‘Ons kry ’n tweede lewe’

Liezel Boonzaier het haar voltyds in die korporatiewe wêreld bevind, al was musiek haar groot liefde. Haar lewe het egter soos handomkeer verander toe haar man, Richard Schlebusch, die pa van haar twee seuns, in ’n motorongeluk sterf. Later het musiek die gesin se ontvlugting geword. En dit het vir hulle ’n tweede lewe ingelui.

DEUR YOLANDA WESSELS

Liezel het destyds haar eie werwingsagentskap gehad; Richard was ’n BTW-prokureur. In Maart 2010 het haar lewe onherroeplik verander. Binne ’n oogwink is 20 jaar uitgevee: haar eerste liefde, haar eggenoot, haar kinders se pa. Sy was 35 jaar oud, Kirsten was tien en Kyle net twee.

Liezel vertel dat haar suster, Adri Heydenrych, die aand van Richard se ongeluk in die kerk was. “My suster vertel dat daar tydens die diens ’n profetiese kunstenaar was wat gesit en teken het. Ná afloop van die diens kon niemand die kloutjie by die oor bring nie. Wat was die verband tussen die tekening en die boodskap wat die kerkgangers gehoor het?

“Die skildery het ’n vrou uitgebeeld wat in die palms van God se hande sit en bid. Die vrou lyk byna soos ek …

“Later het die kerk die skildery aan my geskenk. Ek het dit as ’n baie duidelike boodskap van ons Skepper beskou. Hiermee sê Hy vir my dat Hy altyd na ons omsien, dat Hy ons in sy liefde toevou.

“Dié boodskap was vir ons van onberekenbare waarde, dit het berusting gebring. God is in beheer. Te midde van al die seer en die vrae het die skildery God se liefde vir ons bevestig.”

Duisternis

Dit duur lank om erge trauma te verwerk. Liezel vertel: “Jou storie speel soos ’n fliek in jou kop af, oor en oor. Daar is egter nie altyd woorde om daaraan te koppel nie. Hoe verduidelik jy jou hartseer aan ander? Jou vrae, jou vrees?

“Daardie eerste dae was baie swaar, en baie donker. Min slaap, baie koffie. Jy staar verward in ’n donker put af. Daar is geen lig nie. Op ’n dag besef jy: Kyk op! Dis waar jou lig vandaan kom.

“Die duisternis wat deur pyn gebring word, kan jou stukkie vir stukkie verswelg, van jou voete tot by jou kroontjie. Maar wanneer jy opkyk, sal jy altyd die son sien skyn.”

Met verloop van tyd, sê Liezel, val die swart kombers van jou skouers af en jy voel weer die son se strale op jou vel.

Maar wat gebeur voordat daardie verligting kom?

“Daardie eerste oggend ná die ongeluk het ek gewens dat tyd uitgewis kon word. Dat dit vyf jaar later kon wees. Dat die verbygegane tyd my pyn kon uitvee. Maar die harde werklikheid is dat daar geen pilletjie is, geen Bybelversie, geen drukkie, net mooi niks wat jou pyn kan wegvat nie.

LEES OOK: Trauma-‘survivor’: ‘Daar is altyd hoop’

“Ek moes doodgewoon my eerste lewe groet. Daar was geen afskeid nie, geen ‘ek is jammer’ of ‘ek is lief vir jou’ nie. Al wat ek kon dink, was: Nou wat nou? Almal gee raad, baie bied aan om te help. Maar saans as dit stil word, lê jy stoksielalleen, net jy en jou gedagtes.”

Liezel het begin skryf. Eers gebede. Toe vrae. Daarna was dit briewe, en uiteindelik liedjies. Sommige kere het sy doodgewoon haar vrese neergeskryf, die bladsye aan mekaar vasgeplak en gesê: “Here, neem dit, asseblief. Ek kan dit nie hanteer nie.”

Sy het net op die seuns gefokus; daar was nie krag vir méér nie.

Meneer Rocker

Gerrit Boonzaier (oftewel Boon) was saam met Liezel op skool. Omdat hy jonger as sy was, het sy hom nie juis geken nie. Hy het vir Kirsten kitaarlesse gegee en só het sy hom ontmoet. Sy vertel: “Ek en Richard het destyds van sy optredes bygewoon. Ná Richard se dood het ek hom ’n paar keer by optredes gesien.

“Maar dit was een aand by ’n huispartytjie, waar ons die enigste twee muurblommetjies was, dat hy my ’n glas wyn aangebied het. Ek het nie eens daaraan gedínk dat ‘Meneer Rocker’ enigsins in ’n weduwee sou belangstel nie. Boonop een wat soos ’n geraamte gelyk het – ek is 1,7 meter lank en het op daardie tydstip maar 40 kg geweeg!

“Maar daardie aand het hy my laat lag. Vir die eerste keer sedert Richard se dood het ek weer gelag …

“Ek het hom twaalf ure gegee om te besluit of hy sou kans sien. Vir ons, vir die hele pakket – insluitend my selluliet, my plooie en my skoonma.” Sy sê sy het haar foon afgeskakel, en toe sy dit twaalf ure later weer aanskakel, was daar reeds meer as tien boodskappe. “Hy het my met sy humorsin betower. Hy het my laat lag toe daar net hartseer in my hart was.

“Maar ’n groot bonus was die musiek, my eerste passie. Van kindsbeen af was dit al wat ek wou doen. Ek wou sing, ek wou kitaar en klavier speel. Die lewe met sy gierigheid het my egter ingehaal en ek het gaan studeer en ’n sakevrou geword.

“Nou voel dit my asof die Here my teruggeplaas het op die pad wat ek moes loop. Ek het ’n tweede kans gekry om my passie uit te leef.”

Tweede lewe, die “band”

Van die begin van hul verhouding af het Boon gewonder of hy weer ’n album moes opneem. En of dit ’n solo-album sou wees of een met ’n “band”. Hy het op laasgenoemde besluit – maar wat van ’n naam?

Hy en Liezel het ’n klomp van hul liedjies bymekaar gebring, liedjies wat hul storie vertel. En só is 2nd Life gebore.

Liezel se twee seuns in aksie op die verhoog. Hulle noem hulle “band” Kirsten Richard in herinnering aan hulle pa Richard Schlebusch, wat in ’n motorongeluk gesterf het. Foto verskaf

Intussen het die seuns hul eie “band” gestig; hulle noem dit Kirsten Richard. Soms speel Boon saam met hulle. Kyle (nou 14) speel klavier, kitaar, ukulele, hy sing en hy skuif soms agter die tromme in. Die 21-jarige Kirsten sing, hy speel kitaar, tromme, klavier en mondfluitjie. Ook Liezel sing, speel kitaar, klavier en tromme. Boon sing, speel klavier, kitaar, fluit, tromme – en eintlik “enige instrument onder die son!”

Liezel vertel: “Ons is vyf jaar gelede getroud. Dis ons tweede kans op geluk. Dis ’n opstaan uit die stof, ’n nuwe begin. Dis ’n geloofsreis. Dis ’n samevoeging van ’n mengelmoeskardoes-familie – en dit werk!

“Tussen al ons gesing, gebabbel én ons trane deur, is daar iets spesiaals gebore: ’n nuwe gesin wat mekaar met liefde en respek behandel, mense wat ’n gedeelde liefde vir musiek het.”

Genesing

2nd Life Band het intussen vlerke gekry, en 2nd Life Music School, 2nd Life Recording Studio en 2nd Life Talent is gebore. Die hele gesin is hierby betrokke. “Ons lewe bestaan uit musiek,” vertel Liezel. “Ek het my man verloor, en my kinders hul pa. Maar ons lewe het ’n nuwe koers gekry, een wat hoop bring. En ek het weer liefde gevind.

“Ons hoop om ander mense te inspireer. Ons 2nd Life-gesin wil ’n boodskap van hoop met die wêreld deel. Van die genesing wat musiek kan bring.”Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img