Sunday, July 25, 2021

’n Muur van vuur om Kleinmond-dominee

DEUR JACQUELINE LEUVENNINK

In Julie vanjaar gaan sit ek enkele treë van ’n wonderwerk af. Dat dr Chris Malan (55), leraar van die NG gemeente op Kleinmond, leef om oor sy pad met Covid-19 te kan praat, is niks minder as dit nie. Hier is sy storie:

Ondanks al sy pogings om die virus vry te spring, toets Chris op 18 Januarie, vyf dae voordat hy sy seun Christiaan met Tilana Benadie in die huwelik sou bevestig, positief vir Covid-19. Op Vrydagoggend 22 Januarie vertrek hy per ambulans na Hermanus Mediclinic. Sy vriend, ds Hendrik Saayman, kom bid eers vir hom in die ambulans en lê hom die hande op. Die volgende dag word Chris in die hoësorgeenheid opgeneem.

Christiaan en Tilana se wittebroodreëlings is getref, en die datum is reeds op die trouringe gegraveer. Chris vra Hendrik om die jong paartjie in die Saaymans se huis op Kleinmond te trou. Hy lê nou op sy maag met die CPAP-asemhalingsmasjien wat soos ’n seekat aan sy gesig kleef.

LEES OOK: ‘Ek fokus op die klein wonderwerke,’ sê kwadrupleeg op sy herstelpad

Maar op Kleinmond is die feestafel in die huis teenaan die see pragtig gedek en die jonge bruid is op haar mooiste getooi. Die Malans se dogter, Lize (23), plaas Chris se Jerusalemsandale teen die kateder se voetstuk en sê: “Pa Chris moet net op ’n manier ook hier wees.”

Later daardie aand praat die internis weer met die ma van die huis, Mientjie (54), oor die telefoon. Hy wou die oggend aan hulle voorgestel het om nie met die troue voort te gaan nie. “Jou seun se troudatum en sy pa se sterfdag kan tog nie dieselfde wees nie …”

Vyf dae later word Chris in ’n geïnduseerde koma geplaas. Nog twee dae later oorleef hy, steeds in die koma, ’n massiewe hartaanval. ’n Bloedklont wat deur die virus aangebring is, het deur sy hart gegaan.

Toe val sy regterlong plat. Die dokters reken dis die einde. Van die energieke prediker met die breë glimlag wat tennis speel en draf, is daar geen teken meer nie. Op ’n foto uit daardie tyd herken jy beswaarlik die man met die ingevalle wange.

Die internis het nie gedink ds Chris Malan gaan oorleef nie. Foto verskaf

Dis ’n uitgemergelde Chris wat op 12 Februarie uit die koma kom. Hy ervaar intense angs en magteloosheid. Sal hy ooit weer kan beweeg? Die medici besluit om hom na Vergelen Mediclinic in Somerset-Wes oor te plaas.

“Daar aangekom, red hulle die derde keer my lewe met ’n briljante ingryp,” vertel hy. Tydens ’n longoperasie word die korse afgeskraap wat weens die virus se aanslag gevorm het. Die absesse in sy long word oopgebreek en gespoel.

Kritiese spierverswakking laat Chris nie toe om ’n enkele ledemaat te beweeg nie. Die man wat in Grieks en Hebreeus onderlê is en flink gebaretaal met dowes kan praat, maak klikgeluide met sy tong om sy versorgers se aandag te probeer trek. Hy is te swak om selfs die klokkie te druk.

LEES OOK: Swanger vrou herstel van koronavirus

“Maar dis mense-engele wat my omring,” vertel hy.

Iewers later stoot die personeel sy bed uit. Hy lê onder lowergroen jakarandas en ’n helderblou lug. “Ek wens ek kan iets van die blou lug met my saamneem binne toe,” dink hy.

Die eerste keer dat hy self kan praat en weer regop sit om te eet, is sy nekspiere so verswak dat sy kop byna in die bord hang. “In hierdie hel van pyn, angs, eensaamheid en totale weerloosheid is dit die beeld van ’n verguisde Christus wat my telkens vertroos,” vertel hy.

LEES OOK: ‘Hoekom laat leef God my gestremde seun, en my gesonde kind sterf?’

“Elke keer as hulle my met die dreineringspype en al moet omdraai of bad, is dit ’n foltering. Toe die fisioterapeut my begin mobiliseer, kan ek nog geen ledemaat beweeg nie. Maar die wil om te oorleef, om weer te lééf, is daar.”

Op die foto is Meintjie, Chris en hul seun Christiaan en dogter Lize. Foto verskaf

“Elke liewe keer as ek na Hom uitroep, kom dié woorde uit Sagaria 2 na my toe: ‘Ek sal ’n muur van vuur om jou wees.’”

Die gesinsbediening by sy gemeente op Kleinmond stuur ’n boks vol briefies, en Mientjie pak granate in die vensterbank as ’n herinnering daaraan dat die Here se troue liefde elke môre nuut is.

LEES OOK: Al sou die virus ons nooit verlaat nie

Op 24 Maart word ’n angiogram gedoen en ’n stent word in die slagaar aangebring voordat hy twee dae later vir rehabilitasie na Spescare in die Strand oorgeplaas word. Hy vertel: “En ek is bang ek kan nie doen wat hulle van my verwag nie. Alles herinner my aan al die funksies wat ek verloor het.”

Agt-en-sewentig dae nadat hy hospitaal toe is, op 9 April, keer Chris vol dankbaarheid terug huis toe. Gaan die hondjies hom darem nog herken?

’n Skare geliefde vriende wag hom in die straat voor die huis in. Daar is geel strikke aan die bome en ’n groot banier waarop staan: Welkom terug! Ons loof en prys die Here vir jou!

Voor sy ontslag uit Spescare in die Strand het hy ’n boks vol briewe van die gesinsbediening in sy gemeente ontvang. “Elke more wanneer die gordyne op ’n nuwe dag oopgetrek word, herhaal ek Psalm 118: ‘Dit is die dag deur die Here gemaak, laat ons daarin juig en bly wees,’” vertel Chris. Foto: Verskaf

Die emosionele opbou is nietemin net so moeisaam soos die fisieke ongemak, en die mediese rekeninge stroom in. “Maar die Here sorg. Elke liewe keer.”

Van die rolstoel vorder Chris stadig na ’n loopraam, later twee kieries, en toe net een.

Op 1 Junie kom hy wankelrig op sy voete. Hy kan sy pligte versigtig begin hervat.

Jy sien hulle deesdae gereeld in Kusweg oefen-stap – die branders aan die een kant en die berg aan die ander kant. Met die Here se muur van vuur steeds om hulle.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img