Van my mooiste kleintydse herinneringe speel in en om ’n huis in Kroonstad in die Vrystaat af: donkerkamertjie in Ouma-hulle se kamer, of plaatkoekies bak in die groot kombuis met sy krakerige plankvloere. Om te mors, was ook nie teen die wet nie.

Buite het ons in die boomhuis in die groot akkerboom gespeel. Of kosmos gepluk of in die groot groentetuin gehelp. Saterdae het Oupa ons met sy donkerblou Volkswagen Kewer na die parkie by die rivier geneem waar ons ure lank gespeel het.

’n Rukkie gelede het ek ’n foto ontdek wat op een van daardie dae, sowat 30 jaar gelede, geneem is. As ek nou daarna kyk, voel dit asof ek weer op die reuse-skoppelmaai langs my broer en my niggie sit.

Ek is gelukkig genoeg om herinneringe aan nóg ’n ouma saam met my te dra. Haar meenthuis in Kempton Park was my daghuis tot ek laerskool toe is. Ek het oral saam met haar gegaan: die bank, Pick n Pay, die boetiek. Ouma het ’n oog vir mooi klere gehad – en sy het ook gesorg dat ek tot op universiteit gereeld ’n paar nuwe nommertjies kry.

Van die personeel in die bank en boetiek was Ouma se vriendinne, en dan het ons eers tee gedrink. Maar teen die middag was ons terug by die huis, waar sy vir ’n bord gekookte kos gesorg het. Later, toe ek in die hoërskool was, was sy my halfweghuis en het my bord kos in die mikrogolfoond op my gewag.

Ek onthou steeds hoe ek sommer met die intrapslag kon ruik of dit vanmiddag kerrie, sop of pannekoek gaan wees. Vandag nog laat dink die geur van kaneelsuiker my aan haar.

In vandeesmaand se uitgawe (bl 19 en verder) sal jy lees hoe bekende kokke en huiskokke sekere geure en geregte oproep wat hulle aan ’n geliefde ouma herinner. Soos Tiaan Langenegger wat praat oor sy buitengewone ouma Marie – en dat sy liefde vir kosmaak by haar begin het. Najla Swiegers het haar ouma Yvonne se Kersfeespoedingresep teen haar kombuismuur laat verf sodat sy elke dag dié sterk vrou vol wysheid en kennis kan onthou. Wat my die meeste van hierdie vertellings opval, is nie die kuns van bak en kosmaak wat deur die oumas oorgedra is nie, maar hoe hulle verantwoordelik was vir die talle geloofs- en lewenslesse wat aan hul kleinkinders oorgedra is.

Ek besef nou dat my ouma in Kroonstad my geleer het hoe geduld lyk. En dat jy altyd kos gee aan mense wat honger is. Ook hoe ’n standvastige geloof in God lyk. En dat die Woord jou wapen is. Elke aand het ons in hierdie grootouers se kamer op hul bed gesit en uit die Bybel gelees en gebid.

My ouma in Kempton Park het graag gesê: “Ek is my eie baas!” Sy was daarvan oortuig dat sy self oor haar doen en late kon besluit. Haar man, my oupa Johan, is reeds oorlede toe sy in haar vroeë 50’s was. Sy het nooit weer ’n spesiale liefde in haar lewe gehad nie, maar sy het haar geluk in haar kinders en drie kleinkinders gevind. By haar het ek onafhanklikheid geleer, en ’n liefde vir mooi klere. En dat omgee vir jou geliefdes in ’n bord gesonde kos vertaal kan word.

Daarom wil ek dié uitgawe opdra aan Annie Hamman wat op 89 steeds blymoedig leef, selfs in isolasie in die tehuis waar sy haar tans bevind. En aan Mercia Theron, reeds nege jaar gelede oorlede. En aan elke ouma oor wie daar in dié uitgawe geskryf word, en elke ouma in Suid-Afrika wat help om haar kleinkinders te vorm.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail