Plastiekvrye Julie #4: Herwin! Herwin! Herwin!

Plastiekvrye Julie is ’n beweging waaraan miljoene mense oor die wêreld heen elke jaar deelneem. Fay van Eeden vertel in vyf artikels van haar gesin se reis na eenvoud en ’n meer volhoubare lewe. In dié vierde aflewering is haar boodskap eenvoudig: Herwinning is eintlik ons laaste opsie.

DEUR FAY VAN EEDEN

“Recycling is an aspirin, alleviating a rather large collective hangover – overconsumption,” sê William McDonough in die boek Cradle to Cradle.

Met ander woorde: “Herwinning gaan nie ons aarde red nie.”

Ek onthou hoe moedeloos hierdie woorde my laat voel het. Toe ek dit lees, was my eerste gedagte: Maar hoe anders gaan ons die ekologiese krisis takel wat vir ons voorlê?

LEES OOK: ‘Ons leen die aarde by ons kinders’

My reis met Bea Johnson se vyf R’e troos my. Hierdeur het ek geleer dat herwinning nie tevergeefs of onnodig is nie. Dat ons, indien weiering nie geslaag het nie, moet kies vir verminder en hergebruik. En dat herwinning ons laaste opsie is.

Waarom die laaste opsie?

Behalwe dat herwinning baie energie vra, is daar ook nie streng genoeg wetgewing of ander maatreëls wat herwinning beheer nie. As herwinning in ons land tot sy reg moet kom, moet daar beter beheermaatreëls wees.

Daarby is alles nie noodwendig herwinbaar nie. Sommige produkte, byvoorbeeld glas, kan voortdurend herwin  word. Dis die goeie nuus.

Die slegte nuus is dat plastiek ’n beperkte herwinningleeftyd het. En nie alle plastiek is herwinbaar nie. Dit wat wel herwinbaar is, verswak in die herwinningproses. Dit beteken dat dit slegs een maal herwin kan word. Dan word dit boonop in die vervaardiging van nieherwinbare plastiekprodukte gebruik en sodoende beland dit in elk geval uiteindelik op ’n stortingterrein.

LEES OOK: Plastiekvrye Julie #1: Toe ek die groen kloutjie by die oor gebring het …

Daar is wel deesdae meer bio-afbreekbare of komposteerbare plastiekverpakkings beskikbaar. Die probleem is dat die herkoms daarvan onseker is en dat dit dus sowel die verbruikers as die herwinning-industrie verwar. Soms besmet dit die herwinningstroom.

Die goeie nuus is dat verbruikers herwinning kan beperk deur die 5 R’e in die korrekte volgorde in die huishouding toe te pas. Teen die tyd dat ons alles wat ons nie nodig het nie geweier (“refuse”) het, dit wat ons wel nodig het, verminder (“reduce”) het, en dit wat ons het, hergebruik (“reuse”) het, behoort daar baie min te wees wat herwin (“recycle”) moet word.

Natuurlik is herwinning ’n beter uitweg as om alle vullis na ’n stortingterrrein te stuur. Die positiewe van herwinning is dat dit energie spaar, natuurlike hulpbronne bewaar, bepaalde materiale van stortingterreine en uit oseane hou, en dat dit werk skep.

Hoe vaar ons?

Ons droom is om alle afval wat ons in ons huis genereer in vier of vyf kategorieë van mekaar te skei met die oog op herwinning.  Om nat afval (skille, byvoorbeeld) self in kompos te verwerk sodat ons geen afval na stortingterreine stuur nie. Ons is nog ver daarvan om dit te verwesenlik, maar elke goeie besluit wat ons neem, bring ons nader aan ons droom van ’n huis met ’n klein koolstofvoetspoor.

Ons herwinning begin by ons inkopies. Ons probeer sover moontlik om verpakking te weier. Waar ons dit nie regkry nie, kies ons vir produkte wat in glas en karton verpak is. Dit beteken dalk dat ons ’n bietjie meer tyd voor die winkelrak deurbring omdat ons na meer as die prys van ’n produk kyk, maar dis die moeite werd.

Foto: Anike Studio

Wanneer ons wel produkte in ’n plastiekverpakking moet koop, sorg ons dat die plastiek wel herwinbaar is. (As jy my twee weke gelede gevra het hoe ons vaar, sou ek gesê het ons kry dit agt uit tien keer reg – maar noudat ek begin ondersoek instel oor watter herwinningnommers algemeen herwin word, besef ek ons gebruik baie plastiek wat nié herwinbaar is nie. Ons gooi lank reeds plastiek in ons herwinninghouer wat nie herwinbaar is nie, en dit kos die persone wat ons herwinning hanteer baie meer werk en moeite. Noudat ons dit vasgestel het, probeer ons om ons inkopies nóg meer bewustelik doen.)

Alle glas en plastiek word dadelik uitgespoel en op die afdroograk gelaat voordat dit in die herwinninghouers geplaas word. Ons het drie herwinninghouers by ons agterdeur. Drie houers is genoeg vir ons omdat ons nie die herwinningmateriaal by die huis uitsoek nie, maar by die gemeente waar ons dit gaan aflaai. Ons probeer dit gereeld wegneem sodat dit nie ophoop nie. Ons kry dit nie altyd reg nie, wat beteken dat ons soms met ’n hele kattebak vol by die gemeente se houers opdaag.

LEES OOK: Plastiekvrye Julie #2: Een ou se gemors, ander se skat en ander minder maak-idees

Wanneer ons met vakansie gaan, neem ons ’n houer, kartondoos of sak saam en bring ons herwinningmateriaal terug. Dis soms ’n irritasie, ja, maar ek kan eenvoudig nie anders nie. Ek kry dit net nie oor my hart om afval wat herwin kan word in ’n asblik te gooi nie. Bygesê, daar is wel vakansieoorde wat herwinninghouers aan gaste beskikbaar stel.

Wat kan tans in Suid-Afrika herwin word?

  • Karton
  • Wit paper. Koerantpapier
  • Aluminium- (koeldrankblikkies) en staalblikkies (blikkieskos)
  • Glas
  • Sekere soorte plastiek

Wat kan tans nie in Suid-Afrika herwin word nie?

  • Styrofoam
  • Groente-plastiekverpakking
  • Wegneemkoffiebekers

ONS TOPWENKE

  • Onthou: Herwinning begin by die winkelrak

Probeer produkte aanskaf wat geen of so min moontlik verpakking gebruik. Indien jy wel ’n produk in verpakte vorm moet koop, maak seker dat die verpakking herwinbaar is.

  • Leer ken die herwinningnommers

Leer ken die herwinningnommers sodat jy nie in die winkel staan en wonder of die spesifieke verpakking herwinbaar is of nie. Nommers 1 en 2 word algemeen herwin. Leer jou jong kinders – sommer terwyl hulle kleure en vorms aanleer – die onderskeie herwinningnommers.

  • Kontak jou diensverskaffer

Produkte wat herwin kan word, verskil van omgewing tot omgewing en van diensverskaffer tot diensverskaffer. Stel vas waar jy wat in jou omgewing kan herwin. Dit maak dit vir almal makliker as jy slegs dit herwin wat die diensverskaffer kan hanteer. Die meeste diensverskaffers het ’n lysie produkte wat jy op jou herwinninghouers of op die yskas kan plak.

  • Plaas jou herwinninghouers op ’n gerieflike plek

Jy wil dit so maklik moontlik vir jouself en jou huismense maak om te herwin. Ons het gevind dat ’n plekkie in die kombuis of by die agterdeur goed werk. Dit moet verkieslik onder ’n dak wees sodat die papier en karton nie nat word nie.

  • As jy onseker is – los eerder

Dis nie altyd maklik om te weet wat herwinbaar is en wat nie. Ons reël is: Los dit eerder as jy onseker is. Plastiekmesse en -vurke skep soms onsekerheid in dié verband. Ons het die “los eerder”-reël gekies omdat ons dit so maklik moontlik vir die sorteerders en diensverskaffers wil maak om produkte uit te soek en te herwin. Terloops, plastiekmesse en -vurke word van laegehalte plastiek gemaak en kan nie herwin word nie.

  • Ry dit gereeld weg

Indien jy jou herwinningmateriaal self moet wegry, maak dit deel van jou weeklikse roetine. Dit voorkom die ophoop van afval en die gepaardgaande frustrasie en irritasie met oorvol houers. Laat jou kinders help om die herwinningmateriaal uit te soek en in te laai.

  • Vra oor herwinning wanneer jy jou vakansieplek bespreek

Dis die moeite werd om navraag te doen by die plek waar julle gaan vakansie hou of hulle wel daar herwin of nie. Indien nie, neem ’n houer of sak saam waarin jy ten minste glas en blikkies kan huis toe bring.

LEES OOK: Plastiekvrye Julie #3: Meesters in hergebruik

  • Onthou die e-afval

Spoor ’n e-afvalherwinningplek in jou omgewing op. Hou ook gemeenskapgroepe dop vir spesiale e-afvalveldtogte in jou omgewing.

  • Neem ou batterye en gloeilampe saam as jy gaan inkopies doen

 Hou die gebruikte batterye en gloeilampe eenkant en neem dit saam as jy gaan inkopies doen. Daar is verskeie kettingwinkels wat houers hiervoor het.

  • Maak dit self, in plaas daarvan om dit te koop

Vermy nieherwinbare verpakking deur byvoorbeeld self koekies en beskuit te bak.

  • Spoel af

Vuil en gekontamineerde plastiek kan nie herwin word nie. Spoel dit dus af en laat dit op die afdroograk droog word voordat jy dit in die herwinninghouer plaas.

Wat beteken die herwinningnommers op plastiekverpakkings?

En wat hiervan kan herwin word?

Foto: Madison & West Lifestyle

1.Polyethylene Terephthalate (PETE)

Waar word dit gebruik? In deursigtige bottels (wees op die uitkyk vir ’n borrel onderaan die bottel) en kosbakkies (deursigtig, groen, swart, ens)

Herwinbaar? Dis van die mees algemene soort herwinde plastiek.

2.High-Density Polyethylene (HDPE)

Waar word dit gebruik? Onder meer in wit melkbottels en bleikmiddelbottels

Herwinbaar? Dit word wyd herwin. Verwyder bloot die prop.

3.Polyvinyl Chloride (PVC-U)

Waar word dit gebruik? In deurskynende bottels (soek ’n lyn onder aan die bottel), kosbakkies, speelgoed, pype, draadomhulsel

Herwinbaar? Dit word selde herwin. Doen gerus navraag by die diensverskaffer in jou omgewing.

4.Low-Density Polyethylene (LDPE)

Waar word dit gebruik? In plastieksakke, kleefplastiek, plastiekverpakkings

Herwinbaar? Dis beter om hierdie soort plastiek te probeer hergebruik as om dit te herwin.

5.Polypropylene (PP)

Waar word dit gebruik? In botter- en margarienbakkies, deursigtige sophouers en vir sommige botteldoppies

Herwinbaar? Dit word selde herwin. Doen gerus navraag by die diensverskaffer in jou omgewing.

6.Polystyrene of Styrofoam (PS)

Waar word dit gebruik? In jogurthouers, geïsoleerde koppies en verpakkingsmateriaal

Herwinbaar? Dit word selde herwin. Doen gerus navraag by die diensverskaffer in jou omgewing.

7.Ander

Leesbrille, CD- en DVD-kassies, sommige soorte elektriese bedrading en konnekteerders, en algemene huishoudelike plastiek

Herwinbaar? Dis nie herwinbaar nie. Moenie hierdie soort plastiek in jou herwinninghouer plaas nie.

MAAK DIT SELF

Foto: Madison & West Lifestyle

Kaneelbolle

Koekies en ander snoepgoed is sinoniem met die winterskoolvakansie. Probeer gerus hierdie resep, in plaas daarvan om koekies te koop wat waarskynlik in nieherwinbare verpakking kom.

Ek kan nie onthou waar en wanneer ek op dié resep afgekom het nie, maar dis ’n treffer! Dit word met plantprodukte gemaak, en is in meer as een opsig kinderspeletjies. Jou kinders sal dit regtig geniet om dit saam met jou aan te pak.

Foto: Madison & West Lifestyle

Wat jy nodig het

½ koppie van jou gunsteling-neutbotter

1/3 koppie amandelmeel

2 eetlepels klappersuiker

¼ teelepel vanielje-ekstrak/-geursel

¼ teelepel fyn kaneel

’n Knypie sout

¼ koppie fyngekapte pekanneute

Ekstra kaneel en klappersuiker waarin die koekies gerol kan word

Hoe jy moet maak

  1. Meng al die bestanddele in ’n groot mengbak. Jy kan dit ook in ’n menger doen, maar ek verkies ’n growwer tekstuur. Verkoel die mengsel 30 minute lank in die yskas. Dit vergemaklik die rolproses.
  2. Maak jou hande nat sodat die deeg nie daaraan vasklou nie. Skep ’n teelepel of twee van die mengsel (hoe meer deeg, hoe groter die koekies) en maak dit in ’n bolletjie tussen jou hande.
  3. Rol die bolletjie in die kaneelsuiker en plaas dit weer in die yskas. Ná ’n ruk is dit gereed om geëet te word. (Ek is nie seker hoe lank dit die vorm buite die yskas gaan behou nie. Ek het nog nie kans gehad om dit op die proef te stel nie; ons eet dit baie vinnig op, sommer so uit die yskas uit!)

Loer gerus by my blog vir nog maklike veganistiese koekieresepte: https://enroutefoodie.co.za/Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img