Tien jaar gelede is haar oudste seun, skoondogter en tweejarige kleindogter op hul plaas vermoor. Uiteraard was sy gebroke. Met verloop van tyd het daar tog heling plaasgevind. Hier is haar verhaal.

DEUR DEONETTE DE KOCK

“Attie en Wilma het nog daardie einste middag van die moord, ­1 Desember 2010, by my en my man André op die dorp kom inloer. Ons het buite gekuier, koeldrank gedrink, terwyl klein Wilmien op die grasperk rondgehardloop het.”

Ina, diep gelowig, het haar kinders se moordenaars volkome vergewe.

Só vertel Ina Potgieter van Lindley oor haar seun Attie (40), sy vrou Wilma (36) en hul tweejarige dogtertjie van die plaas Tweefontein. Ina was vroeër veertig jaar lank boervrou op die plaas Tondersrust, langs Tweefontein. Die afgelope 11 jaar woon sy op die dorp.

“Ons het ’n hegte verhouding met Attie en Wilma gehad, en ons het Wilmientjie só geniet. Sy was ’n vrolike, liefdevolle dogtertjie.

“Wilmien het in die week om die beurt by ons en by haar ander ouma, Bokkie van Staden, in die dorp gebly wanneer haar ma by haar werk op Arlington was. Ons het boekies gelees, ek en sy. Sy het graag in die sandput gespeel.

“Ná die kuiertjie daardie dag is Attie na die kitsbank om die plaaswerkers se lone te trek voordat hulle terug plaas toe is. Daar is hulle deur ses aanvallers ingewag.”

Skok, afgryse

Drie van die ses aanvallers was werkers op Tweefontein. Attie is met ’n panga gekap en met ’n tuinvurk gesteek. Wilma en Wilmientjie is die huis in gedwing. Daar is Wilma aangesê om die kluis oop te sluit.

Daarna is eers sy en toe Wilmientjie op teregstellingswyse in die agterkop geskiet.

’n Klompie plaaswerkers het die volgende oggend na Attie se buurman gegaan en gesê hulle vermoed onraad op die plaas. Die buurman en dié se pa het gaan ondersoek instel en die grutoneel aangetref.

Hulle het die polisie laat weet. ’n Familievriend het die verpletterende nuus aan Ina en André kom oordra.

“Die skok, die afgryse. Dis wat ek onthou. My hartseer was oorweldigend. “Daar het baie vrae deur my kop geflits. My eerste gedagte? ‘Waar was die Here dan?’

“My man is saam met ’n vriend na die moordtoneel. Ons was stom van verdriet.

Tydens die begrafnis is hierdie herinneringsblaadjie uitgedeel.

“Maar ons is op ’n wonderlike manier deur ons gemeenskap en vriende bygestaan. Hulle het vir ons gebid, hulle het ons met liefde oorlaai, ons getroos. Hulle het kos aangedra.”

’n Week later is Attie, Wilma en Wilmientjie vanuit die NG Kerk op Lindley begrawe.

Net drie woorde

Ina vertel verder: “Ek het eers baie later besef hoe die mense ons gehelp het om deur daardie moeilike tyd te kom.

“My twee ander kinders, Arno en Mercia, het elkeen op hul eie manier swaargekry. Arno en sy vrou boer op ons plaas Tondersrust buite Lindley. Mercia en haar man woon in Kanada. Hulle het twee dogtertjies.

“Ek het in ’n huis grootgeword waar Christelike beginsels uit die Woord eerbiedig is. Soos ’n mens maar groei, het ek gaandeweg besef jy moet ’n persoonlike verhouding met jou hemelse Vader hê.

“Maar waar ek vroeër altyd in gebed na God gegaan het om sy Naam te verheerlik, Hom te dank en my behoeftes aan Hom bekend te maak, was my gebede in daardie hartseertyd kórt.

“Soms het dit bloot uit hierdie drie woorde bestaan: ‘Here, troos my!’”

Hartseer, gebroke, moes Ina met die lewe voortgaan. Vol pyn.

Tot een besonderse aand. Sy vertel: “Daardie nag, sowat twee maande ná die moord, het ek ’n baie helder droom gehad. Ek het my kinders sien wegstap – en hulle het in God se ewige lig ingestap.

LEES OOK: Virtuele gedenkdienste: Kleindogter wil ander help na oupa se dood

“Onbewus van my droom het ’n bekende kunstenaar van Clarens, Loezytha, ’n paar maande later vir my ’n skildery gestuur waar Attie, Wilma en Wilmientjie wegstap met ’n helder lig wat om hulle skyn.

‘n Skildery van Attie, Wilna en Wilmientjie wat Ina present gekry het.

“Daar was ’n Skrifgedeelte by, Openbaring 7:16-17. Dit lui só: ‘Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie, die son sal hulle nie brand nie en ’n hittegloed ook nie, want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal die trane van hulle oë afdroog.’

“Dit was só besonders. En ’n bevestiging van die droom wat ek gehad het. ’n Groot vrede het oor my kom lê.

“Ek het vir my man gebid, dat hy ook God se vrede sal ervaar. En ’n paar maande later het ook hy ’n besonderse droom gehad. Hierin het hy Attie se gesig gesien. Maar dit was nie die verminkte gesig wat hy daardie verskriklike dag op die plaas moes aanskou nie; hierdie een was ongeskonde.

“Dit het vir hom baie vrede gebring.”

DEEL JOU GETUIENIS HIER.

’n Wilsbesluit

“Ons het nooit vir berading gegaan nie. God was ons Berader,” sê Ina.

So gou soos drie weke ná die moord het sy en André, saam met ’n klompie vriende en medegelowiges, ’n biduur op Attie-hulle se plaas gehou. Hier het hulle ook vir die ses misdadigers gebid.

’n Gesellige familiekuier met (agter links) Andre, Mercia en Attie, (voor links) Ina en Wilna.

“Later het ’n klompie vroue ’n Bybelstudiegroepie by ons huis begin,” vertel sy. “Ek kon met hulle die emosies deel wat ek ervaar het. Dit het sóveel heling en genesing gebring.

“Die een waarheid wat ek in daardie tyd geleer het, was om ander se oortredings te vergewe soos Jesus ons vergewe het. Dit het my vry gemaak om sonder bitterheid te leef.

“Dit was ’n wilsbesluit om daardie ses te vergewe. Die emosies wat jy ervaar, lei jou om nié te vergewe nie. Maar as jy daardie wilsbesluit geneem het, beleef jy vryheid en ’n soort vrede wat net God jou kan gee.

“Jesus het immers in Johannes 20:23 aan sy dissipels gesê: ‘As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.’”

‘Vergifnis is gehoorsaamheid’

Ina en André het die hofsaak in Junie 2011 in Bloemfontein bygewoon waar die ses aangeklaagdes aan moord skuldig bevind is.

Sy vertel dat toe sy na hulle gekyk het, daar net ’n groot hartseer en jammerte in haar hart vir hulle was. Sowel Ina as André se begeerte en gebed was dat die moordenaars Jesus as hul Verlosser en Saligmaker aanneem.

Attie en sy hond, Optel.

Ina het ’n vriend gevra om vir elk van die ses moordenaars ’n Bybel te neem. Sy sê: “Die Here is nie net my Verlosser nie, Hy is ook daardie ses se Verlosser. God het ’n passie vir siele, en ons is sy medewerkers. As ek wil vergeld, staan ek nie onder God se gesag nie; dan is ék die gesag.

“’n Mens vergewe uit gehoorsaamheid. Die Here belowe ons in sy Woord dat Hy ook ons sondes sal vergewe. Dit gaan nie net oor ons nie, maar ons is sy medewerkers. Ons veg teen die koninkryk van die duisternis.

“Maar eendag sal ons ook in sy ewige lig wees, die ewige lewe wat Hy beloof het. Uiteindelik gaan alles oor God, nie oor ons pyn of swaarkry nie.”

Vandag, sê Ina, leef sy in dankbaarheid. Sy is by ’n Bybelskool betrokke, asook die Lukas-huis wat kos aan kinders voorsien.

Sy kyk met ander oë na mense, vertel sy. En met ’n omgee-hart.

“Ek kan vandag getuig dat dit waardeur ons is, ons God se grootheid laat beleef het. As ons soms so hartseer is, of na foto’s van Attie-hulle kyk, word ons getroos deur die wete dat ons hulle weer sal sien.

“Ek sien met groot verwagting uit na Jesus se wederkoms. Daardie dag sal ons weer met ons kinders en met klein Wilmien herenig wees.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail