’n Baba ná agt jaar – en ’n nuwe beproewing

4 Maart 2021


DEUR LOUISE NAUDÉ

My storie van hoop begin by die hoop om ’n babatjie te kan hê. Ek het in die proses vier miskrame gehad, en ek het báie medikasie gebruik om te kan swanger raak. Ons het alles probeer, maar daar is bevind dat ons “onverklaarbare onvrugbaarheid” het.

Ons het agt jaar lank daarna gesmag om swanger te raak.

Almal om my het swanger geraak – en hier was ek, ’n gebreekte vrou wat nie eens vir my man ’n babatjie kon gee nie. Toe raak ’n kollega swanger. Ek het heeltemal kop verloor. Ek was vol haat vir myself en ek het die Here gevra: “Here, hoekom is ek nie goed genoeg nie?”

LEES OOK: VIDEO: Vermoorde Charl Munnik se suster gesels oor sy nalatenskap

Dit het my emosioneel verpletter. En in 2018 het ek moed opgegee en besluit dat dit my nie beskore is om ’n mamma te wees nie.

In Oktober daardie jaar het ek egter siek gevoel, en omdat ek nie mooi seker was wat aan die gang is nie, is ek dokter toe. Dié het ’n sonar gedoen. Hy het iets opgemerk en my vir ’n bloedtoets gestuur. Die uitslag sou 24 uur later kom. Ek het die ure omgewens …

Die volgende oggend was daar ’n oproep: Die dokter wou my spreek.

Ek het spreekkamer toe gegaan en hy het gesê ek gaan ’n mamma word. Ek kon my ore nie glo nie. Dit was die beste woorde wat ek kón hoor.

Maar sê nou dié opgewondenheid was weer verniet?

Ek het nietemin vir Manlief ’n babafrokkie laat maak met dié woorde daarop: Daddy to be – June 2019. Daardie aand het ek hom hiermee verras, en met die sonarfoto.

Die volgende nege maande was baie moeilik. Ek het dit omgebid, en God gevra om hierdie babatjie veilig te hou. Ek was so bang dat daar iets sou gebeur.

Daar was baie wat kón gebeur: My vrugwater het gelek, my bloeddruk was te hoog. Maar God het my babatjie styf in my baarmoeder vasgehou.

Louise Naudé en haar man het agt jaar na ’n babatjie gesmag. Vandag is Amoney al 20 maande oud en haar ouers se “beste geskenk ooit”. Foto verskaf

Op 7 Junie 2019, om 08:41, is Amoney Adé Naudé met behulp van ’n keisersnee in die lewe gebring. Sy het slegs 2,1 kg geweeg, maar sy was perfek.

Sy het egter vrugwater gesluk, en sy het geelsug opgedoen. Sy is na die neonatale intensiewesorgeenheid oorgeplaas waar sy byna twee weke moes deurbring. Dit was ’n uitdaging soos min. Ek moes haar elke twee ure voed, en ek mag nie aan haar gevat het nie. Ek het by haar in die hospitaal gebly.

Vandag is ons Amoney 20 maande oud, sy is gesond. En sy is ons beste geskenk ooit.

’n Nuwe ellende

Min het ek geweet dat die beproewing nie verby was nie. Nadat ons huis toe is, het ek begin siek voel. Ek het onbeskryflik moeg geword, daar was ’n knaende pyn in my bors en op my maag. Ek was duiselig.

Die dokter het gesê ek het nageboorte-depressie en het medikasie voorgeskryf. Maar die pyn het erger geword. Die dokter het ’n afspraak by ’n spesialis gemaak, daar sou ’n gastroskopie gedoen word. Was dit ’n maagseer?

Maar voordat ek die afspraak kon nakom, het ek nóg sieker geword. Ek kon skaars regop bly.

Ek is in die hospitaal opgeneem en die een toets ná die ander het gevolg. Die gastroskopie het ’n breuk uitgewys. Maar die spesialis het ’n verdere probleem vermoed en ’n sonograaf gevra om na my hart te kyk.

LEES OOK: ’n ‘Skewe potjie’ vind haar deksel

Al wat ek hiervan onthou, is die sonograaf wat dringend aan die verpleegpersoneel sê om die dokter te skakel. Om onmiddellik ’n bed in die intensiewesorgeenheid gereed te kry.

Alles het bitter vinnig gebeur. Ek kan onthou my man was in trane langs my bed. My ma het van Pretoria gekom.

Ons moes hoor dat daar drie bloedklonte in my hart is: twee met ’n deursnee van drie sentimeter, en een van vier. Ek het later gehoor die dokter het aan my man gesê hy moet maar afskeid neem. “Jy moes dood gewees het,” het almal my vertel. My hartfunksie was slegs 7%, soos dié van ’n mens wat aan ’t sterwe is.

Maar God was goed vir my, en ek het ’n tweede kans gekry om vir Hom te lewe. Om ’n verskil te maak, waar ek ook al gaan. Ek het besluit om voortaan voluit te lewe. En om vrede te maak met my pa wat ek in daardie stadium tien jaar laas gesien het.

Presies ’n jaar nadat ons vrede gemaak het, is hy oorlede.

Môre is nie gewaarborg nie

Ek het intussen ’n boek geskryf. Ek doen vryskut-modelwerk. En ek werk as vrywilliger by ’n niewinsgewende organisasie wat na gestremdes omsien.

Louise vertel sy het ’n tweede kans gekry. Daarom wil sy, oral waar sy gaan, probeer om ’n verskil te maak. Sy doen ook deesdae vryskut-modelwerk. Foto: Carminda Swanepoel Photography

Ek sukkel steeds met my gesondheid. Ek is dikwels kortasem en moeg. En ek het baie pyn. Ek sal dalk binnekort ’n nuwe hart moet kry. Albei my hartkleppe is beskadig en albei lek tans, maar dit kan nie vervang word voordat die hart vervang is nie.

Ook my niere gee probleme. Hulle is “siek” as gevolg van my hart wat nie behoorlik funksioneer nie én vanweë die hoeveelheid medikasie wat ek gebruik.

Verlede jaar Augustus was my hartfunksie 37%. Op 24 Maart moet ek weer die kardioloog gaan spreek.

Ek bid hard dat daar ’n uitweg kom. Ek kan nie dink dat ek die res van my lewe so sleg sal voel nie.

My boodskap aan ander is om voluit te lewe. Leef asof môre nie gewaarborg is nie.

Ek wil jou ook aanmoedig om ’n orgaanskenker te word. Jy kan op dié manier ’n groot verskil in iemand anders se lewe maak.

  • Louise en haar gesin woon in Witbank.

Het jy ‘n getuienis? Klik hier om jou storie met ons te deel.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img