Tuesday, June 22, 2021

Leer jou kind selfdissipline

18 Februarie 2021


Selfdissipline is ’n sleutelfaktor in ’n vervulde, suksesvolle lewe. Hoe leer jy dit aan jou kinders?

DEUR MARIE-LOUISE STEYN

My liefste kind

2020 was, soos jy dit sal stel, ’n “wake-up call”. Ons het geleer die lewe kan binne ’n oogwink verander en dat ons bloedweinig beheer daaroor het. Nogal ’n bangmaakgedagte, nè?

Herinner my daaraan om jou van dr Viktor Frankl te vertel. Hy het ’n konsentrasiekamp oorleef en ’n bekende skrywer geword. Hy het geglo daar is een ding waaroor ons altyd volkome beheer het: ons reaksie op omstandighede. Daarin lê ons vryheid, en ons verantwoordelikheid.

Die toekoms lyk onseker, ja. Tog belowe ek jou dat baie bekende dinge sal voortleef. Die hoeksteen van sukses sal bly staan – selfdissipline.

Ek wens ek kon jou lewenspaadjie gelyk maak, maar Covid-19 het my daaraan herinner dat jy eendag ’n hele ent alleen gaan loop. My taak is om jou rigting te gee en jou bene sterk te maak sodat jy die regte pad met volharding sal stap, selfs nadat Liewe Jesus my kom haal het.

Liefde, Mamma

…………………………………………………………………….

Selfdissipline is die vermoë om vooruit te kyk. Dis ’n wilsbesluit om jou huidige begeertes onvervuld te laat, ter wille van ’n meer betekenisvolle toekomsdroom. Vanselfsprekend moet jy dié droom eers definieer.

Die boublokke van selfdissipline

Hoewel kinders selfbeheer teen hul eie tempo bemeester, vorder hulle die vinnigste tussen drie en agt jaar oud.

“Selfdissipline” is ’n versamelnaam vir talle interafhanklike vaardighede, soos die vermoë om:

  • impulse te beheer;
  • behoeftebevrediging uit te stel;
  • versoekings te weerstaan;
  • taakgerig te bly, ondanks aandagafleidende faktore;
  • ongemaklike emosies te hanteer.

Hoe word selfdissipline aangeleer?

By geboorte is Baba se neurone soos ’n bol los drade. Elke ervaring vorm verbindings, as ’t ware voetpaaie wat deur herhaling uitgetrap word.

LEES OOK: Kategese: Nou aanlyn beskikbaar

Dr Kelly McGonigal vergelyk selfdissipline in The willpower instinct met ’n spier. Hoe meer jy dit gebruik, hoe sterker word dit. Elke keer as jou kind ’n lekker aktiwiteit staak om ’n opdrag uit te voer, oefen sy haar selfdissipline.

Oorgebruik kan egter die fiksste spier uitput. Volgens McGonigal het ’n mens op enige gegewe stadium net sóveel selfdissipline. Deur die loop van die dag gebruik jy dit om “nee, dankie” te sê vir daardie tweede kolwyntjie, om ’n vervelige verslag te skryf, om jou humeur te beteuel.

Reguleer jou kind se omgewing

Siende dat selfdissipline beperk is, maak dit sin om versoekings te elimineer. Bêre gerus jou breekgoed buite die klein handjies se bereik, of vra jou tiener om sy slimfoon aan jou te oorhandig totdat sy huiswerk voltooi is.

Maak dit dinge nie té maklik nie? Die lewe is immers vol versoekings. Almiskie, maar ons almal loop draaie om die lekkergoedrak wanneer ons probeer verslank.

O, die frustrasie!

Selfbeheersing kom nie natuurlik by kleuters nie. Hul gedrag is dikwels impulsief, selfsugtig en koppig. Hoewel hulle kognitief in staat is om besliste menings te vorm, val logiese redenasies op dowe ore.

Dis te begrype dat jy dan jou hare uit jou kop wil trek. Onthou egter dat hierdie ontwikkelingsfase vir jou klein spruit ook nie, wel, kinderspeletjies is nie. Hy voel verskeur tussen sy behoefte aan jou aanvaarding en sy onafhanklikheidsdrang. Die innerlike konflik het stormagtige emosies tot gevolg wat hy nóg verstaan nóg kan verwoord.

Grense en gevoelens: twee kante van dieselfde munt

Dissipline en emosionele intelligensie loop hand aan hand. Duidelike grense laat kinders veilig voel. Hulle wil verstaan wat reg en verkeerd is; dit gee hulle ’n mate van beheer. Onvoorspelbaarheid ontketen angs.

LEES OOK: 2021: Hou ’n Bybeljoernaal en verdiep jou geestelike reis

Die pediater William Sears verduidelik in The discipline book dat ’n kind wat goed voel haar goed gedra. Om goed te voel, moet sy haar wipplank-emosies leer herken, dit uitdruk en reguleer. Jy is haar emosionele afrigter. Jou rol is om haar gevoelens te aanvaar en te reflekteer.

Stof tot nadenke

Hoewel selfgedissiplineerde kinders gewoonlik gehoorsaam is, is die omgekeerde nie noodwendig waar nie. Egte, standhoudende selfbeheer kan slegs uit innerlike motivering voortspruit.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img