Olimpiese prestasie: Geloof dra medaljewenner Bianca Buitendag deur die branders van die lewe

“Dit is net genade.” So het Bianca Buitendag aan LiG vertel nadat sy ’n silwer medalje in branderplankry by die Olimpiese Spele gewen het. Aan LiG het sy gesê geloof is die belangrikste ding in haar lewe. 

DEUR ENGELA DUVENAGE

“Niemand het dit verwag nie; selfs nie ek nie. Daar was definitief divine intervention, al die pad vanaf die eerste rondte. Te veel goed het in plek geval om toeval te wees. Ek skryf my sukses net aan genade toe. Ek is wel bewus dat dit ’n wonderwerk was. Ek gaan nie krediet daarvoor vat nie. Dit is net genade.”

Só het die Suid-Afrikaanse branderplankryer, Bianca Buitendag, aan LiG vertel terwyl sy onderweg huis toe was vanaf die Olimpiese Spele in Japan. Bianca het ’n silwer medalje in branderplankry midde-in ’n stormsee gewen.

Oor haar eerste gedagtes toe sy besef sy het deurgedring na die finaal (en is daarom van ’n medalje verseker), vertel sy: “Ek het net besef dit was ’n wonderwerk …”

Ter aanvang van die kompetisie – die eerste in die geskiedenis van die Olimpiese Spele – was Buitendag immers net 17de op die ranglys van 20 van die wêreld se beste branderplankryers wat by Tsurigasaki in Japan sou deelneem. Sy het onder meer vir Stephanie Gilmore, wat al sewe keer die wêreldkampioen was, geklop.

In die eindstryd het Buitendag verloor teen die Amerikaner Carissa Moore van Hawaii, teen wie sy die eerste keer op die ouderdom van 13 jaar oud deelgeneem het tydens ’n kompetisie in Frankryk.

Voor die eindrondte het ’n inskrywing deur Buitendag op haar Facebook-profiel getref. Dit lees: “If you will ever need a miracle in your life, remember today!!! GOD ALWAYS MAKES A WAY.”

’n Dag na die eindstryd het sy hierdie inskrywing gemaak. Daarin dra sy die medalje op aan haar ma, Yvonne, wat oor die afgelope jare twee kankerskokke oorleef het.

Sy skryf onder meer: “Most importantly – although I like to believe that I’m tough and independent, I want to acknowledge my Heavenly Father, who has held my hand tightly through all these years – through the dark and scary. He has been my best friend, my closest companion. Ever since my first contest at 8 years old, my last sentence before every heat has been, ‘Father, I trust you, have your way.’ After all these years, I can confidently stand knowing that his will did, indeed, prevail.”

Aan LiG het sy vertel geloof is die belangrikste ding in haar lewe. “Ek weet nie hoe ek sal kan bestaan sonder dit nie. Die lewe is te moeilik en te deurmekaar om enigsins sin te maak sonder om te weet wat God daaroor sê.”

So hoe voel ’n mens na ’n grootse gebeurtenis soos ’n Olimpiese eindstryd?

“Jy voel heeltemal uitgeput. Dit was definitief fisies en emosioneel baie uitputtend. Toe ek die volgende dag wakker word was my lyf seer, en my oë wou nie oop nie. Ek was net heeltemal moeg, en verlig dat dit klaar is. Dit was regtig ’n moeilike, lang paar dae.”

Buitendag en haar afrigter, Greg Emslie, moes onder meer elke oggend douvoordag opstaan om die 80 kilometer vanaf die Olimpiese dorp na die aantreeplek vir die kompetisie te reis. Daarby het die kompetisie te midde van stormtoestande en woeste branders plaasgevind, wat die eindrondte-deelnemers fisies tot die uiterste getoets het.

Gedurende die finale kragmeting, wat soos gebruiklik 30 minute geduur het, het die omroepers ’n paar keer daarna verwys dat beide Buitendag en haar teenstander gedurende hul loopbane al van die prysgeld wat hulle in internasionale kompetisies verdien het, vir liefdadigheid geskenk het.

Buitendag het reeds voor haar aankoms in Tokio aangekondig dat die Spele haar laaste deelname aan ’n professionele branderplankrykompetisie sou wees – ’n sport wat sy reeds sedert haar agtste jaar beoefen. Haar pa, Colin (wat in 2015 oorlede is en ’n provinsiale branderplankryer was), het haar in die Strand in die Kaap begin touwys maak.

Buitendag het reeds in 2013 begin deelneem aan internasionale branderplanktoernooie, en in die proses het sy reeds baie lande besoek. Sy is in 2013 aangewys as die nuweling van die jaar deur die internasionale branderplankvereniging, aldus ASP.

Oor haar planne vir haar voorgenome “aftrede” is sy baie opgewonde. Dis om te help bou aan ’n skool in Conville by George. Dié is sowat 10 minute se ry vanaf haar tuiste in Victoriabaai.

“Ek het op hoërskool aan Hoërskool Outeniqua (op George) ’n uitstappie gehad na ’n NRO op die dorp, Life Community Services (https://lifecommunity.co.za), en ek is sedertdien tot ’n mate betrokke, en onlangs meer permanent en intensief.”

Die projek vier vanjaar sy 20ste verjaarsdag. Dit bedryf onder meer ’n voedingskema, ’n kleuterskool en dagsorgfasiliteite, ’n nasorgsentrum en die Isipho-handwerkprojek.

“Ons is besig om geld in te samel om ’n laerskool te bou op Conville, George. Dis vir my so, so opwindend. Ek is so opgewonde, benadruk Buitendag, wat ’n graad in rekeningkunde aan die Northeastern Universiteit in die VSA verwerf het.

“Dit maak my meer opgewonde as enige kompetisie of uitslag, so dit is definitief my volgende challenge. Ek sien baie, baie daarna uit.”

Sy vertel dat die skool, Life Christian Academy, reeds bestaan, en sowat 10 klasse met 25 kinders elk van Graad 1 tot 5 omvat, maar dat hulle graag ook Graad 6- en 7-klasse wil byvoeg.

“Ons wil die klasse oorskuif na ’n groot saal aan die begin van volgende jaar,” voeg sy by.

“Ek het geleer dat jy jouself moet ken. Jy kan nie net jouself sien op grond van hoe jy deelneem en presteer nie. Jou uitslae kan nie jou identiteit definieer nie. Jy is geliefd, maak nie saak wat gebeur nie, maak nie saak wat jy bereik of nie bereik nie,” is Bianca se lewensfilosofie, volgens die Olimipiese Spele-webblad.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img