Dis elke jaar se storie: Die glanspapier waarmee ons Kersgeskenke toegedraai was, lê nog nie eens in die groot vullisdrom nie, en ek begin al drome droom oor die jaar wat voorlê.

En elke keer is dié drome (“nuwejaarsvoornemens” klink darem net té maklik om te breek!) ongeveer in dieselfde trant: Ek wil meer in my Bybel lees; ek wil meer oefen en ek wil minder eet; ek wil meer omgee vir my medemens.

Tot my verbasing het ek een keer gelees dat my soort voornemens eintlik maar dieselfde is as dié van ’n baie groot klomp mense in hierdie wêreld. Ons almal wil beter mense word, ons wil gesonder leef, ’n klompie kilogram afskud …

Dit was in 2019 se pylvak dat ek iemand oor Matteus 5:16 hoor praat het. Daardie vers wat so bekend is dat ons dit nie meer hoor nie; dit gaan by die een oor in en by die ander een uit: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien …”

Maar verlede jaar, toe ek weer hierdie Jesus-woorde hoor, het my hart skielik oopgegaan by die aanhoor van die tweede gedeelte: “… en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

In ’n oogwink het my wêreld weer reg gekantel en ek het opnuut besef: Ek is nié die middelpunt van my lewe nie. Ek verskaf ook nie die momentum daarvan nie. Die spil waarom alles draai, die rede vir ons elkeen se bestaan, begin en eindig by God die Vader, Seun en Heilige Gees. My lewe draai om sý verheerliking.

 

Vanjaar gaan ek weer drome droom, ek weet dit, en 2020 op die gebruiklike manier afskop.
Maar hierdie jaar sal daar ’n ander perspektief wees. Ek gaan nie gesonder eet omdat ek mooier in my klere wil lyk nie. Ek gaan beter keuses rakende kos en oefening maak, want dit gee my meer energie. En hoe meer energie ek het, hoe beter kan my lyf die dinge doen wat geestelik-gesproke van my verwag word.

In 2020 gaan ek my Bybel meer lees, nié om meer kennis te bekom nie, maar om verander te word, al meer en meer na die beeld van Christus. Want, soos iemand op ’n keer gesê het: “Dis nie wat jy weet wat saak maak nie, maar wie jy is.”

In die nuwe jaar gaan ek nie so behep wees met myself nie; my grootste voorneme sal wees om God in elke oomblik en in elke gedagte te verheerlik. Ek sal my gereeld herinner aan Paulus se liriese uitroep aan die einde van Romeine se elfde hoofstuk: “Van God af kom alles wat bestaan. Hy hou alles in stand. Alles is daar om sy Naam groot te maak. Vir altyd. Ja en amen!” (Rom 11:36, Die Boodskap-vertaling.)

En as ek dit nie elke dag regkry nie? Wel, dan kan ek ten minste weet dat die wêreld nie tot stilstand sal kom vanweë my ongedissiplineerdheid of selfsug nie. Dan sal ek my troos met die wete dat die wêreld – die sienlike én die onsienlike – wentel om ’n Vader wat lankmoedig en vol liefde is. ’n God wat self lig is, wat die lig in ons aansteek en laat brand.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail