Daar word vertel van ’n sendeling in Indonesië wie se kind, ’n tien jaar oue dogtertjie, gesterf het. Die man moes self die kis vir die begrafnis maak. Terwyl hy besig was om die spykers in sy kind se kis te slaan, het hy begin om lofliedere te sing terwyl die trane oor sy wange loop.

Per toeval het ’n heiden daar verbygeloop – en in sy spore vasgesteek. Hy kon sy ore nie glo nie.

“Jou kind is dood. Hoe kan jy lofliedere sing?” het die man gevra.

“Ek is hartseer,” het die pa geantwoord. “Maar my kind is nou by Jesus. Sy sal eendag opstaan, want Jesus het opgestaan.”

Die heiden het sy kop geskud en gesê: “Kan julle Christene dan oor die horison sien?”

Kán gelowiges oor die horison sien?

Blykbaar wel, want ons is deel van ’n geloofskare wat die onsienlike God kan sien (vgl Heb 11:27). En dit nie omdat ons toekomsvoorspellers of fortuinvertellers is nie, of met die helm gebore nie. Ook nie omdat ons oor die een of ander wonderlike “tydmasjien” beskik waarmee ons tussen die eeue kan rondreis nie.

Nee, ons kan oor die horison sien omdat ons ’n Begin en Voleinder van die geloof het. Een wat ons vooruitgegaan het, ook oor die horison van die toekoms heen (vgl Heb 12:1-3).

Christene leef tussen die tye: die verlede, die hede, en die “eendag”. Ons is op reis, ons is pelgrims tussen toe, tans, en die toekoms. Ons ontvang ‘n pelgrimsperspektief.

Dit beteken ons is verlos van die skuld van die verlede, en ons hoop op die toekoms. Maar ons doen dit nou, vandag. Ons weet, op grond van wat God gedoen het, en wat God sal doen, dat God tans aan die werk is, by ons is. Al sien ons hierdie werksame, verlossende teenwoordigheid van God in die “hier en nou” dikwels nie raak nie.

Ons geloofsvisie, ons hoopvolle voor-uitsig, moet telkens verskerp word, voortdurend in fokus gebring word.

Hierin sit daar altyd ’n soort spanning: Ons kan só op die toekoms fokus dat ons die hede miskyk; ons kan egter ook só op die hede fokus dat ons die toekoms miskyk. Ons kan só vir die hemel mik dat ons die aarde prysgee; ons kan só op die aarde gerig wees dat ons die hemel misloop.

Die hede is vol toekoms, en die toekoms vul telkens die hede. Ons noem dit advent – die voortdurende koms van die (reeds) teenwoordige Jesus. Om dít te sien, dit in te sien, en in dit te sien, vra ’n pelgrimsperspektief.

Met apologie aan Shakespeare:
To see, or not to see –
that is the question …

Om te kan sien
Kom ons keer ’n oomblik lank terug na die graf van ’n kind: In Dostojefski se Die Broers Karamasov staan ’n klompie kinders by die graf van hul vriendjie. Almal is hartseer. Een van hulle, Aljosja, kyk dan dieper as die dood, verder as die graf, en “sien” meer as bloot ’n hopie vars grond.

Dan sê hy iets soos die volgende aan sy vriendjies: “Christus se opstanding is die waarborg dat ons eendag weer ons vriend sal sien. Daarom nooi ek julle nou almal uit om saam met my huis toe te gaan en te gaan pannekoek eet.”

Toe, asof uit een mond, skree die kinders: “Hoera, Karamasov!”
Hier open die visie van een – die pelgrimsperspektief – die moontlikheid van hoera’s vir ander, midde-in hul hartseer.

Daar was ook die dogtertjie, die hoofkarakter Scout in Harper Lee se To kill a mockingbird. In dié klassieke werk leer ken die leser die wêreld deur die helder oë van ’n kind. In die slottoneel kyk Scout self met nuwe oë na die bekende buurt waarin sy grootgeword het.

Eensklaps “sien” sy die dorp in seisoenale flitse, met beelde van die somer, herfs, winter en lente wat mekaar soos skyfies op ’n skerm voor haar geestesoog opvolg. In ’n sleutelsin in die boek verklaar sy dan: “I turned to go home. Street lights winked down the street all the way to town. I had never seen our neighbourhood from this angle.”

Kinders is die beste sieners, hulle verstaan die pelgrimsperspektief beter as grootmense. Soos Scout sien hulle ’n pad huis toe, sien hulle die Lig wat uit die toekoms wink.

 

Met hierdie “sien” bedoel ek natuurlik meer as bloot ’n biologiese sien. Van die beste “sieners” wat ek ken, is trouens biologies blind.

Daar is die verhaal van die blinde man wat by sy ma se sterfbed gestaan het. ’n Ma wat hom jare tevore vanweë sy blindheid, waarvoor sy eintlik self deur haar nalatigheid verantwoordelik was, na die weeshuis laat stuur het. Alleen staan hy as klein seuntjie op die perron, tassie in die hand, skeelogies wat na die hemel kyk – en die oom wat hom moes kom afhaal, het van die afspraak vergeet.

Jare later het sy ma siek geword: dia­betes. Ironies genoeg word sy self ook blind. Wat sê hy aan haar in haar laaste oomblikke? “Toemaar, Ma, miskien moes ek blind geword het sodat ek nou vir Ma kan vertroos.”

Dít is iemand wat oor die horison kon sien.

Hoe werk hierdie “sien”?
Dit behels die totale wyse waarop ’n mens die lewe waarneem, met al die “sintuie” waaroor jy beskik. Dis ’n waarneming waar ander nie kan (of wil) waarneem nie. Dis ’n sensitiwiteit vir die alternatiewe, vir die skone. Of vir die lelike, of die skone binne-in die lelike. Dis ’n sensitiwiteit vir die lewe self, ‘n openheid om die waarheid deur elke senuwee van jou liggaam en elke vesel van jou bestaan op te neem.

Die tragiese is egter dat verskillende mense gekonfronteer kan word met presies dieselfde besonderhede, en tog heeltemal uiteenlopend daarop reageer. En dit bloot omdat hulle totaal verskillend daarna kyk.

Rudyard Kipling het gesê:
Two men looked thro’
the prison bars
the one saw mud
the other: stars

Of, in die klassieke woorde van Elizabeth Barrett Browning (in “Aurora Leigh”):
Earth’s crammed with heaven,
And every common bush afire with God,
But only he who sees takes off his shoes;
The rest sit round and pluck blackberries.

Ten slotte
’n Aanhaling waarvoor ek besonder lief geword het, kom uit die mond van Christoph Blumhardt, ’n Duitse leraar uit die vorige eeu. Twee jaar voor sy dood het hy in ’n aangrypende preek oor die saligsprekinge die volgende oor God se teenwoordigheid in ons lewe en hede gesê:

Die mens kan op aarde, hier en nou, God aanskou. Ek kyk elke dag in die wêreld om my heen, nie om gruweldade te sien nie, maar iets van die liewe God. En waarlik, oral waar jy kyk, in die hemel en op die aarde, in die gras en in die vrugtebome, oral, ook wanneer dit dikwels treurig en verskriklik is, oral is lig. Oral kan jy God aanskou … Ook wanneer jou lot uiterlik dikwels treurig daar uitsien, kyk tog ’n slag indringender daarna. Jy kan ook daarin iets van die heerlikheid van God sien, iets van die ewigheid self.”

Al kap jy spykers in ’n doodskis.
Want die spykers waarmee Jesus gekruisig is, kon hom nie in die kis van die dood hou nie.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail