DEUR LIZETTE VAN DER WESTHUIZEN

Soos elke aand sit ek gister weer my jongste in die bed. Ekstra kombers vir ekstra hitte in die ysige Johannesburg-koue, soentjie op die voorkop, knus toegewurm. Toe ek haar regter-handjie ’n drukkie gee voel ek weer die letsels op haar palm en duimpie. En toe tref die besef my weer hoe gróót God se genade werklik is, elke oomblik van elke dag wat Hy na ons kyk en ons vashou in die palm van sy hand.

“God het vir ons ’n beskermengel gestuur in die vorm van Ruby, ons pleegsorg-Labrador,” sê Lizette.

Oukersdag 2019, het Courtney (12), tweedegraadse brandwonde opgedoen na sy elektries geskok is deur ’n foutiewe kragdraad wat van die kragopwekker na die huis lei. Ek het 14:00 die middag na noodgevalle gejaag nadat my ‘baba’ met ’n bleek, verwarde gesiggie na my gestaar het van waar sy op die grond gelê het en ‘Mamma…’ gemompel het.

Later het my verskrikte 15-jarige, Denielle, vertel dat ons pleegsorg-Labrador, Ruby, die draad van Courtney af ge-“paw” het. Genadiglik het Courtney nie haar bewussyn verloor nie, maar was nogtans vir vyf dae in die kardiale intensiewe sorgeenheid. Sy moes ook ’n operasie ondergaan om die dooie weefsel in die brandwonde op haar handjie te verwyder. Die wonde het mooi genees sonder dat veloorplantings nodig was.

Deur jare van moeilike tye, oomblikke van twyfel, vir God vra “Hoekom?!” het ek altyd na die tyd – dalk ’n maand of twee, soms eers jare daarna – besef ons Hemelse Vader was by ons deur elke moeilike tyd.

Hierdie keer kon ek nie help om weer te vra “Hoekom, Here?!” nie. Na ’n jaar van baie hartseer vir my en my kinders insluitende die emigrasie van my geliefde suster (en steunpilaar), en haar gesin; die einde van ’n 15-jaar-lange huwelik; en dan nog die elektriese skok … Alles was net te veel.

Lizette en haar dogters Courtney (12) en Denielle (15).

Maar toe my vingers die letsels voel, het ek weereens besef, dinge kon soveel anders uitgedraai het. Dit klink dalk soos ’n cliché, maar deur al die dinge wat Desember voorafgegaan het, het God sy plan uitgelê.

My suster is miskien duisende kilometer ver, maar ek het steunpilare in vriendinne gevind wat daar was toe ek en my kinders in die nag byna vir ons lewe moes vlug; wat ons gehuisves het in ’n tyd wat ek nooit gedink het ek sal deurgaan nie. Vriendinne wat emosionele ondersteuning gegee het vir my twee pragtige dogters; Jesus-susters wat “ingecheck” het net om te hoor of ons oukei is, of hulle kan help, of net daai “regte” boodskap gestuur het op ’n dag wat ek gevoel het ek kan nie meer nie.

Ruby se “sussie” Harley en “boetie” Thor.

En daardie selfde vriendinne was daar toe ek langs my kind se hospitaalbed gesit-slaap het, maar geweet het sussa is veilig en versorg by haar tweede “Mamma”. Ek glo ook God stuur sy engele nie altyd in mens-vorm nie. God het vir ons ’n beskermengel gestuur in die vorm van Ruby, ons pleegsorg-Labrador. Was dit nie vir haar nie …

God se plan is nie iets wat ons ooit kan verstaan in die oomblik nie. Sy plan is soos ’n legkaart. Elke stukkie moet op die regte tyd, in die regte gleuf geskuif word om die volmaakte prentjie te vorm. Ja, baie keer voel dit of daar ’n stukkie of tien weg is, maar dan vind ons dit op die ondenkbaarste maniere, en dan pas daai stukkie perfek waar dit hoort.


Lees ook: ‘Die klippe sal uitroep’

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail