’n Geskenk van God

DEUR SUZANNE DE JONGH

Op 11 Oktober 2014 trou ek met my Jaco. Dit is die grootste dag in ons lewe. Ek is 32 en Jaco 36, en ons besluit ons wil so gou moontlik swanger raak. Ons is al twee baie lief vir kinders.

Maar die swangerskap kom nie … Ons is dokter toe, en ná verskeie toetse blyk dit dat daar nie juis ’n kans is dat ons ooit sal kinders hê nie. Ons het nietemin alles probeer, elke denkbare soort behandeling ondergaan. Ons het sonder ophou gebid. Gesmeek: “Here, seën ons asseblief met ’n baba.”

LEES OOK: ’n Baba ná agt jaar – en ’n nuwe beproewing

Een goeie oggend, opstaantyd, het ons saam besluit dit was nou genoeg hartseer, genoeg trane, genoeg verydelde hoop. Ons het vir vrede gebid, vir ’n hart wat sal stil word. Ons het vrede gekry. Ons het by God se wil vir ons lewe berus.

Maar teen 2018 se einde kry ons die nuus dat daar twee kinders vir aanneming beskikbaar is en ons raak sommer opgewonde. Ons het nie aansoek gedoen nie; dit het bloot gebeur. Min het ons geweet hoeveel trane die hele proses sou meebring …

Ons het alles gegee – en meer – om die kinders ons s’n te maak. Alles by NG Welsyn was in orde, ons verwysings was uitstekend, oplaas is ons goedgekeur. Ons het baie gebid, ons het God keer op keer gevra om ons te lei. Om ons die wysheid te gee om alles reg te kan hanteer. Ons het 2019 met hoop en verwagting ingegaan. Dié twee lyfies sal gou-gou ons s’n word.

Helaas …

Ná byna ’n jaar en baie trane het ons vir onsself gesê dat as ons teen Januarie 2020 nog nie die kinders het nie, ons daarby sal berus. Dan is dit nie vir ons beskore nie, en dan sal ons voluit voortgaan met ons planne om te emigreer.

Januarie het gekom en gegaan – en ons het besef ons veg teen ’n stelsel wat nie oorwin gaan word nie. Hierop is die bal vir ons emigrasie na Nieu-Seeland aan die rol gesit: agente, mediese verslae, polisieklarings.

LEES OOK: Caroline-Grace se gebed vir klein Iza

Toe word dit Maart, en die koronaviruspandemie slaan met mening toe. Jaco was in die buiteland en sy vliegtuig land vyf dae voordat Suid-Afrikaners ingeperk word. Ons is dankbaar om in dié tyd saam by die huis te wees, ons gesinnetjie van twee.

Iewers moet ek vir ’n mammogram dokter toe gaan, iets is fout – maar die uitslae kom negatief terug. Ek bly egter moeg en gaan saans baie vroeg bed toe. Ek kom agter dat ek gewig optel. My blaas begin lol en ek gaan dokter toe. Hy skryf medikasie voor; dit help niks.

Op 11 November word ek vir ’n pelvis-sonar gestuur om vas te stel wat die blaasprobleem veroorsaak. Die tegnoloog sê hy sien nie fout by die blaas nie, maar dit lyk vir hom ek is swanger. Ek kan my ore nie glo nie, maar dit word bevestig. Ek is reeds 23 weke swanger.

Ons staan in verwondering voor God se grootheid, sy tydsberekening. Ons lig ná die donker. Hierdie baba het nie net lig vir ons gebring nie, maar ook vir ons familie en vriende. Dit laat ons weer glo – glo in wonderwerke, glo in God se liefde.

Zanne is Suzanne en Jaco de Jongh se geskenk van God, vertel hulle. Foto verskaf

Dit word ’n “maklike” swangerskap. Ons word geseën met ’n perfekte dogtertjie. Sy heet Zanne, sy is God se geskenk aan ons.

Ons sal haar tot God se eer grootmaak. Ons sal elke dag, vir die res van ons lewe, van sy liefde getuig.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img