‘Ná 16 jaar gee God my lewe vir my terug’

DEUR SUSAN BRAND

Ons bid so maklik en sê: “Here, ek glo dat U enigiets kan doen; selfs bo wat ek kan dink of vra.”

Maar glo ons regtig dat dit kan gebeur?

‘Die maagpyn was onbeskryflik’

In 2006 het ek begin om aan vaste kos te verstik. Mettertyd het ek daaraan gewurg. Dokters by die gastro-kliniek in die Strand het my behandel. Die diagnose het gewissel van Crohn se siekte tot “miskien het daar ’n wattedepper in jou maag agtergebly ná jou histerektomie”.

LEES OOK: ‘Ek speel weer viool saam met my dogtertjie,’ vertel 42-jarige vrou ná Covid-19, ’n beroerte en drie breinoperasies

Die gastriese toetse was ongemaklik en seer; die maagpyn wat ek ervaar het, was onbeskryflik.

Ek is elke maand terug na die kliniek – totdat ’n dokter my in 2007 gediagnoseer het met motorneuronsiekte in my sluk.

Wanneer ek by vriende of familie gekuier het, het almal geweet ek kan nie eet nie. My stapelvoedsel was tee, baie dun sop, jogurt, ystee, en af en toe ’n cappuccino of sjokoladedrankie. Ek mag ook nie speserye ingekry het nie, want dit het die maagpyn vererger.

My siekte het my eensaam gemaak

Dit was ’n moeilike tyd. Sommige mense het probeer verstaan; ander het gewonder of ek nie dalk ’n dieetsiekte het nie. Of dalk “sommer net aansit”.

‘My aanvaller se oë het soos die duiwel s’n gelyk’

Dis baie erg as jou mense gesellig verkeer by ’n braai – en daar sit jy in hul midde, die pretbederwer. Ek het later begin wegbly van ’n kuier met vriende en familie. My siekte het my eensaam gemaak …

In Februarie vanjaar is ek weens epilepsie in die hospitaal opgeneem. Ek het sommer op ’n dag deurmekaar geraak, en nie geweet dis epilepsie nie.

Terwyl ek in die hospitaal was, het my man Evert eendag by die saal ingestap en gesien daar staan ’n bord gekookte kos. Hy het die saalsuster gevra wie se kos dit is en sy het geantwoord dat dit myne is. Hy was baie verontwaardig en het gevra dat hulle dit wegneem, want ek mag nie vaste kos eet nie.

Daarop het die suster gesê dat ek al sedert my opname daar vaste kos eet. Evert was uit die veld geslaan.

’n ‘Absolute wonderwerk’

As ek nou daaraan terugdink, is dit eintlik so snaaks … Die dag voor my opname in die hospitaal kon ek slegs vloeistowwe afsluk – en daar eet ek op my eerste dag in die hospitaal ’n volledige maaltyd: vleis, rys, ertjies, pampoen.

Ek was natuurlik nie daarvan bewus nie; ek het in daardie stadium nie eens geweet wat my naam is nie! Die dokters het aan die epilepsie aandag gegee; daar was geen behandeling vir my slukprosesse  nie.

Tot vandag toe eet ek normaal, en ek kan my kos saam met vriende en familie geniet. Met my verjaardag in April kon ek die eerste keer in jare van my eie verjaardagkoek eet.

Almal wat my ken, was verstom. By geleentheid het ’n dame vir my gesê dis sowaar die eerste keer in al die jare dat sy my sien eet.

Ek was intussen weer by my dokter en psigiater en nie een van hulle het ’n verklaring vir my herstel nie, behalwe dat dit ’n “absolute wonderwerk” is. Al twee dokters is ten volle bewus van my mediese geskiedenis.

Ná 16 jaar …

Hoe kan ek anders as om my genesing toe te skryf aan ’n wonderwerk uit Vader God se hand? Ek glo in die dokters en die medikasie wat hulle voorskryf, want God gebruik dokters as instrumente in sy hand.

Dié radikale ommekeer in my lewe en gesondheid het wel ons voete onder ons uitgeslaan. ’n Mens glo, ja, maar diep in jou wese voel jy tog dat dit nie moontlik is nie.

Dalk omdat jy dink jy is nie goed genoeg nie …

Moet nooit dink jy is nie goed genoeg om deur God raakgesien te word nie. Ons “beperk” God soms tot ons menslike verstand, maar Hy is ons almagtige Vader, die God van hemel en aarde.

Ek is so dankbaar. Selfs al het ek epilepsie, voel ek steeds spesiaal in God se oë. Ek eet deesdae alles waarvoor ek lus is en ek kan my lewe ten volle geniet.

My boodskap aan die wêreld is: God is groot; daar is níks wat vir Hom onmoontlik is nie. Vir my het Hy vér bo wat ek kan bid of dink, gedoen. God se genade het nie ’n begin of ’n einde nie; dis oorvloedig. Ek eer my hemelse Vader vir ’n nuwe lewe.

Ná 16 jaar gee God my lewe terug aan my. My hart loop oor van dankbaarheid.

  • Susan Brand woon in Kraaifontein in die Wes-Kaap.
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img