’n Gebed op die maat van die MRI-skandeerder

DEUR ELIZABETH VAN ROOYEN

Ek het hulle die eerste keer raakgesien toe ek agter hulle in ’n ry gestaan het. Ons het gewag vir die afhandeling van die Covid-19-protokol by die voordeur van die Mary Potter-onkologiesentrum by die Groenkloof Life Hospitaal in Pretoria.

Hulle het gevra waar die MRI-skanderings gedoen word. Toe is hulle op met die trap. Die regop pa, die ma met ’n hoofbedekking, en die petite dogtertjie met die pragtige lang, swart hare.

My eerste afspraak was om bloed te laat trek. Op die vraag hoe dit gaan, antwoord ek die jong man wat dié werk doen op gebruiklike wyse: “Gemiddeld-uitstekend. Daar is altyd iets om oor te kla, maar ja, daar is ook altyd iets om voor dankbaar te wees. En iets om te leer.”

LEES OOK: ’n Muur van vuur om Kleinmond-dominee

Toe vertel ek hom kortliks hoe die musiek in my kop my deur die MRI-skandering gehelp het. Sy gesig het verhelder. Hy het as student aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie in die koor gesing en in die orkes gespeel en aan musiekblyspele deelgeneem, vertel hy my. Hy het saamgestem dat dit ’n briljante plan is om ’n MRI-musiekstuk te komponeer. Hy mis die musiekbelewenisse wat hy as student gehad het, sê hy, maar hy ken iemand wat dit dalk sal oorweeg om so ’n werk te komponeer.

“Hou jy van musiek?”

Later kom ek weer die gesin van vroeër teë. Hulle het verdwaal op pad na die MRI-skandering. Gelukkig was ek met ’n vorige besoek daar en ek verduidelik dat hulle eintlik naby die plek is – dis hiér links, en dan verby dáárdie glasdeure. Ek vra: ”Wie gaan vir die MRI-skandering?”

Die pa beduie dat dit sy dogter is. Sy kyk na my met sulke groot, swart oë.

Ek buk effens af en vra haar: “Hou jy van musiek?”

Tegelyk sê haar ouers: “Yes.”

Haar ma wei effens uit: “She is doing music and she is actually quite good at it.”

Toe sê ek vir die dogtertjie sy moenie bang wees vir die groot skandeerder se geraas nie; sy moet eerder probeer om die musiek te hoor. Dit begin met ’n metronoom, sê ek, en dan kan sy self dink aan watter musiek by die ritme pas. Dit word harder en harder, sê ek, en soms voel dit asof jy by ’n sportbyeenkoms is waar die skare sing en skree.

Sy knik haar kop, glimlag dapper. Haar pa sit sy hand op haar skouer.

Ek groet: “Good luck!”

Sy waai vir my.

LEES OOK: Covid-19: Hartseerverhale oorweldig berader, maar God se genesende krag dra haar

Terwyl ek hulle agterna kyk, onthou ek wat ek al in die skandeerder gehoor het. Daar was onder meer: “Eendjies, eendjies in ’n ry; “Ek ken ’n liedjie wat almal irriteer”; die Groot Mars uit Aïda van Verdi; ’n paar keer was dit “Prys die Heer met blye galme”.

Sy sal haar eie liedjies hoor.

“Gesondheid!”

My CT-skandering verloop volgens plan. ’n Uur voor die tyd, 15 minute uit mekaar drink ons bariumsulfaat. Ek skink telkens ’n wit mengsel uit ’n groot beker in ’n plastiekglasie. Dan lig ek my glasie vir die ander pasiente wat soortgelyke sousies drink en sê: “Gesondheid!”

Die skandering is nie so erg soos die vorige keer nie. Ek is nie bang nie, en ek haal asem soos die blikstem aan my voorskryf. “Please breathe in and hold your breath,” beveel hy my.

Dié gedagte flits deur my brein: Mense met Covid-19 onder lede sal nie hul asem só lank kan ophou nie.

Uiteindelik gee die masjien my toestemming om weer asem te haal. En ek is dankbaar dat ek nie Covid-19 het nie, net kanker. Ek kan maklik en diep asemhaal, al was ek daarna dronk in die kop.

Na afloop van die skandering moet ek vir ’n mammogram en ’n sonar gaan. Ek is dankbaar vir die radioloog se verduideliking. Hy wys my selfs die vergelykende beelde op ’n yslike groot skerm. Daar is ook ’n bietjie goeie nuus: Dit lyk asof die gewas kleiner word. Nie korter nie, maar platter. Hy beantwoord baie van my vrae en ek voel beter.

Toe ek by die radioloog se kamer uitloop, kom ek drie bekendes teë. Die dogtertjie waai vinnig vir my. Ma en dogter stap haastig verby na die vertrek waar die mammogramme gedoen word. Pa wag in die gang.

“I have to be strong …”

Heelwat later, toe ek buite in die parkeergebied wag, kom die pa uit die gebou. Hy stap na my toe, hy groet. Toe sê hy: “I just want to thank you for what you have done for my daughter today.”

LEES OOK: Ondersteun mense met Covid-19 eerder só

Ek beleef ’n groot deernis vir hierdie pa met die kommer in sy oë. Hy vertel hoe sy twaalfjarige dogtertjie voorheen reeds ’n gewas in die buik gehad het. Daar moes ’n 15 cm-snit gemaak word om dit te verwyder.

Ek dink: So ’n klein lyfie, so ’n lang sny …

“And it was bad,” voeg hy by. En: “I have to be strong for my daughter, and it is difficult.”

Gelukkig was dit nie kwaadaardig nie. Dit het haar trouens sterker gemaak, vertel haar pa. As sy nou ander kinders sien swaarkry, kan sy hulle help. Sy is só ’n spesiale kind – en nou dit. Daar is weer ’n gewas. Hierdie keer in haar bors.

My hart wil breek oor die pragtige dogtertjie met die lang, swart hare. Die groot oë wat praat, al sê sy niks nie.

Elizabeth se ondersteundende ouers. Foto: Solly Levinson

Haar pa se sterk wees vir haar vir wie hy so lief is, laat my dink aan my eie pa wat my vanoggend gebel het. Hy het oor die foon vir my gebid. Dit het vir my net soveel beteken soos die snoesige pers kombers wat Ma vir my gegee het. ’n Warm kombers wat ek in ’n winternag om my draai, wat my met liefde toevou.

Pa het my opgedra aan ons hemelse Vader wat altyd by my is. Altyd, al rol die lewe jou om, soos wanneer ’n reusebrander oor jou spoel. Hy het vir my gebid, ’n gebed wat die storm stilmaak. ’n Gebed wat sagte musiek op die maat van die MRI-skandeerder maak.

  • Elizabeth is 57 en werk in die onderwys.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

#2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

DEUR ADRI COETZEE So breek my eerste chemoterapiesessie aan. Teen die muur in die onkologie-afdeling staan dié teksvers geskryf: Neh...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img