DEUR JACOBIE M HELENA

“Voor sy met trane in haar oë weggestap het, het ek haar eers ingenooi. Die ma met die babadogtertjie op haar skoot, toegedraai in ’n kombers, het lank vir ‘Azenathi’, soos die ma haar genoem het, gekyk.

“Sy het lank na haar gekyk asof sy elke klein detail van haar dogtertjie se gesiggie wou inneem en in haar hart bêre.”

Só vertel Lizette van Niekerk, direkteur van Môrester Kinder- en Jeugsorgsentrum in Ladysmith. Dit was die eerste dag van inperking, en ’n 23-jarige Zoeloevrou het haar twee dae oue baba vir Lizette kom gee.

Twee vroue met baba

Yolo Gqamane (links), die maatskaplike werker, en Happy Simelane (regs), die mediese assistent en matrone, hou vir Azenathi vas.

“Ek het haar hand geneem en gevra of ek vir haar kan bid. Ek kan nie Zoeloe praat nie en skaars Engels, want ek het in die Karoo grootgeword. Maar tussen die trane, het ons saam gebid. Ek het ook vir haar beskerming gebid. Ons albei het aan die knop in ons keel probeer sluk, maar die trane het vryelik gevloei,” vertel Lizette oor dié heilige oomblik.

Lizette het in daardie oomblik van gebed die tasbare teenwoordigheid van die Heilige Gees beleef. Verder weet sy die jong mamma is deur God se genade omvou. Dié mamma het ’n desperate besluit oor haar dogtertjie geneem, omdat sy die beste vir haar kind wil hê, glo Lizette.

Sy vertel dat die vrou pas uit die hospitaal ontslaan is nadat sy twee dae vantevore geboorte aan die dogtertjie geskenk het.


LEES OOK

Gesinsgeweld in die grendeltyd

Hoekom wil jy kinders hê?


Lizette onthou ook die oomblik toe die vrou sonder haar dogtertjie weggestap het: “Sy het haar dogtertjie, met oë vol trane, vir my gegee. Ek het met klein Azenathi in my arms gestaan en my hart het van emosies geruk. En terwyl sy wegstap, glo ek, het sy geweet dit was die regte besluit vir nou. In ’n ongewone, onbekende en onsekere tyd sou hierdie babadogtertjie ’n veilige hawe vind,” sê Lizette.

Lizette sê sy koester lankal ’n droom waaroor sy nou sekerheid het. “Die koms van die baba by die jeugsorgsentrum was vir my ʼn bevestiging van die Here dat ek my droom om ʼn veilige hawe vir pasgebore babas te skep, moet verwesenlik. Dit is ʼn opdrag van Hom af,” sê Lizette.


’n Babaveiligheidshouer

Lizette droom sedert 2019 om ʼn sogenaamde “babaveiligheidshouer” by die jeugsorgsentrum, wat net ʼn blok van die provinsiale hospitaal geleë is, te laat installeer. Die “Emseni Baby Safe Box”-projek is vroeg in 2019 gebore en deur die jaar ontwikkel.

Die doel van die projek is om ʼn veiligheidshouer op die terrein te hê sodat moeders wat nie vir hul babas kan sorg nie, die baba in die houer kan plaas. Die personeel van die jeugsentrum sal die baba dan versorg en die administrasie hanteer dat die baba aangeneem of in pleegsorg geplaas kan word.

Werkers installeer die boks

Manie van Niekerk en ‘n werker installeer die “Emseni Baby Safe Box” by die jeugsorgsentrum.

Dié veiligheidshouer, wat ongeveer R25 000 kos, is toegerus en ontwerp om babas teen alle weerselemente te beskerm. Daar is ook ʼn sensor in die houer om die personeel onmiddellik in kennis te stel indien ‘n baba in die houer geplaas word. Die houer sluit ook na buite sodra die baba in die houer neergelê is. Die projek het in 2019 gegroei en die houer is in 2020 deur die terreinbestuurder, Manie van Niekerk, gebou.

*Indien jy dié projek wil ondersteun kan jy gerus vir Lizette van Niekerk by 036 637 7977 of 083 306 7016 kontak.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail