Deur Jeanne Henning Els

Daar was die troue in Blouberg se kerkie by die see en elkeen se belofte dat julle by mekaar sou staan en mekaar sou liefhê tot die dood julle skei.

Saam het julle jul twee seuns se geboortes beleef, hul eerste skooldag, die Kerskonserte by die kleuterskool. Julle was saam met hulle opgewonde toe hulle sonder vlerkies begin swem het. En saam het julle mekaar se ouers begrawe.

Hoe dan, op 61 en 67 en ná ’n huwelik van 36 jaar, besluit jy en jou man julle ontbind jul huwelik en van nou af stap julle amptelik afsonderlike paaie?

“Een van die moeilikste dinge was om die nuus aan my familie en vriende oor te dra. Nie omdat hulle enigeen van ons sou verwyt nie maar omdat ek weet ons huwelik kon so anders gewees het as ons dit opgepas en gevoed het,” skryf skrywer en joernalis Jeanne Henning Els. Foto verskaf

Dis omdat julle oor jare heen, maar veral die laaste dekade, van mekaar  weggedryf het en nie sterk genoeg boeie na mekaar uitgegooi het om die huwelik te red nie. Julle het na verskillende bestemmings begin reis, letterlik en figuurlik. En mettertyd geweet jul huis is nie meer die hawe waar julle mekaar koester nie.

Uiteindelik het ons mekaar in die oë gekyk en besluit elkeen gaan die ander die geleentheid gun om met sy en haar eie lewe voort te gaan. Só sou ons sin en plesier daaruit kon skep sonder om skuldig teenoor mekaar te voel. Want as ons gespaar bly, kan ons nog jare leef. Jare wat in ons huwelik net sou voortdraal  en waarin ons naderhand moontlik mekaar se vyande sou word.

Een van die moeilikste dinge was om die nuus aan my familie en vriende oor te dra. Nie omdat hulle enigeen van ons sou verwyt nie maar omdat ek weet ons huwelik kon so anders gewees het as ons dit opgepas en gevoed het.

Dit was ’n aanpassing om afskeid te neem van die huis en die tuin en om 10 km daarvandaan  in ’n woonstel in te trek. Om meubels met sentiment agter te laat wat nie in my kleiner tuiste inpas nie.

Ek het steeds nie die moed om deur albums te blaai of na video’s te kyk vol herinneringe aan ons goeie en gelukkige tye saam nie.

Daar is praktiese uitdagings soos ’n geiser wat lek, nat kolle teen die plafon en vloerlyste wat lostrek. Deesdae los jy dit alleen op.

En al was jy nog altyd gemaklik en tevrede in jou eie geselskap, mis jy dit om iemand reg langs jou te hoor lag, saam met hom wakker te word, of dat hy jou bederf met ’n beker koffie in die bed.

Weens die Covid-inperking was die oordrag van die woonstel vertraag en het ek drie maande alleen op ’n stranddorp gaan bly. Ek kon vanaf  ’n afstand bestek opneem van die aanpassings wat op my gewag het en naderhand het ek na my nuwe woonplek begin uitsien.

Ek het twee van die vier fases van rou beleef. Ek was nie in ontkenning nie en ek het lank reeds aanvaar dat ons huwelik nie meer werk nie. Maar ek was kwaad. Soms onbillik kwaad, want daardeur probeer jy jou hartseer onderdruk. Stadig maar seker het ek deur hierdie emosies gewerk.

Gelukkig is die kwaad daarmee heen. Soms eet ek en my eertydse man saam en dan gesels ons veral oor die seuns en ons wense dat hulle gelukkig moet wees. Maar iewers binne my sal die gevoel van verlies waarskynlik altyd bly sluimer.

Tog, vir elke uitdaging is daar ’n oplossing. Want jy wil nie net oorleef nie, jy wil lééf. ’n Vars lewe begin en die heel beste daaruit skep.

Ek het my plek ingerig, nes ek dit wil hê en dit vir mý mooi is. My meubels wit geverf, my tiemie, origanum, peperment en ander kruie in potte geplant. My tuiste floreer nou in ’n oorvloed lug en lig.

Ek kook en bak en deel uit aan die vyf ander inwoners van die kompleks. Ons sien om na mekaar en toevallig is ons almal vroue.

Ek het kosbare vriende in my lewe teruggenooi. Mense wat my raamwerk en hart ken en vir wie ek niks hoef te verduidelik nie. Mense wat my waardeer en laat lag.

Ek stap ver en ek swem en snorkel. ’n Vriend het ’n bestuurder gereël wat my saam op die oop pad laat ry het, op sy Harley Davidson. Soos ek nog altyd wou doen, met die wind in my hare. Ek het lenteblomme aan die Weskus gaan kyk, juis in hierdie jaar dat dit so besonder bekoorlik was.

Ek soek nie doelbewus  weer ’n liefde en romanse nie want ek pas nog aan by my onafhanklike fase en is nie gereed vir ’n nuwe verhouding nie. Dalk verskyn iemand eendag op my pad. Gebeur dit nie, sal ook dít oukei wees.

Seker die grootste geskenke wat ek myself ná die egskeiding gegee het, is Lisa en Ben, die babakat en hondjie wat ek aangeneem het. Hulle oorlaai  my met onvoorwaardelike liefde. Soggens is hulle vroeg op, daar is nie ’n kans dat ek kan bly lê nie.

Wat my en my gewese man betref, ons is maats. Net, beter as voorheen. Op ’n dag laat weet ons jongste: “Ek het vir ons vier ’n gesinsgroepie op WhatsApp gestig. Hier post ons dinge oor Mamma se veiligheid en oor Lisa en Ben. Of enigiets wat ons met mekaar wil deel.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail