Tuesday, June 22, 2021

P(l)aasverhaal

DEUR H KROEP

 

Alet haal die laaste lakens van die bed af. Nog net hierdie bondel was dan is die orde weer herstel, praat sy sommer met haarself. Sy het die kinders se kuiertjie so geniet. Ag, hier lê klein Willie se een skoentjie nog onder die bed. Sy hoop nie hy gaan dit nodig kry nie. Aan die ander kant, die kleinkinders het so baie klere. As hulle nog langer kon bly, maar haar twee kinders en hulle gesinne moet almal Dinsdag weer werk wees en daarom is hulle vroeg-vroeg op hierdie Paasmaandag al vort om hulle dinge in orde te kry voor die nuwe week begin. Vir haar was dit nie moeite om hulle te ontvang nie, sy het selfs voor die tyd vir die vier kleintjies paaseiers in die tuin weggesteek. En het hulle die soekery nie geniet nie!

Alet kon sien ou Christina en Johannes het die kinders se kuiertjie net soos sy geniet. Hulle het immers ‘n aandeel in hulle grootword gehad. Hulle werk al vir 34 jaar op die plaas en het saam die kinders grootgemaak. Sy en Willem kon vir meer getroue werkers nie gevra het nie. As Willem haar nou net nie reeds drie jaar gelede ontval het nie. Hoe sou hy die kinders nie geniet het nie?

Nes sy verwag het, het die kinders weer hulle besorgdheid oor haar alleen blyery op die plaas uitgespreek. “Maar ek is nie alleen nie. Johannes en Christina is mos ook hier. Buitendien, hier was nog nooit in ons kontrei ‘n plaasaanval nie. Ek voel heel veilig met die hoë pallisadeheining om die erf en ek hou die pistool langs my bed,” sê Alet verdedigend. Dis nie veilig genoeg nie, so vrou alleen op die plaas nie, en Ma weet dit, het Ockert gesê. Willa het ook ingeval: “My maggies Ma die feit dat hier nog nooit ‘n insident was nie, waarborg niks nie. Buitendien bly al Ma se vriende op die dorp,” sê Willa. Hoe ironies, het sy gedink – hulle bekommer hulle oor haar hier op die plaas en sy bekommer haar oor hulle in die groot stad. Wat hulle nie weet nie is dat sy dit tog begin oorweeg het om dorp toe te trek.

Alet gee die lakens vir Christina om te was. Sy en Christina weet al hoe om vinnig en effektief op te ruim en vul mekaar deur die jare aan. Alet hoop ou Johannes is nie kwaad vir haar nie, sy voel ineens sleg dat sy haar so vir hom vervies het toe hy die skaap vlak voor die agterdeur vir die kinders se kuier geslag het.  Gelukkig het sy nie te veel gesê nie en sy weet Christina sal hom wel bygekom het omdat hy soveel skoonmaakwerk bewerkstellig het. Sy het egter so besig geraak en nooit agterna gaan kyk of Christina ordentlik skoongemaak het nie. Die kinders het darem nie hulle neus opgetrek vir die lamsboud en die plaashoender nie. Dis free range het sy hulle hoor praat. Ja, dink sy, dinge van vroeër word weer nuut en alles beweeg in sirkels.

Dis met vanoggend vroeg se stiltetyd dat sy besluit het sy gaan so gou soos moontlik na die dorpshuis trek. Sy sal môre daarvan begin werk maak. Johannes en Christina moet sommer hier in die hoofopstal intrek. Dan kan ek naweke bietjie plaas toe kom en kan ek in die woonstel bly. Dit is ook reeds so in haar testament vervat dat Johannes en Christina verblyfreg op die plaas het tot hulle dood. Hier sal hulle ook begrawe word. Die plaas moet nie verkoop word voor hulle oorlede is nie. Hulle kinders het ook pad gevat stede toe, nes haar eie, maar dis hoe die jonges maak.

Alet skakel die ketel aan. In gedagte maak sy vir haar en Christina tee. Die aanpassing gaan moeilik en hartseer wees, want hoe skeur jy jou los van 45 jaar se herinneringe? Sy weet dit gaan vir haar voel of sy vir Willem agterlaat. Maar sy moet haar losmaak van wat agter haar lê en haar uitstrek na wat voorlê. Daar is ‘n vervulling van tyd in elke liewe ding op aarde. Hierdie tydelike tentwoning bied nie ‘n ewige tuiste nie.

Vrou wat stap

Hier gaan nie veel meer boerdery aan nie. Sy verhuur die grond en die huurinkomste sal meer as voldoende wees om haar in die dorp te onderhou. Sy het dit nie vir die kinders gesê nie, maar sy het eintlik klaar besluit. Sy sal sommer hierdie week begin werk maak van die groot trek wat voorlê.

Gelukkig het sy nie vir hulle vertel van oom Gert en tant Elize se traumatiese ondervinding nie. Dit was die eerste geval in hulle kontrei, want dan sou hulle eers ontsteld gewees het. Sy kon hulle al hoor: “My hemel Ma, wat sal Ma kan doen as hulle Ma vasbind en aanrand. Skree sal nie eens help nie,” sal die kinders sê.

Weereens besef sy hoe gelukkig sy is om vir Johannes en Christina op die plaas te hê. Sedert Willem se dood patrolleer Johannes elke nag so teen 12 uur se kant die werf. Hy dink seker sy weet dit nie, maar in die aande as sy wakker lê, sien sy die bekende gestalte voor haar kamervenster verby loop en besef watter gerusstelling dit is. Nog ‘n rede hoekom sy moet trek is dat Johannes nie meer vandag se kind nie. As dit vir haar gevaarlik is, hoeveel te meer nie vir hom nie. Partykeer vergeet sy om die agterdeur in die aand te sluit as sy gaan slaap en los net die sifdeur toe. Dis vir haar kostelik hoe Johannes en Christina dan die volgende oggend met haar daaroor raas.

Alet skil ingedagte die boontjies. Dit is al wat sy gaan gaarmaak, want daar is nog genoeg oorskietkos. Sy moet egter nog brooddeeg aanmaak en knie en dan kan Christina dit weer afknie en bak. Die brode is die naweek geheel en al opgeëet. Almal het gesmul aan die vars gebakte brood. Sy wonder wat die kinders na haar dood met die plaas sal maak? Seker verkoop of verhuur, want nie een van hulle sal kom boer nie. Sy en Willem was oopkop hieroor en het die kinders dit gegun om hulle eie passie uit te leef en het nooit verwag dat hulle die boerdery moet oorneem nie.


Lees ook: 

My reis na heelwording

Paasfees, die vrolike fees!


 

Voor sy slaap lees sy eers weer bekende en troosryke gedeeltes uit die Bybel. Met vrede in haar hart raak sy aan die slaap.

Sy weet nie wat haar wakker gemaak het nie. Dit was dalk die honde se geblaf, maar dan sien sy die beweging voor die kamervenster. Dis vier persone wat stadig verby loop. Alet se hart klop so hard en vinnig dat sy seker is hulle kan dit hoor. Sy druk haar vuis in haar mond om nie te skree nie. Hulle stop voor die venster en probeer inkyk. Wat moet sy tog doen? “Ag Here help!” bid Alet. Sy lê roerloos. Die horlosie teen die muur sê dis drie-uur. Miskien moet sy haar in die badkamer gaan toesluit, maar haar bene voel lam en sy sal eers die pistool in die hande moet kry waar sy dit hoog in die hangkas vir die kleintjies weggesteek het. Sy het haar selfoon op die eetkamertafel vergeet. Dankie tog Johannes se rondtes is seker klaar gedoen en dankie tog die kinders is nie meer hier nie anders moes sy haar nog oor hulle ook bekommer het. Sy hoor ‘n geluid. Het sy ooit onthou om die agterdeur te sluit? Die honde in die opwaskamer blaf nou verwoed. Sy luister gespanne, maar dan raak dit stil. Die figure voor haar venster is weg. Sy staan vinnig op, kry die pistool in die hande en sluit haar in die badkamer toe. Sal sy ooit iemand kan skiet? Van slaap is daar verder in elk geval nie sprake nie. So sit sy in angs tot dit lig word. Eers dan staan sy op en skrikkerig, haar bene nog lam, waag sy dit versigtig in die gang af. Sy loer om elke hoek. Sy begin effens ontspan. Dankie Here, alles lyk darem nog reg en syself is ongeskonde. Soos altyd verwonder sy haar daaraan hoe dinge minder erg in die lig lyk.

Deur

Dis eers toe Johannes en Christina inkom dat sy ten volle ontspan en dit na buite waag. Daar is ‘n gat onder die heining deur gegrawe, maar die agterdeur was toe tog gesluit. Hulle bespiegel lank oor wat die vier persone laat spaander het, want aan die voetspore kon hulle sien hulle het vinnig die hasepad gekies. Miskien was dit die gevlekte ooruil wat in die populierbos bly? Hy kan mens nogal laat skrik as hy so geruisloos verby mens vlieg. Dalk die honde se geblaf, maar dit betwyfel hulle. Die honde slaap in die huis en sou nie ‘n bedreiging buite inhou nie. Dalk die ou vlakvark wat partykeer kom kos soek, wonder Alet hardop. ‘n Slang dalk? Maar is slange so vreeslik bedrywig in die nag? Christina is oortuig daarvan dis die tuinkabouter in die roosbedding. Alet glimlag by haarself. Christina het nooit van die kabouterbeeld gehou nie. Sy dink sy was heimlik bang vir hom. Hulle drie merk verskeie voetspore om die huis op. Sy het vier mense gesien, vertel sy. Alet sug. Hulle is vir eers veilig en behoue. Hulle sal seker nog lank daaroor kan peins en waarskynlik nooit weet wat die indringers se intensies was en wat hulle uiteindelik verdryf het nie. Die dag stap aan en sy het baie te doen – sy sal maar van nou af elke aand in die dorpshuis gaan slaap tot sy heeltemal daar ingetrek het.

Dis eers toe sy by die agterdeur wil ingaan dat sy dit opmerk – die bloed aan die deurkosyn.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img