Tuesday, June 22, 2021

‘Of ek lewe of sterwe, ek behoort aan God’ – Covid-lyer

5 Februarie 2021


DEUR LORENZA BARNARD

Dié Feestyd het ’n ongenooide gas hom net na Kersdag by my kom tuismaak.

My kinders en kleinkinders van Hermanus het vir ’n maand op die plaas kom kuier. Ook my dogter van Pretoria en haar seuntjie maak die huis vol. Van die ander kinders, en kleinkinders wat naby bly, kuier saam. Ons eet saans saam en die kinders geniet die swembad. In ’n gemoedelike atmosfeer en sorgvry geniet ons mekaar se samesyn.

My een kleindogter, Leanté (11) is veral baie opgewonde oor Kerstyd. ’n Week voor Kersfees wou sy in besonderhede weet wie saam eet en wat op die spyskaart is vir Oukersaand. Opgewonde kondig sy aan dat sy Kersfeeskoekies gaan bak, en elkeen se naam daarop gaan versier. Wat vir my uitstaan is dat sy vra oor wat ons Kersoggend ná kerk gaan doen. Sy vra nie óf ons kerk toe gaan nie – dis ’n gegewe.

Samesyn. Van links na regs is Tharina Barnard, Lette-Marie Barnard, Maretha Barnard, Leanté Barnard, Louie Barnard, Lana Barnard, Marthie Barnard, Franci Barnard en agter is Lourenza. Foto verskaf

In ’n Geesvervulde erediens praat ds Olivier, onder andere van “JAHWE” wat die aanspreekvorm vir God  in die Ou Testament was. Hy demonstreer vir ons dat jy met elke asemteug JAHWE – (soos jy asemhaal God se asem in en uitasem ) saggies “JAH” inasem en “WEH” uitasem. Soos in Handelinge 17:25b geskryf staan: “Dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee.”

LEES OOK: Covid-19-skeiding: Slim planne vir grootouers

Min het ek geweet dat ek twee dae later presies dit gaan doen. Ek kry Covid-19 met al die simptome buiten asemnood. Ek voel ellendig. Dr Hannes staan my by met die nodige medikasie om die simptome te verlig.

Elke oggend staan ek op, soek die sonlig op, stap deur die tuin, haal diep asem, en asem “JAHWE” in en uit. Ek dank die Here vir al sy genade en liefde en herinner Hom aan sy beloftes dat Hy my nooit sal verlaat nie en dat ek nie hoef te vrees nie, en ek is nie bang nie.

Dag 10 word ek wakker en weet die koronavirus het sy tentakels nóg dieper ingeslaan. Ek is koorsig, het hoof- en-lyfpyn, naarheid vou my toe en ek kan skaars my kop lig. Ek is ook daarvan bewus dat ek nie heeltemaal so gemaklik asemhaal nie. Dokter Hannes kom tot my redding, die inspuiting help om die simptome draaglik te maak. Die nag, ten spyte van die lugversorger, is ek sopnat gesweet, en as ek aan my vel vat is dit koud en klam. Ek is koorsig en slaap min. Ek is die heeltyd in gesprek met God. Soveel Bybeltekste maal in my kop. Ek slaan my oë op na die berge. Al gaan ek  deur ’n dal van doodskaduwee, sal ek geen onheil vrees nie. Of ek lewe of sterwe, ek behoort aan die Here. Niks kan my skei van die liefde van God nie en vele meer. Iewers in die nag spreek ek Satan aan. Ek getuig dat hy my liggaam kan aanval en net sowel kan stop, want aan my gees kan hy niks doen nie. As ek nou daaraan terugdink is ek verstom. Ek het geen verklaring nie! Ek weet, bely en glo dat Jesus Satan se mag gebreek het. Hy kan nie God se kinders uit die hand van Jesus ruk nie.

Ons lewe in ’n gebroke wêreld en siekte en dood het deel van ons lewe geword agv die sondeval. Ek glo dat Covid-19, een van vele siektes is, wat die liggaam kan aftakel en tot die dood kan lei. As gelowige bely ek Romeine 8: 38: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here”.

LEES OOK: Watter Covid-19-entstof sal jy kies (as jy ’n keuse het?

Wat ek wel weet is dat ons net ten dele ken … 1 Korintiërs 13:12: “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken, soos God my ten volle ken.”

Ek kan al gemaklik stap, nie meer ongemak as ek diep asem haal nie en word minder moeg. Ek is dankbaar en asem elke dag, bewustelik, die Heilige naam van JAHWE in.

Lourenza Barnard (71) woon die afgelope 45 jaar op ’n plaas buite Marble Hall, Limpopo. Na haar man se afsterwe 23 jaar gelede, het sy met ’n gastehuis begin op die plaas en geniet dit steeds. Sy geniet dit om in haar groot plaastuin te kuier en ervaar haar kinders, kleinkinders en nou ook haar twee agterkleinseuns as die grootste seën in haar lewe. Sy is dankbaar vir God vir al dié seëninge.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img