Deur Elize Harmse

Ek het vir ongeveer vier jaar gesukkel met my linkerarm en –hand wat “lammerig” begin raak het. Destyds het my huisdoktermy meegedeel dat dit “ouderdom is” (ek is tans 62 jaar oud).  ’n Ander huisdokter het my meegedeel dat die fout in my nek en rug is en het my na ’n chiropraktisyn verwys en die behandeling het die pyn vir ’n rukkie verminder.

Gedurende 2017 was ek in ’n kop-aan-kop-botsing betrokke, wat baie traumaties was, alhoewel ek geen ernstige beserings opgedoen het nie. Na die motorongeluk is ek  na ’n internis verwys aangesien daar ’n “probleem met my niere” is. Tydens die besoek aan die internis het ek hom “terloops” meegedeel van my arm en hand, waarna hy gesê het dat ek op ’n stadium ’n beroerte moes gehad het. Ek is deur die internis huistoe gestuur sonder enige medikasie.

“Ek kan weer alles vir myself doen en het selfs weer intussen begin werk. Ek ondervind geen simptome van Parkinsons nie. Ons lag selfs oor die tye toe ek so siek en van balans af was. Al wat ek kan sê – ons dien ’n groot en magtige God!” vertel Elize Harmse van Middelburg. Foto verskaf

Gedurende April 2019 kon ek skielik een aand nie van die bed af opstaan of loop nie. Daar is weereens by die hospitaal se ongevalle skanderings gedoen, en is ek verwys na ’n uroloog, aangesien ek “blasies” op my linkernier het. Ek het die uroloog asook ’n ander internis besoek, wie my meegedeel het dat dit “niks” is nie en het ek weereens geen medikasie ontvang nie.

Gedurende Junie 2019 het ek geleidelik my spraak begin verloor en kon ek fietlik glad nie meer my linkerarm en –hand gebruik nie. Ek het toe ook begin om kort-kort te val. Ek is deur my huisdokter na ’n oorspesialis verwys weens “binne-oorontsteking”, wie my meegedeel het dat ek “karsiekpille” moet drink.

Daarna het my toestand so verswak dat ek níks vir myself kon doen nie – ek kon nie eet, aan- of uittrek, gaan sit, lê of opstaan nie, ek kon nie bad, hare was en blaas of tandeborsel nie. Ek kon nie in of uit ’n voertuig klim nie. Ek kon nie kosmaak of skottelgoed was nie – ek kon nie eens kaas sny of ’n avokado oopsny of ’n broodsakkie oopmaak nie – ek was te swak en van balans af en het gereeld geval. Ek kon skaars praat en kon ook nie meer skryf nie. Ek was totaal en al afhanklik van my kinders en kleinkinders vir oorlewing. Ek was gefrustreerd en het vernederd gevoel en het gevoel ek is ’n oorlas en het baie gehuil.

Lees nog getuienisse hier.

My toestand het feitlik daagliks vererger en my dogter het daarop aangedring dat ek haar huisdokter besoek, wie my meegedeel het dat sy vermoed dat ek Parkinsons het. Ek het vir ’n MRI-skandering gegaan en moes byna ’n maand wag om ’n afspraak by ’n neuroloog te bekom.

Intussen het “geglo” dat ek ’n beroerte gehad het/dat ek Alzheimers het/dat ek breinkanker het of selfs dat ek “Joost se siekte” het.

Ek, en almal wat my ken, het onophoudelik gebid vir my genesing. Ek het, in die spreekkamer van die neuroloog gebid en gevra dat die neuroloog asseblief moet vasstel watter siekte ek het sodat ek die regte behandeling kan ontvang. Ek is toe inderdaad met Parkinsons gediagnoseer. Die neuroloog het my meegedeel dat trauma, stres asook die “karsiekpille” my Parkinsons “aangehelp het”.  Almal wat my ken, was geskok oor die “onbekende ongeneeslike siekte” maar ek en my dogter was “opgewonde” omdat my siekte ’n naam gekry het. En ek het gegló dat my medikasie my sou genees. My voorskrif was vir ’n halwe pil drie maal per dag. Ek het daardie aand van my besoek reeds ’n halwe pil gedrink en het die volgende oggend “normaal” opgestaan.

Ek gebruik die medikasie nog nie eens drie maande nie en is totaal en al genees. Ek kan weer alles vir myself doen en het selfs weer intussen begin werk. Ek ondervind geen simptome van Parkinsons nie. Ons lag selfs oor die tye toe ek so siek en van balans af was.

Al wat ek kan sê – ons dien ’n groot en magtige God!

LEES OOK: ‘Elke dag is nog ’n stukkie van my liggaam weg’

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail