Perfeksie se prys

DEUR SIMONE GAUCHE

Wat is die prys wat ek betaal as ek wag om perfek te wees voordat ek “ja” sê vir God?
Was Moses-die-moordenaar perfek toe God hom geroep het om sy volk uit Egipte te lei?
Was Paulus-die-Christenvervolger perfek toe Jesus hom geroep het?
Was Jakob-die-bedrieër perfek toe die Here hom geroep het?
Nie eens Dawid, die man na God se hart, was perfek nie.

Dis dikwels die Bybelkarakters se swakhede wat ons fassineer. Dit maak hulle menslik, en ons kan makliker met hulle identifiseer.

Ek worstel my lewe lank met perfeksie. Ouerskap het my egter baie geleer op my reis na die genesing hiervan. Dis onmoontlik om ’n goeie ouer te wees as jou fokus op perfeksie is. Jy moet immers aanpasbaar wees en op jou voete kan dink as dinge nie volgens plan verloop nie …

Leonard Cohen sing in sy lied “Anthem”: “Vergeet van jou perfekte offerande. Alles het krake; dis hoe die lig inkom.”

Ek verloor tyd terwyl ek wag om “perfek” te word. Dis tyd waarin ek iets vir iemand anders kon beteken, of iets vir God kon doen.

LEES OOK: ‘Deel van my sterf saam met my baba, maar God bring weer vreugde deur surrogaatma’

Perfeksie is ’n ompad wat na nêrens lei. Eintlik bestaan daar nie iets soos perfeksie nie, dis nie binne ons bereik nie. Perfeksie sal, inteendeel, altyd in my pad staan as dit vir my ’n voorvereiste is.

Dit het ook tot gevolg dat ek die gawes wat ek wel het, onderskat. Ek is dan deurentyd besig om op my swakhede te fokus!

Daar is net een “ek”. Daar is net een persoon met my unieke stel gawes en talente. Ja, ek maak foute, ek maak verskeie foute, ek doen dit daagliks en soms herhaaldelik. Maar daar is steeds niemand soos ek nie. Niemand anders kan die doel vervul waarvoor ek geskep is nie. Ek het ’n spesifieke taak om in Christus se liggaam te verrig.

En wanneer ek op perfeksie wag, verbeur ek dalk die geleentheid tot groei of die kans om my roeping uit te leef.

Hoor hoe getuig Paulus: “Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees” (2 Kor 12:7-9).

LEES OOK: Die storie van Jesus se vegtertjie

Die dorings in ons vlees, oftewel die krake in ons mondering, hou ons nederig. Dit herinner ons daaraan dat ons mekaar nodig het. As niemand perfek is nie, het ons almal mekaar nodig.

Ons weet nie wat die “krake” in Paulus se lewe was nie; ons weet wel dat die Here se genade ook vir ons genoeg is. En dat sy krag tot volle werking kom wanneer ons swak is.

Kom ons kyk in hierdie week met deernis en genade na onsself. Laat ons fokus op die lig wat deur die krake skyn, en kom ons gee onsself as lewende offers aan God, so onvolmaak soos wat ons is.

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die hoeksteen vorm vir ’n gesonde, gelukkige gesin met gesonde, gelukkige kinders.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img