22 Januarie 2021


“Soos die Covid-19-getalle rondom ons aanhou styg, gaan al hoe meer mense naby aan ons die virus kry. Daarom is dit belangrik om dié mense op die regte manier te ondersteun,” sê dr Liska Nuss, ’n psigiater van Somerset-Wes. CONETTE LE ROUX het meer gaan uitvind oor die moets en moenies van “Covid-taal”.

“Die heel laaste ding wat enige mens wil hoor as jy Covid-positief is en regtig siek en goor voel, is die volgende vraag: ‘Nou waar het jy die virus opgedoen?’” skryf Anita Carstens (63) van Pretoria onlangs op Facebook.

Anita skryf toe verder in wat sy ’n “Covid-galbraaksessie” noem: “As elke Covid-geval geweet het waar hy/sy dit opgedoen het, het ons lankal die ding hokgeslaan. Ek wil al antwoord: “In Checkers se rak nommer sewe tussen die Marmite- en Bovril-botteltjies … daar sluip die klein groen monstertjies rond en wag net dat jy ’n botteltjie optel. Want wat wil jy hê moet ek sê? … Opregte belangstelling word waardeer en gebede ook, want glo my, ’n mens het dit nodig om hierdie ding te wen.”

LEES OOK: Covid-19-entstof: Watter komplikasies kan jy kry?

Francois Viljoen van Wellington het sopas uit isolasie gekom nadat hy en sy vrou, Lida, albei Covid-19 gehad het. Sy vriende se ondersteuning het hom gedra, vertel hy. “’n Mens het so spesiaal gevoel. Ek het elke dag boodskappe gekry. Of mense het kos gebring of inkopies vir ons gaan doen. Ek weet nou wie regtig omgee en my vriende is.”

Hy sê vir hom was die emosionele impak amper groter as die fisiese simptome. “‘n Mens lees die vreeslikste goed en dan lê jy en wonder wat gaan van jou mense word as jy dit nie maak nie. Wat gaan van jou kinders word? Ek was heeltyd op my knieë. My vrou het soms gehuil en dan kon ek haar nie troos nie, want ek het nie geweet of alles okay gaan wees nie. Ons is so dankbaar dat ons hierdeur gekom het.”

Lida vertel dit was vir haar ook interessant dat meeste mense vra waar jy dit gekry het. “Dis so asof hulle die persoon wat dit aan jou oorgedra het wil shame. Dié persoon het dalk ook nie beheer daaroor gehad nie,” sê Lida.

Nog ’n interessante opmerking was dat iemand vir haar gerusgestel het “dat hulle okay sal wees omdat hulle gesonde mense is”. Sy sê: “Ons het nou al gesien dat dit nie noodwendig die geval is nie.”

Vir Lida was familie en vriende se ondersteuning ook baie kosbaar tydens die tyd wat hulle simptome gehad het.

Moets en moenies van “Covid-taal”

“Soos die Covid-19-getalle rondom ons aanhou styg, gaan al hoe meer mense naby aan ons die virus kry. Daarom is dit belangrik om dié mense op die regte manier te ondersteun,” sê dr Liska Nuss, ’n psigiater van Somerset-Wes. Sy het self in 2020 Covid-19 gehad en taamlik slegte simptome ervaar. Liska gee die volgende wenke:

  • Vra hoe dit gaan en luister werklik. Dalk is die persoon angstig of bang.
  • Laat weet die persoon jy is daar vir hom/haar en kan op jou knoppie druk.
  • “Loer” gereeld in. Vra of hulle ’n behoefte daaraan het dat jy bel of via ‘n skerm met mekaar gesels. Somtyds vang die eensaamheid jou.
  • Bied aan om iets te doen. Soos inkopies, maaltye voorberei of medisyne koop wat jy dan by die pasiënt se deur kan aflaai.
  • Moenie mense blameer of oordeel nie. Wees eerder simpatiek.
  • Dink mooi voor jy inligting oor Covid met die persoon deel. Dit kan angstigheid verhoog. Deel eerder ’n lekker boek, ’n mooi fliek, ’n snaakse video of ’n TV-reeks.
  • Dink ook twee keer voor jy ontstellende ervarings of stories deel. Bv ’n kollega wat aan Covid gesterf het of slegte ervarings wat iemand met Covid gehad het.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail