17 Februarie 2021


DEUR SIMONE GAUCHE

“My kind …”

Jou reuk woon in my gedagtes, en dis naby die punt van herkenning. Dis só bekend – maar tog ook nie. Mamma kan dit byna-byna beskryf: Dis amper soet, daar is dalk ’n bietjie vanielje by. Miskien kaneel. ’n Tikkie jasmyn?

Waarheen verdwyn jou babareuk? En wanneer? Verdwyn dit saam met jou eerste tand, my kind? Of wanneer jy begin kruip? Wanneer jy begin eet?

LEES OOK: Die klip is Lisa se borskas

Die lewe gaan maar sy gang, en op ’n dag … is dit net weg. En Mamma probeer onthou wanneer dit verdwyn het. Word dit flouer ná elke bondel wasgoed? Met elke bad wat getap word? Gooi Mamma dalk jou babareuk saam met die badwater uit?

Die wetenskap sê jy is perfek geskep om te kan oorleef. Jy het groot oë en pofferige wangetjies, ’n groot voorkop met ’n effens kleiner neus en mond. Dis alles trekke wat veronderstel is om my op jou verlief te maak, al is jy klein en weerloos.

Breinseine

In 2013 is die bevindings van ’n studie in die wetenskapjoernaal Frontiers of Psychology gepubliseer waarin dit blyk dat ’n baba se reuk nie slegs hul ouers aantrek nie, maar ook vreemdelinge. Dis asof dit ’n refleks ontketen wat jou daarheen dwing. Asem jy dit diep in, tref dit jou hart met ’n onverwagse slag.

By vroue verlig dit die deel van die brein waar die “behoort aan”-gedrag geprosesseer word. Dopamien, die sogenaamde goed voel-hormoon, word vrygestel. Dis kompleet asof jy aan lekker kos smul of verbode middels gebruik.

Die wetenskap sê dus jou baba het ’n bedwelmende uitwerking op jou …

Hierdie “breinseine” is spesiaal gemaak om mammas deur die uitputting, deur die min slaap, die doeke ruil en voedingstye te drá. Om sodoende met die versorging van hul weerlose, pasgebore babas te help.

Daar word voorts beweer dat 90% van alle mammas hul baba deur dié se spesifieke reuk kan herken.

Ons weet dat reuk allerlei herinneringe oproep, dat dit ons teen gifstowwe beskerm. Dit verbind ons ook aan ons geliefdes. Vroue kan hier bloot aan hul man se kenmerkende reuk dink, en andersom.

Navorsing dui daarop dat babas die klere verkies wat deur hul mammas gedra is en dat dit hulle kalmeer. Daar is selfs ’n studie gedoen wat bevind het mammas verkies die reuk van hul eie kinders se vuil doeke bo ander kinders s’n!

Moet dus nie dat die reuk van jou baba jou verbygaan terwyl die lewe jou rondjaag nie. Ja, die kos moet voorberei en die wasgoed gewas en die huis moet skoongemaak word, maar bly bewus daarvan dat die reuk van jou baba vlietend is. Raak elke dan en wan rustig, word bewus van jou sintuie, haal diep asem – en neem daardie reuk in.

Waarvandaan kom dié reuk?

Niemand weet nie. Sommiges beweer dat dit van die baba se sweetkliere kom; ’n ander teorie lui dat dit van daardie wasagtige wit lagie afkomstig is wat ’n baba tydens geboorte bedek.

LEES OOK: Nuwe rubriek: Die 1 Korintiërs 13-mamma

Hoe ook al: As God my baba se reuk so noukeurig beplan het, waarom sukkel ek dan om Hom met al die groot dinge te vertrou? Dinge soos my kind se gesondheid in tye soos dié, die aanpassing by en die emosionele impak van die skool, die kind se gesukkel met skoolwerk of om vriende by die skool te maak?

Haal dus diep asem, Mamma, en gee jou kind se lewe aan ons hemelse Vader oor. Hy het dié kind op ’n wonderbaarlike wyse beplan, en Hy koester wonderlike gedagtes oor jou kind.

Uit die Woord

“U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.  Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!” (Ps 139:13-17).

Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die bousteen vorm vir gesonde, gelukkige kinders en ’n gesonde, gelukkige gesin.

Simone blog gereeld oor haar geloofsreis by: https://httpthemomwhochangedhermind.wordpress.com/

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *