DEUR BOERVROU VAN DIE BOSVELD

“What a mighty God we serve!” Dit is die eerste woorde wat by my opkom wanneer ek my getuienis deel.

As die halfvol glas begin leeg raak

Ek is een van daardie mense wat altyd die glas halfvol sien. Ek is ook een van daardie mense wat, as die wind my links druk, dan loop ek links. As dit my regs druk, dan loop ek regs.

Maar so drie jaar gelede het dinge regtig begin skeefloop vir my en man. Nie in ons huwelik nie, maar finansieël. Ons het maar net ons beste gegee en bly hoop. Dinge het ten spyte van ons harde werk bly verswak.

Die Here het ons een jaar geseën met baie lekker reën, maar ook dieselfde dag een vyfde van ons skape opgeëis. Dit was ’n geweldige skok vir ons om te sien hoe die diere versuip in die veld. Daar het ek my man sien huil soos ’n kind. Hartstogtelik. Dit was vir my baie erg om te aanskou.

“Teen hierdie tyd begin ek die glas halfleeg sien.” Foto: Juanita Swart ©

Dinge raak soms erger voor dit beter raak

‘n Jaar daarna waai ’n deel van ons huis se dak af. Nog skade. Ons het nog nie eens finansieël herstel van die skade wat ons die vorige jaar opgedoen het nie. In my agterkop begin ek somme maak – my kind moet amper hoërskool toe gaan, maar hoe? Die bank wil nie help nie, die weggespoelde skape tap ons, en van die droogte praat ek nie eens van nie.

Teen hierdie tyd begin ek die glas halfleeg sien. Maar op ’n dag gebeur ‘n ding, en nog ’n ding en dit snowball

’n Woord van God

Ons het wonderlike kospakkies vanoor die hele Suid-Afrika ontvang. Ek was bitter dankbaar, want op daardie stadium het ons nie veel geld vir kos gehad nie.

Op ’n dag reël die vroue in die gemeenskap dat Bianca Welsh ons kom toespreek. Daar vertel sy haar lewensverhaal. Ongelooflik wat onse God nie alles kan doen nie, dink ek daarna, vol hoop en hernude geloof. Elke vrou ontvang ’n  voorskoot met ’n Bybelvers daarin. Raai net wat sê my Bybelvers vir my? “Ek sal in al jou behoeftes voorsien. My skatkamer is vol om jou te seën.” Hoe fantasies is dit nie? Prys die Here.


Lees nog getuienisse hier.


‘n Onverwagse besoeker

Na ons dogter plek kry by die bolandse hoërskool waar sy baie graag wil skoolgaan, moet ek en my man plan maak om haar daar te kry. Ons besluit dat ons dit volkome in God se hande gaan plaas.

Nie lank daarna nie, kom kuier ’n vreemdeling – ‘n oom wat ek nie eintlik ken nie – en ons raak aan die gesels. Ek vertel op die ingewing vir hom van my dogter en ons spanning rondom befondsing. Die oom vra of ons saam ’n gebed kan doen.

’n Paar dae later bel die oom se dogter my. Ek ken haar glad nie. Sy vertel my dat die Here dit op haar hart gelê het om my dogter onder haar vlerk te neem. Met elke oproep wat ons daarna ontvang is dit net blessing na blessing.

“Elke keer het ek net weereens besef die Here bly getrou.” Foto: Juanita Swart ©

Die Here sorg vir álles

Van die koshuisgeld en skoolfonds wat betaal is, skoolklere wat gekoop gaan word … Álles, álles wat my dogter nodig het, is voorsien deur mense wat ek nie ken nie. Tannies van Namibië wat vir haar beddegoed gee, vir haar wasgoedsakke maak. Skoolskoene word voorsien. Alle skryfbehoeftes, af-naweek se busgelde, sakgeld, airtime en soveel meer.

Elke keer het ek net weereens besef die Here bly getrou. Ons moet net aan sy woord vashou. Baie dankie dat ek hierdie wonderlike getuienis met julle kan deel. God se rykste seën aan elkeen wat dit aanhoor en ’n bydrae aan ons lewens gemaak het.


LEES OOK: Britstown-boervroue bak laat dit bars in droogte

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail