20 Januarie 2020


Dit maak deesdae wêreldwyd opslae, dié dat twee mense wat in ’n intieme verhouding betrokke is by verskillende adresse woon. Ook in Suid-Afrika is daar heelwat paartjies wat dit só doen. Daar is wel ook dié wat sê dit werk nie vir hulle nie. En hoe behoort gelowiges hieroor te dink?

DEUR ILETTE COETZER

Is dit hoe verhoudings in die toekoms gaan lyk: Ons is saam, maar ons woon apart?

Irene Haasbroek, ’n multidissiplinêre praktisyn in Kimberley, sê dis geen nuwe tendens nie; dit het slegs ’n nuwe baadjie gekry. Sy reken die vernaamste rede waarom paartjies só leef, is om hul persoonlike identiteit te behou. “Baie keer is ’n persoon se vryheid van spraak in ’n eerste huwelik hom of haar ontneem, en nou word dit ten alle koste beskerm.

“Kommunikasie is tog die hoeksteen van alle verhoudings, en albei partye se verwagtinge moet gerespekteer word. Die voordeel van die ‘saam maar apart’-verhouding is dat al twee partye die reëls maak en die grense stel. En dit kan met verloop van tyd verander, soos wat die onderskeie behoeftes verander.”

Ons vreugde, en ons probleem

Hendrik Marais en Karina Strydom is tans in ’n “saam-maar-apart”-verhouding.

“Te veel van ’n goeie ding,” sê Hendrik, “is soms bloot … té veel. Tyd saam kan soos sout in kos wees – noodsaaklik en smaaklik, maar te veel daarvan bederf die lekkerte.”

Sestien jaar gelede is Hendrik se vrou, ná 35 jaar se getroude lewe, aan kanker dood. “So ’n jaar ná my vrou se dood het my jongste seun voorgestel dat ek ’n agentskap vir enkellopendes bel. Voor ek desperaat of laf raak!”

Karina was destyds ’n jaar lank geskei ná ’n huwelik van 20 jaar. Sy het by dieselfde agentskap gaan aanklop. “Ek was haar eerste koffie-afspraak,” vertel Hendrik, “en ons twee het dadelik besef ons wil mekaar graag beter leer ken. Etes en flieks het gevolg, en ons was binne ’n paar maande so verlief soos twee tieners.”

Tot hier loop die storielyn soos duisende ander verhoudings wat uiteindelik op ’n huwelik uitloop.

Hendrik vertel: “Ons was opgewonde oor ons nuwe lewe, maar ons het besef dit sou moeilik wees om by mekaar in te trek. Ons moes albei se kinders in ag neem, asook Karina se eksman. Daar was ook die gesamentlike meubels, skilderye en ander huisraad.

Hoe nou gemaak?

Hendrik en Karina wou hul verhouding na ’n volgende vlak neem. Hulle het goed oor die weg gekom, kon ure lank gesels, lekker saam vakansie hou – maar daar was ook verskille.

Hendrik verduidelik: “Ons musieksmaak verskil, en ek lees eerder as wat ek televisie kyk. Ons gaan na verskillende kerke toe, het verskillende voorkeure wat kos betref. En ons stem ook nie heeltemal saam oor hoe ’n mens ’n ander een se kinders grootmaak nie.”

 

Dis toe dat die paartjie met ’n unieke plan vorendag gekom het: Albei is lief vir binnenshuise versiering en moderne argitektuur, en toe besluit hulle om twee nuwe huise te bou, die een bo-op die ander.

Elke huis weerspieël elkeen se voorkeure. Hendrik s’n, byvoorbeeld, het nie binnemure of -deure nie, maar wel ’n goeie kombuis en ’n etenstafel vir 14. Karina se oopplan-huis het twee kamers vir haar seuns, en dit voel baie soos ’n vakansiehuis.

‘Dit werk vir ons’

Hendrik en Karina leef nou al tien jaar lank so saam, en dit werk vir hulle. Hulle vertel: “Elkeen koop sy eie kruideniersware. Ons sal wel so ses etes per week saam eet. Ons onderskeie blyplekke het trappe wat na mekaar lei.

Hendrik sê: “As ons uitgaan, ry ek van my motorhuis af na haar voordeur toe. En ek maak die motor se deur vir haar oop. Net soos ons dit gedoen het toe ons begin uitgaan het. Ná 16 jaar bly dit spesiaal.”

Karina se seuns het intussen hul universiteitsopleiding voltooi, maar die reëling tussen hul ma en Hendrik het dieselfde gebly. Hendrik sê: “Soos ’n plantjie het liefde, persoonlikheid en romanse elk ’n eie plekkie in die son nodig om te kan floreer.

“Ons twee het elkeen genoeg ruimte om baie van die klein besluite onafhanklik van mekaar te neem, daardie klein jakkalsies wat so maklik ’n goeie verhouding kan verniel. Oor die lekker dinge – soos waar ons gaan eet, vakansie hou, of fliek – besluit ons saam.

“Ons respekteer mekaar se privaatheid en sal nie oor en weer kuier sonder om te klop of vooraf te bel nie.”

Hoekom trou hulle dan nie?

“Dit kon seker werk. Maar dalk voel ’n mens vryer en selfstandiger sonder ’n kontrak. Nie een van die partye het nou wetlike aanspraak op die ander nie; dit bly ’n vrywillige saak.

“Ons is albei streng monogaam, en al twee besef dat die ander een sy of haar goed sal vat en loop die oomblik as daar van ontrouheid sprake is.”

Hendrik is daarvan oortuig dat die meeste verhoudings waarskynlik kan baat by ’n bietjie meer ruimte, ’n bietjie meer respek en ’n bietjie meer romanse.

“Ons kon ons probleme uiteindelik bevredigend uitsorteer. Maar daar bestaan nie ’n resep wat by almal pas nie. Mense moet doen wat vir hulle werk.”

Nee, dit werk nie so nie

Leonie en Gerhard het drie jaar voor hul troue hoofsaaklik weens finansiële redes by mekaar ingetrek. Elkeen het ’n eie slaapkamer gehad. Maar ná ’n jaar en ’n half só saam, het die krake begin wys. Van die aanvanklike weeklikse afspraak-aande het weinig oorgebly.

Leonie sê sy was later erg gefrustreerd. Hul aanvanklike reëling het toe meer kwaad as goed voortgebring.

LEES OOK: Covid-19: Watter komplikasies kan jy kry?

Prof Pieter Joubert, ’n sielkundige in Potchefstroom, sê die huwelik bly ’n Godgegewe instelling waarin sekere waardes en beginsels geld. Sodra jy nie meer volgens ’n waardestelsel leef nie, swaai die deur vir allerlei misbruike wawyd oop.

“Enige verhouding kos werk,” sê hy, “maar vir baie paartjies is hierdie soort werk gans te veel moeite. Daarom probeer hulle om met die minste moontlike moeite die beste moontlike resultate te verkry.

“As ’n paartjie byvoorbeeld vir ’n situasie kies waar hulle apart bly woon, neem dit baie van daardie inspanning weg. Beginsels word oorboord gegooi, maar tog verwag die onderskeie partye prestasies van mekaar.”

Ds Christo de Witt van die NG Kerk op Plooysburg stem hiermee saam. “Volgens die Bybel word twee mense ná hul huwelik een. Met ’n ‘saam-maar-apart’-reëling blyk dit dat die paartjie net ‘saam’ is wanneer dit goed gaan en lekker dinge gedoen word; wanneer die slegte dinge opduik, is dit elkeen vir hom- of haarself.

“Die paartjie is nie regtig bereid om aanpassings te maak, om mekaar se laste te help dra nie. Elkeen behou ’n eie blyplek, eie roetine en persoonlike ruimte.

“Maar vra ’n huwelik nie juis dat ek bereid sal wees om veranderings aan my menswees aan te bring ten einde my maat in ag te neem nie?”

Die voordele

Onafhanklikheid

’n “Saam-maar-apart”-verhouding bied aan albei partye die kans om hul individualiteit te behou. ’n Eenvoudige besluit soos watter kleur om die huis te verf, kan konflik in ’n huishouding veroorsaak, terwyl ’n “saam-maar-apart”-ooreenkoms elkeen toelaat om eie keuses uit te oefen sonder om die ander een se smaak of mening in ag te neem.

Persoonlike ruimte

Dis dikwels die spreekwoordelike klein jakkalsies wat ’n verhouding laat verbrokkel. Nat handdoeke op die vloer, ’n toiletsitplek wat afgeslaan is in plaas van op, leë melkbottels in die yskas. Sulke klein irritasies in ’n verhouding gee gou aanleiding tot konflik, en loop uiteindelik uit op groter probleme. Afsonderlike blyplekke gee aan ’n paartjie genoeg ruimte, en só word wrokkigheid verhoed.

Geen gevegte oor geld

Met hierdie reëling word finansies dikwels ook apart gehou. Uiteenlopende oortuigings wat geld en die aard van uitgawes betref, maak dit ’n goeie besluit. Geld is gewoonlik ’n onderwerp wat met baie emosies gepaard gaan, en deur verskille en selfs argumente oor finansiële sake uit die verhouding te haal, word heelwat moontlikhede vir konflik uitgeskakel. Daar kan wel soms samewerking wees, byvoorbeeld wanneer albei partye tot ’n vakansie, aftrede en noodgevalle bydra.

Kwaliteit teenoor kwantiteit

Omdat die paartjie minder tyd saam deurbring, koester hulle die tye wat hulle saam is. Albei doen moeite om bymekaar te wees.

Ander kan ook baat

Dis nie altyd moontlik om saam met jou geliefde te bly nadat jy onlangs ’n traumatiese egskeiding deurgemaak het nie. Veral nie as daar kinders betrokke is nie. Die “saam-maar-apart”-ooreenkoms gee ’n ouer die geleentheid om gehaltetyd saam met die kinders deur te bring sonder dat die maat uitgesluit voel.

  • Die artikel het in die Julie 2020-uitgawe van die  LiG verskyn.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail