4 Maart 2021


“By die dood voel dit asof twee wêrelde aan mekaar raak,” skryf dr Roelf Opperman in ’n nuwe boek oor trauma en veerkragtigheid wat eersdaags as digitale boek by LiG verskyn.

Opperman se aangrypende verhaal getiteld Ek wil nie dié kaarte hê nie is dié van ’n pa wat nadink oor die dood van sy dogter Claudi wat onlangs op 27-jarige ouderdom ná ’n fratsongeluk oorlede is.

LEES OOK: ‘Ek is verpletter na klein Miga se dood, maar God is my Lewensredder’

Die verhaal word vanaf 8 Maart 2021 in vier aflewerings op www.lig.co.za gepubliseer, volgens Conette le Roux, die webredakteur by LiG. “Dis ’n verhaal van opstaan ná trauma wat ons graag gratis met ons lesers wil deel op LiG se groeiende digitale platform,” sê sy.

Opperman het beplan om ’n boek te skryf oor sy eie reis en te reflekteer oor die dood van sy kind, maar dit het vinnig meer geword. “Dit gaan oor die heelword na enige trauma in jou lewe. Dit gaan oor ’n veerkragtigheid om te oorleef na ’n egskeiding of die ontdekking van ’n kankergewas. Dit gaan oor die heelword in jou menswees na jou besigheid bankrot gespeel het of nadat een van jou ledemate afgesit is. Dit gaan oor die herstel na trauma en ook hoedat jy ander mense wat deur trauma is, kan bystaan,” verduidelik Opperman, ’n dominee van die Familiekerk NG Kameeldrif in Pretoria.

Claudi, wat soos haar pa predikant was, is op 27-jarige ouderdom na ’n motorongeluk oorlede. Foto verskaf

Opperman sê verder dat sy reis nog lank nie verby is nie. “Tussen al hierdie vrae deur besef ek dat ek hier begin krap aan ’n misterie – aan iets wat ons nooit hierdie kant van die graf heeltemal sal verstaan nie. Ek het al hoe meer besef dat wanneer ons oor die dood en ons belewenisse daar rondom praat, God op die een of ander manier teenwoordig is,” skryf hy.

LEES OOK: VIDEO: Vermoorde Charl Munnik se suster gesels oor sy nalatenskap

“In die dae en weke na die fratsongeluk het ek iets van hierdie ruimte tussen ’n hemelse wêreld en ’n aardse wêreld beleef. Tussen die hartseer en verslaentheid en angs was daar ook onverklaarbare God-oomblikke. Dit was oomblikke wat ek nie kon verklaar nie en nie eens altyd besef het dat dit daar was nie. Dit was heilige oomblikke waar ek vir God op onverwagte plekke en in vreemde mense raakgeloop het. Hierdie oomblikke word deur die boek vervleg.”

Dit is Opperman se wens dat lesers na trauma sal kan terugkyk, en ook sulke oomblikke sal raaksien.

Hoe werk dit?

Die eerste aflewering sal op Maandag 8 Maart op www.lig.co.za verskyn.

Aflewering 1:

  • Opperman en sy dogter Claudi se stories word vertel.
  • Opperman vertel ook traumaverhale van ander.

Aflewering 2 (op 9 Maart):

  • Opperman fokus veral op emosies (woede, dankbaarheid ensovoorts) wat losgekom het – baie keer emosies wat hy nie eens geweet het bestaan nie.

Aflewering 3 (10 Maart):

  • Opperman delf tussen al die hoekom- en waarom-vrae rond. Diep vraagstukke soos die sin van die lewe en die waarde van geloof word ontgin.

Aflewering 4 (11 Maart):

  • Wat nou?
  • Hoe oorleef hy?
  • Waarheen is sy lewe op pad?
  • Opperman gee praktiese wenke vir mense wat met trauma worstel.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail
3 Responses to NUUT: Digitale boek oor heelword ná trauma
  1. Comment * Sal dit graag wil lees. Ek het my man aan die dood afgestaan in 2012 en ek dink ek rou nogsteeds. Vra myself gereëld of ek al oor dit is en het ek dit reg verwerk

  2. Comment *jry dit netens om af te laai


[top]

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *