Tuesday, June 22, 2021

‘Ons moes alles aan Hom oorgee …’ sê LiG-leser na korona pa, sussie eis

11 Mei 2021

‘n LiG-leser vertel hoe sy bly dink dat sy uit die nagmerrie wat Covid-19 gebring het, gaan wakker word. Sy het haar geliefde pa en sussie aan die dood afgestaan en besef nou niks kan jou ooit op die dood van ’n geliefde voorberei nie.

DEUR JOANETTE BEZUIDENHOUT

Dit bly voel asof ek droom. En ek hoop as ek wakker word, sal alles weer terugkeer soos dit op 26 Maart 2020 was …

“Ons berus in die wete dat almal naby aan ons wat in hierdie kort rukkie oorlede is, veilig by die Here is. Maar ek besef, om agter te bly en aan te gaan is nie ’n maklike taak nie.  Maar die Here dra ons elke dag deur met sy groot genade en liefde,” sê Joanette Bezuidenhout van die Wes-Rand. Hier is sy saam met haar ouers. Foto verskaf

Op die vooraand van die landwye inperking gaan eet ons by my ouers. My 71-jarige pa slaan ons groot Familiebybel oop en lees vir ons uit Psalm 91. Daarna bid hy vir die Here se seën en beskerming oor ons almal.

Desembermaand sou ons Wes-Kaap toe gaan, maar dit word as ’n hoërisikogebied geklassifiseer. Toe kanselleer ons die bespreking en besluit om saam met my ouers na hul vakansiehuis langs die Vaalrivier te gaan. Die Vrystaat was immers ’n laerisikogebied.

So bring ons ’n wonderlike tyd saam met my ouers deur, en ons gaan die nuwe jaar vrolik binne. Op 2 Januarie begin my pa sleg voel. Hy kry lyfseer. Maar omdat hy nie lank tevore nie ’n operasie ondergaan het, het ons sy ongesteldheid daaraan toegeskryf. Op die 4de groet ons my ouers.

LEES OOK: Pediater met breingewas skryf kinderboek vir sy kleuter voor hy sterf

Intussen het hulle besluit om koronavirustoetse te laat doen. En tot almal se skok kom sy toets positief terug. Hoe nou?

Ons was meer as ’n week saam met hom in een huis, en ons laat ons almal toets. Dié toetse is negatief. As voorsorgmaatreël word my pa in die hospitaal opgeneem. Maar ons voel redelik gerus; die dokters is nie juis bekommerd nie. Dis 10 Januarie.

“Ek besef dat absoluut niks mens ooit kan voorberei op die dood van ’n geliefde nie. Omdat my pa so deel van ons lewe was, is dit vir ons elkeen baie swaar sonder hom, en sy plek is baie leeg hier op aarde,” sê Joanette. Foto verskaf

Niemand mag hom besoek nie. Ons praat maar oor die foon. Hy laat weet hulle gaan by die mediese fonds aansoek doen vir ’n suurstofmasjien wat hy by die huis kan gebruik. Ons is opgewonde. Binnekort kom hy huis toe.

Maar op die vierde dag in die hospitaal word hy na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas. Ons kan nie met hom kontak maak nie. Ons weet nie meer hoe dit regtig met hom gaan nie.

Op Saterdag 16 Januarie bel een van die personeellede en sê dit gaan nie goed nie. Ek vra of ons hom nie kan besoek nie, dalk net met hom praat. My pa is onder verdowing, sê sy, en ons mag hom onder geen omstandighede besoek nie. Ons is stomgeslaan.

Maar net ná 17:00 daardie middag word ons weer gebel. Dit gaan baie beter. Ons is só dankbaar.

Daardie aand 22:47 kom die nuus: My pa is oorlede.

Toe die eerste skok verby is, begin die vrae. Onder meer: Waar het hy Covid-19 opgedoen?

Ons weet nie. Ons weet net ons lewe is op sy kop gekeer.

LEES OOK: ‘Ek emigreer en verloor my ma en sussie in een jaar: dít het my gedra’

Intussen is my ma ook positief getoets. Sy was baie siek. Nie een van ons kon haar in die routyd besoek nie. Telkemale moes ons besef dat die Here ons op plekke bring waar ons geen beheer kon uitoefen nie. Waar ons moes oorgee, waar alles bloot in sy hande gelaat moes word. Dis nie ’n maklike plek om te wees nie.

Ons moes ’n begrafnis vir my pa reël. Daar kon nie ’n diens wees nie, omdat my ma nog in isolasie was. Op 21 Januarie 2021 hou ons ’n aanlyn gedenkdiens vir my pa. Op dieselfde dag begin my suster siek voel. Sy begin met selfisolasie. Tien dae later sterf sy. Sy was 44 jaar oud.

Joanette se dogter (Meagen) en seun (Owen) saam met haar geliefde ouers. Foto verskaf

My eerste gedagte was dat die Here ons te veel gegee het om te hanteer. Dat ons nie hierdeur sou kom nie. Die trauma was net te veel.

Dis reeds Meimaand. Hoe ons tot hier gekom het, bly vir my ’n raaisel. Al waarvan ek kan getuig, is dat die Here ’n mens sterk maak in tye waarin jy swak is. Ek kan ook sê dat ander mense se omgee en liefde ons deur elke dag gedra het.

Ons leef nou maar dag na dag in dié nuwe wêreld met sy nuwe reëls. Ons glo dat God altyd in beheer bly. Daar is ’n sêding dat ’n mens nie weet hoe om sterk te wees nie totdat sterk ál is wat oorbly. Dit het ons werklikheid geword. Ons hou vas aan die Here se trooswoorde vir Paulus: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Kor 12:9).

My hart gaan uit na almal wat met ’n gebroke hart moet leef nadat hulle ’n geliefde aan Covid-19 moes afstaan. Ek weet hoe dit is.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img