Sunday, July 25, 2021

’n ‘Skewe potjie’ vind haar deksel

23 Februarie 2021


DEUR RENTIA VAN VUUREN

Ek hoor dit weer: “Mamma, jy moet saam met my bid vir ’n man.”

Ek dink: “Heer, sal ek U belas met iets so onwaarskynlik soos my dogter met downsindroom wat ’n man wil hê? Tog sê U dat wanneer ons met ’n opregte hart vra, U sal voorsien.”

Dan bid ek saam met Nita vir haar man. Saggies dink ek, met ’n soort opgewondenheid wat diep vanuit my siel borrel, “Here, by U is niks onmoontlik nie!” Ek begin saam met Nita uitsien. En saam droom oor die dag dat sy voor die kansel sal staan.

LEES OOK: ‘Brandvlei se boere kort nóú hulp’

Een naweek gaan ons saam met my man Ian na ’n plaas waar hy werk. Daar hoor ons van Gert Muller, ’n gestremde jong man op ’n plaas daar naby wat baie alleen is en dalk goeie geselskap vir Nita kan wees.

Ons reël ’n afspraak vir ’n melkskommel. Aanvanklik was die twee tjoepstil. Af en toe loer hulle so onderlangs na mekaar. Die hoofsaak was die melkskommel.

Maar die vriendskap het gegroei en hulle het gereeld by mekaar begin kuier. Voor ons ons oë kon uitvee, was daar ’n verliefdheid in die lug. Ons het die wedersydse aangetrokkenheid gesien.

Die ma van die bruid, Rentia van Vuuren, saam met die twee verliefdes. Foto verskaf

Gou het Nita se wêreld om Gertjie begin draai.

’n Familievergadering was die volgende stap. ’n Noodsaaklikheid, want die woordjie “trou” was op die twee jonges se lippe. Een naweek het ons, die onderskeie ouerpare, by die Mullers se plaas (buite Hochfeld, Namibië) byeengekom en mekaar beter leer ken. Ons het kopstukke gesels, planne gemaak. Ons het maar kopgekrap.

Ons het Nita en Gert gereeld ingeroep, gevra wat hul wense was. En gou agterkom dié twee weet presies wat hulle wil hê.

LEES OOK: Leer jou kind selfdissipline

Trou wou hulle trou. Toe moes Gert verby sy aanstaande skoonpa kom. Styf teen sy ma Ria het hy een middag al sy moed bymekaargeskraap en Ian gevra of hy met Nita kan trou.

Dankie, Here, vir ’n pappa met deernis en nat oë. Daar was ’n heilige atmosfeer, iets hemels, en ’n duidelike “ja!”.

Nita het die hele hofmakery en die vraery lankal reeds in haar gedagtes gevorm gehad. Sy het dit baie duidelik gestel dat Gert op sy knieë moet gaan as hy haar vra. Op 15 Julie 2018 het ons die verlowingspartytjie op die plaas gehou nadat Gert die ring aan Nita se vinger gesteek het. Onder ’n witgatboom in die veld het Gert inderdaad op sy knieë gegaan en die ja-woord gevra.

Vir Nita en Gertjie was hulle wens om te trou ononderhandelbaar. Hulle straal van vreugde met hulle verlowing. Foto verskaf

Daar is besluit dat hulle op 23 Maart 2019 trou. Die troue moes iets baie spesiaals wees, en lekker. Al veertien familielede sou ’n bepaalde rol daarin speel.

Nita het al wat leef en beef troue toe genooi, voor die voet. Oplaas het ons besluit om ’n ope uitnodiging aan die hele gemeente en al die familie en vriende te rig. En slegs enkele, uitgesoekte gaste na die onthaal genooi. Ons het die uitnodiging só bewoord:

Dit maak nie saak waar jy jou bevind het toe daar op 23 Julie 1990 ’n potjie, ’n bietjie skeef volgens die wêreld, gebore is nie. Min wetende dat ’n bietjie vroeër, op 18 September 1981, daar ’n dekseltjie vir hierdie potjie gebore is.

Wat maak dit saak dat hulle in ’n spesiale skool geleer het? Nita verdien ’n inkomste uit haar bak en brou, en Gert boer lekker.

Wat maak dit saak dat daar nie babas sal wees nie; die winkels is vol lap-babas. Wat maak alles tog saak?

Wat wel saak maak, is dat Nita en Gert se gebede vir die regte lewensmaat verhoor is, en dat julle op Saterdag 23 Maart saam met ons kan kom getuig van die werklikheid van God se liefde en genade.

Nita was só opgewonde oor haar troudag, dat sy almal wat leef en beef genooi het. Daar is toe maar besluit om dit ’n ope uitnodiging vir hulle gemeente, vriende en familie te maak. Foto verskaf

Die groot dag het vinnig nader gekom. Gert het uit moedeloosheid vir Nita gereeld daaraan herinner dat sy moes kalm bly, want, het hy gesê, “dis nog net 80 jaar voor ons trou”. Humor sal altyd deel van ons lewe bly …

Op 23 Maart, 14:50 daardie middag, het Nita, beeldskoon en stralend, in die troukar aangekom. Die musiek het begin, pappa Ian was gereed om sy enigste, baie spesiale dogter die kerk in te bring.

Die strooimeisies met hul lampies het voor Nita uit geloop, nefies Willian en Sivan het angstig die blomme en juwele gebring en aan die bruid oorhandig. Die ramshoring het die koms van die bruidegom aangekondig, en Gert, begelei deur die strooijonkers, het binnegekom.

Nita en Gertjie voor die kansel in die NG gemeente Academia in Windhoek. Foto verskaf

Dit was ’n pragtige seremonie. Daar was ’n eenvoudige boodskap, daar was dankbare gaste.

Met hul aankoms by die onthaal was dit weer duidelik dat Gert en Nita twee mense is wat ’n verskil in ander se lewe maak. Nita se groot oomblik by die onthaal was om vir Gertjie saam met Juanita du Plessis te sing: “Ek wil oud word saam met jou.”

Ons het hulle toegebid: “Ja, word saam oud. Geniet en bederf mekaar. Nooit weer hoef julle alleen te voel nie, want elkeen het ’n maatjie gevind. Mag julle vir altyd gelukkig wees in jul eie, pragtige huis op die plaas.”Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img