charl Munnik
Die 44-jarige sakeman van Worcester is in sy juwelierswinkel geskiet. Foto verskaf

Vandag is ek nog in staat om my storie te vertel deur God se genade. Nie almal het daai voorreg nie.

Almal wie my ken weet dat ek al ’n paar keer amper my Hemelse Vader ontmoet het.

Nog nooit was die stryd amper verlore soos dié keer met dié siekte nie.

Hoekom die Here besluit het om my te red sal ek nie nou weet nie dalk eendag.

Maar vir vandag wil ek van die geleentheid gebruik maak om my storie te vertel tot eer van my Hemelse Vader.

Dalk help dit iemand wat nou deur dit gaan waardeur ek gegaan het. Dalk help dit jou, Jan Alleman, om jou masker op te sit, minder rond te loop en te besef dat Covid vra nie vrae nie hy kies nie wie hy plattrek nie.

Laat Desember was my woorde van dankbaarheid, omdat ons gesond is, skaars koud, toe begin my simptome.

LEES OOK: ‘Dit was duidelik – daar is lewe na die dood’

Ek het Covid.

Die dag toe ek besef ek kry nie meer asem nie het ek myself hospitaal toe gery.

My longe was skoon en hulle het my opgeneem en op suurstof gesit.

Enkele oomblikke later was my longe deurtrek van bloedklonte.

My geveg het begin. So passievol soos wat ek ’n storie kan vertel, met soveel passie en hart het ek geveg vir oorlewing.

Die dokter het my goed laat verstaan dat my kans om hieruit te stap, skraal is.

Twee weke lank het ek geworstel met hierdie siekte. ’n Paar keer kon ek die dood sien, ek kon voel hoe dit nóú, hier en vandag, my laaste dag op aarde is.

Die koors het my gevat, ek het soms nie geregistreer wat om my aangaan nie. Jy verloor dae en oomblikke.

LEES OOK: ‘Ek bid vir my kinders, Here’

Een dag het ek gevoel hier is dit nou. Ek het my ma gebel en gevra dat sy en almal nou vir my moet bid, want ek gaan dit nie maak nie.

Ek kan sommige belewenisse nie in woorde omsit nie. Maar ek kon voel hoe ek terugkom. Ek kon voel hoe ek nuwe lewe kry. Die krag van gebed.

Vandag is ek op pad huis toe. Ek het nog ’n kans gekry.

Hierdie siekte is werklik. Die magteloosheid is werklik. Die alleenheid is werklik.

Jy en net in ’n hospitaalkamer, terwyl jy veg vir jou lewe, is werklik.

Covid is werklik. Hy trek jou plat.

Dankie vir almal wat my ken, en selfs die wat my nie ken nie en steeds opgedra het in julle gebede.

LEES OOK: As ’n angsaanval jou lamlê

Julle woorde van bemoediging, julle omgee en boodskappe het my gedra.

Dankie vir die verpleegpersoneel wat vir my soos familie laat voel het. Ek is sommer emosioneel om hulle vandag te groet.

Ons het saamgestaan deur hierdie seisoen in my lewe.

Ek hoop dat niemand hierdie ding moet deurmaak nie.

Die wat die stryd verloor het  – mag julle sag rus in die arms van ons Hemelse Vader waar ons geen pyn meer ken nie.

My lewe is in ’n oogwink verander.


Meer oor Getuienisse en www.lig.co.za se toekomspad.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img