1 April 2021


DEUR CHANTELL DAVIS

Ek en Kevin is in 2008 getroud en ons was gretig om sommer vroeg met ’n gesin te begin. ’n Jaar later het ek swanger geword, en ná ’n gesonde en gemaklike swangerskap is ons seuntjie Evan in 2010 gebore.

Toe ons baba byna ’n jaar oud was, het ons daaraan begin dink om ons gesin uit te brei. Ons wou graag gou weer ’n baba hê, ’n maatjie vir Evan.

Nadat Chantell Davis van Oos-Londen met polisistiese eierstoksindroom gediagnoseer is, het sy getwyfel of sy weer swanger sal raak. Maar sy en haar man het God vir ’n wonderwerk vertrou … Foto verskaf

Ek het egter begin vrees dat daar dalk probleme wag. Daar was dinge wat my bekommer het: haarverlies, aknee, ’n abnormale siklus, gewigstoename. Ek het besluit om ’n ginekoloog te raadpleeg.

LEES OOK: ’n Baba ná agt jaar – en ’n nuwe beproewing

Ná verskeie toetse het die dokter polisistiese eierstoksindroom gediagnoseer. Hy het gesê dat dit onder meer ongereelde en selfs geen ovulasie tot gevolg het. Dat dit ons kanse op swangerskap uiters skraal gemaak het.

Hierdie nuus het as ’n groot skok gekom. Ek was in die fleur van my lewe. Ons het nooit kon dink dat ek sou sukkel om weer swanger te word nie. Ons het daaroor gebid, en besluit om God vir ’n wonderwerk te vertrou.

Maar maand ná maand het die teleurstelling gekom …

Een aand het Kevin ’n helder droom gehad. Opgewonde het hy my kom vertel: Daar was twee babas in blou kombersies wat in hul bedjie gelê en slaap het.

Ons het lekker gelag.

Uiteindelik

’n Paar maande later het ek swanger geraak, maar daar was ’n vroeë miskraam. Nog twee weke later het ek begin olik voel, en niks wou daarvoor help nie. Vir die soveelste keer het ons bloedtoetse laat doen. Teen daardie tyd het die personeel by die laboratorium ons al op die naam geken.

Kevin het die uitslae gaan haal, en met die nuus teruggekom dat ek swanger is.

Ons is terug na die ginekoloog en hy het ’n sterk hartkloppie op die sonar waargeneem. Hy kon ook bepaal dat ek reeds vyf weke swanger is.

Die unieke seuntjies Colin en Nathan Davis vandag. Hoewel hulle saam gebore is, is hulle nie ’n tweeling nie. Daar is wêreldwyd maar 20 sulke gevalle opgeteken. Foto verskaf

Ons was uit ons nate van dankbaarheid en het sommer in die motor gesit en dankie gesê. Kevin het my aan sy blou kombersies-droom herinner en ons het weer daaroor gelag. Hierdie was die werklikheid.

Superfetation

Ná ’n klompie weke het ek kwaai rugpyn gekry en ek is na ons huisdokter vir ’n inspuiting. Uit pure nuuskierigheid het ek gevra of hy sommer in die spreekkamer ’n sonar kon doen. Hy het – en hy het stip na die skerm bly staar. Toe het hy allerlei vrae gevra, en oplaas die skerm gedraai sodat ek kon sien wat hy gesien het: twee besige babatjies!

LEES OOK: Kankervegtertjie se droom word waar

Ek was uit die veld geslaan. Ek kon nie my oë glo nie. Ons het dan in die ginekoloog se spreekkamer een dooiersakkie met ’n hartkloppie gesien. Van waar nou die twéé figuurtjies?

Die volgende dag is ons terug ginekoloog toe. Hy vertel toe dat dit ’n uiters rare verskynsel is: Die een baba is tussen vyf en sewe dae ná die ander een verwek. Hierdie verskynsel word “superfetation” genoem. Daar is wêreldwyd maar 20 sulke gevalle opgeteken. Die feit dat ek nie hormoonmedikasie gebruik het nie, het dit nog merkwaardiger gemaak.

“Ons huis is vol”

Ons unieke tweelingseuntjies, Colin en Nathan, is op 2 Mei 2012 gebore. Die een het ’n kop vol swart haartjies gehad, was groterig gebou en het die wêreld kalm en rustig betrag. Die ander een was kleiner, blond, met groot blou ogies, en woelig vanaf die eerste oomblik.

Dis ’n besige huishouding dié, mededingend en luidrugtig, maar ons huis is vol liefde en dankbaarheid, vertel Chantell. Foto verskaf

Ons is baie dankbaar vir ons unieke seuns. Ons het in 2016 weer swanger geraak, en ons vierde seuntjie is gebore. Ons het hom Chad genoem.

Dis ’n besige huishouding dié, mededingend en luidrugtig, maar ons huis is vol liefde en dankbaarheid.

Ek en Kevin is passievol daaroor om ander te bemoedig wat met fertiliteit sukkel. Ons koester altyd die hoop dat alles moontlik is. Mag hierdie getuienis hoop bring!

  • Die Davis-gesin woon in Oos-Londen.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail
2 Responses to ‘My twee babas wat nie ’n tweeling is nie’
  1. Comment *Baie Dankie Vir die getuienis,die Here is Groot,goed en getrou,Ek met baie ander benodig hierdie bonatuurlike wonderwerke van die Allerhoogste.

  2. Comment *Wow ek is baie beindruk met jul verhaal. My suster se seun en sy vrou probeer nou amper tien jaar om swanger te raak. Ek hoop die Here sal hul gebede een van die dae verhoor.


[top]

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *