‘Ons sal hulle weer liefhê én verloor,’ vertel egpaar wat weggooibabas versorg

DEUR JACOBIE M HELENA

Die dag nadat Ncami in hul arms gesterf het, die weeskindjie met hartversaking vir wie hulle ses maande lank versorg het, het die Bell-egpaar geweet hulle sal dit weer doen.

“Ons sal weer babas liefhê, en hulle weer verloor,” het ’n hartseer Tarryn Bell, maatskaplike werker en medestigter van Butterfly Palliative Home vir haar man Christoff, ’n mediese dokter, gesê.

Dit was in September 2012 op die Mabibi-strand, net noord van Sodwanabaai in KwaZulu-Natal.

Toe, sê sy, het sy nog nie ten volle besef waarmee God in hul lewe besig is nie. Sy het wel geweet dat Hy aan die werk is.

Ma Doris, hoofversorger en mede-direkteur van Butterfly Palliative Home, by Smangi. Hulle is tans besig is om ’n groter gebou op te rig omdat hulle net fasiliteite vir ses kinders op ’n slag beskikbaar het, maar die nood is groot en die waglys is lánk. Foto verskaf

Ingwavuma

Byna ses jaar ná Ncami se dood, in Januarie 2018, het die Bell-egpaar ’n oproep van vriende ontvang. Dié vriende het die babahuis The Almond Tree in Benoni bedryf en wou hoor of die Bell-egpaar nie ’n weggooibaba, Si, wat moontlik Downsindroom het, wil inneem nie.

Die Bells het hul seun Joshua, wat ook Downsindroom het, én outisme, aangeneem. Die vriende het gehoop dat hulle dit sou oorweeg om nog so ’n kind in hul sorg te neem.

LEES OOK: ‘God leef!’ vertel ma ná aanneemseun haar opspoor

Toe die Bells dié oproep kry, het hulle maar ’n kort rukkie in Ingwavuma gewoon. Klein, afgeleë, arm. Die hoofsaaklik Zoeloesprekende gemeenskap tussen die KwaZulu-Natalse heuwels grens aan Eswatini (voorheen Swaziland) en is nie ver van die Mosambiekse grens nie.

Werkloosheid, erge armoede en ander sosiale kwessies – onder meer tienerswangerskappe, en kinders wat ’n hele huishouding bestuur – is aan die orde van die dag.

Christoff is toe pas as senior geneesheer by die plaaslike hospitaal aangestel en Tarryn het steeds hul organisasie sonder winsbejag, Izandla ZeAfrika, bedryf.

Hier is ma Doris, hoofversorger en mede-direkteur, by Lulu. Foto verskaf

Si se storie

Die seuntjie Si, wat destyds sowat ses maande oud was, is deur ’n drawwer in die bosse buite ’n sokkerstadion in Soweto gevind. Tarryn vertel dat as hy nie toe gevind is nie, hy nie sou oorleef het nie. Die ontwaterde, halfverkluimde en uitgeteerde Si is na ’n nabygeleë hospitaal geneem.

Later is Edwardssindroom, oftewel Trisomie 18, by hom gediagnoseer. Edwardssindroom is ’n chromosomale toestand wat verband hou met afwykings in baie dele van die liggaam.

Tarryn sê dié toestand is nie versoenbaar met lewe nie, en slegs 10% van die babas met Edwardssindroom oorleef hul eerste lewensjaar. En slegs 1% van hulle, meestal dogtertjies, leef ná hulle tiende verjaardag.

Ná Si se koms het die Bells die Butterfly Palliative Home begin as ’n projek onder hul sambreelorganisasie, Izandla ZeAfrika NPC. En so het Si in 2018 die eerste inwoner geword.

Maar uit Si se storie van hoop – hy is nou drie jaar oud – het die breër Izandla-familie God se stem gehoor en ’n veilige hawe vol liefde en sorg vir hierdie kleintjies gebied. Uiteindelik is Izandla ZeAfrika gesluit en al die aandag én die beskikbare geld is daaraan gewy om palliatiewe sorg aan jong kinders te bied.

Vandag is Butterfly Palliative Home as ’n onafhanklike organisasie sonder winsbejag geregistreer. Daar is tans plek vir ses pleegkinders, oftewel “butterflies” soos hulle ook bekend staan, in die Butterfly-huis.

‘Look after widows, orphans and foreigners’

Tarryn vertel dat toe hulle na Ingwavuma verhuis het, God aan hulle gesê het hulle moet op weduwees en weeskinders fokus.

LEES OOK: ‘God het ’n aanneem-hart’

Sy vertel: “Toe ons hier huis koop, het ons nie geweet hoe dit gaan lyk nie. Maar binne drie maande kry ons die oproep oor Si, en die volgende baba is ná ’n week by ons geplaas.

“Toe ek in die gemeenskap na vroue gesoek het wat ondervinding in tuissorg het, het ons gou agtergekom dat baie van die vroue in dié landelike gemeenskap weduwees is. Hulle het geen inkomstegeleenthede nie, die meeste van hulle het nie matriek nie, en hulle almal sorg vir ’n klomp kinders.

“Ons het toe begin om weduwees op te lei om ons te help om na weeskinders wat terminaal siek is om te sien.”

Christoff en Tarryn Bell leef hul roeping met oorgawe uit. Dié roeping is uit vele tekste in die Bybel saamgestel en lui só: “Look after widows, orphans and foreigners in their distress. Caring for the least of the least.”

Nadat die Bell-egpaar die huis en die stuk grond op die plattelandse Zoeloedorpie Ingwavuma gekoop het, het hulle op hierdie geboutjie by hul bure afgekom. Dié bure wou jare gelede ’n organisasie sonder winsbejag in die lewe roep en het dit opgerig om ’n hospies daar te vestig. Die nodige fondse het egter ontbreek en die gebou het verwaarloos geraak. Christoff en Tarryn gebruik dit nou as deel van hul palliatiewe sorgeenheid vir kinders. Tarryn vertel dat God vooruit gegaan en die grond vir hulle voorberei het. Foto verskaf
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img