Sunday, July 25, 2021

Begrafnisse: Hoe moet ’n ruimte van verlies vandag lyk?

24 Mei 2021

Ons begrip van ’n begrafnisdiens het alles te make met ons verstaan van God. En met hoe ons oor die lewe en die dood dink. Wanneer ons vir die laaste afskeid vergader, behoort die plek waar ons bymekaarkom dit te weerspieël. Juis ook in die pandemie-tyd.

Deur LISEL JOUBERT

Soos die holte van die Here se hand.

Dit was my gewaarwording een Saterdagmiddag dié jaar. Dit was tydens ’n roudiens, en die omstandighede rakende die afsterwe het meer vrae as antwoorde gelaat. Ek het diep bewus geword daarvan dat die ruimte waar die klompie vriende en familie bymekaargekom het, soos die holte van die Here se hand is.

’n Plek het ’n metafoor vir deernis geword, te midde van die gestrooptheid wat deur die omstandighede genoodsaak is.

God se hande

Dié beeld bly my by, want dit resoneer met ’n soortgelyke beeld wat ek soms tydens begrafnisse en roudienste gebruik – “die hande van God”. Ons lees dié woorde in Genesis 2:7: “… die Here God (het) die mens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas” (2020-vertaling).

Die Hebreeuse werkwoord wat hier met vorm vertaal word, is dieselfde woord wat gebruik word as ’n pottebakker iets uit klei met sy of haar hande maak.

LEES OOK: ‘Daar is werklik engele om ons,’ vertel skrywer ná haar dogtertjie se dood

Enige kunstenaar sal kan beaam dat dit wat jy in jou hande vorm, ’n verlenging van jouself is. In die lig van Genesis 2 spits ons dus ons ore wanneer ons dié Jesus-uitroep aan die kruis hoor: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk 23:46).

Dis dieselfde hande. Dis die holte waarin ons ook ons gestorwe geliefdes met vrymoedigheid plaas.

Kompleks en misterieus

Daar is veral twee geleenthede waar ons sonder meer van ons woorde gestroop word – op Goeie Vrydag en by ’n begrafnisdiens. Hier waar die dood so ’n sentrale fokus het, is ons taal ontoereikend. En ons moet regtig nie te veel praat of verduidelik nie.

Daarom verlang ek na ’n vaste liturgie wat my en die teenwoordiges sal dra. ’n Liturgie wat uit ’n vaste formule, teks en lied bestaan, gee ons die woorde en ritme wat ons herinner aan wie die God is in wie se teenwoordigheid ons nou verkeer.

LEES OOK: ‘’n Winkelsentrum vol mense het vir mý kind gebid’

Die lewe is kompleks en misterieus, en ons kan nie God se geliefdes se lewe na behore gedenk in ’n diens wat meestal korter as ’n uur duur nie. By die inkleding van so ’n diens moet ons immers reg laat geskied aan die misterie van die drie-enige God, die lewe en die dood.

Twee sake kom ter sprake:
* Hoe kleur ek die ruimte in waarbinne die geliefde gegroet word?
* Hoe gemaak wanneer die maatreëls ra­kende die koronaviruspandemie vereis dat ek buite die bekende aanbiddingsruimte moet afskeid neem?

Om by eersgenoemde te begin: Rou­dienste het deesdae grootliks die norm geword, met die gevolg dat daar nie ’n oop graf is waar die afskeid en dus die voorlopige afsluiting kan plaasvind nie. Daar moet dus kreatief gedink word aan ’n soort ritueel wat ’n soortgelyke psigologiese en teologiese funksie kan vervul as die kis wat in die graf afsak.

Daar kan gedink word aan ’n kers wat aangesteek word, ’n saadjie wat geplant word, ’n klippie by ’n foto. Soms is die kis byderhand en kan die naasbestaandes om die kis vergader. En dit wat gewoonlik by die oop graf gebeur – ’n begrafnisformu­lier, die geloofsbelydenis en ’n gebed – kan dan hier plaasvind. Die plaas van die as in ’n nis of iewers in die natuur kan ook die plek word waarvanuit die Woord gebring word.

Andersins kan die liturgiese tekens in ’n kerkgebou – onder meer die doopvont, wynkelk en brood – as sigbare simbole gebruik word om die teenwoordiges te herinner aan die groter verhaal waarbinne ons in ons lewe en sterwe ingeweef is.

Die tweede saak, die Covid-19-pan­demie wat ons op vele maniere getref het, het beteken dat baie van die bekende en gebruiklike omvergewerp is. Vir lank is geen begrafnisdienste in die kerkgebou toegelaat nie en mag slegs ’n klompie mense by ’n graf byeengekom het.

Al is sommige regulasies met verloop van tyd effens verslap, het ander omstandighede die afsluitingsproses verhinder, onder meer die druk op begrafnisondernemers en die lang wagtyd vir die as.

Gevolglik is die rouproses uitgestel, en verleng. Daar word steeds gehoor hoe familielede nie by ’n geliefde se sterfbed toegelaat is nie. Hoe daar ook nie daarna ’n gepaste afskeidsgeleentheid gereël kon word nie. Uiteraard het daardie kosbare familiebyeenkoms nadat die gestorwene vir laas gegroet is, in die slag gebly.

LEES OOK: ‘Ons moes alles aan Hom oorgee …’ sê LiG-leser na korona pa, sussie eis

Die meeste gemeentes moes noodgedwonge tegnologie inspan om die afskeidsproses op ’n sinvolle manier te probeer voltrek. Veral familielede wat deur provinsiale en landsgrense van mekaar geskei is, moes hiervan gebruik maak. Maar daar is sóveel prysgegee – die saamwees, die liturgie, ’n pastorale ruimte …

Dood en angs. En God

Te midde van hierdie verliese moet ons nietemin dankbaar wees dat daar alternatiewe bestaan. Die vraag is wel steeds: Wat is die kernelemente van ’n begrafnisdiens, of dit nou bekende of minder bekende elemente behels?

Die belangrikste element in alle omstandighede is hoe die diens na God heenwys.

Ons staan immers telkens, in ons gestrooptheid, voor die dood en voor God. Wat ons dan oor God getuig, is van kritiese belang. As ons dit goed doen, hoef die voorganger nie aan kwesbare mense te vra of hulle gered is en of hulle “saak met God” reg is nie.

Miskien is die voorganger se taak eerder om die roubeklaers opnuut van hul weerloosheid bewus te maak. En van God se genadige teenwoordigheid in dié weerloosheid, omdat Hy aan die kruis ook weerloos was. Veral in ’n tyd van wêreldwye angs en trauma is dit belangrik dat ons ons woorde sal weeg as ons moet getuig in ’n plek waar ’n verlies akuut gevoel word.

By ’n roudiens is almal van hul sterflikheid bewus, en dit het angs tot gevolg. Dit laat die voorganger ook met die taak om daardie angs te konfronteer.

Hoe nou gemaak? Dalk help die onderstaande:

  • Die bekende Henri Nouwen sê dat ons die dood moet bevriend. Hy skryf onder meer: “I have a deep sense, hard to articulate, that if we could really befriend death we would be free people.”
  • Die Apostoliese Geloofsbelydenis help ook. Dié belydenis is deurvleg met wat ons oor die Skepper en die skepping glo. Ons bely dat God skep. Dat wat God skep, goed is. Dat Jesus self deel van die skepping geword het. Dat Hy uit die dood opgewek is. En ons bely die opstanding van die liggaam.
  • Die Skeppergod skep altyd nuut, altyd meer as wat ons verstaan. Dat Jesus uit die dood opgewek is, word nie ’n maklike antwoord nie. Maar dit bring ons in ons verlies by die misterie dat God altyd skep en herskep. Dat niks ooit die einde is nie. Dat God skeppend besig bly, tot in die dood.

Tydens die pandemie het die dood eensklaps vir baie mense ’n baie groter werklikheid geword en het die ruimte waarin afskeid geneem word ’n plek geword waarin ons werklik ons sterflikheid kan omhels.

So ’n ruimte moenie ’n plek word waar ons ons nuuskierige vrae oor die dood beantwoord wil sien nie. Dit moet ’n ruimte wees wat oor ons begin en ons einde getuig. Oor Hom in wie se hande ons onsself en ons geliefdes met vrymoedigheid oorgee. Só word die angel uit dood en afskeid gehaal.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img