Sunday, July 25, 2021

Psalm 23 vir ouers

Die Here is my herder
Hy sien om na my. Ek is ’n ouer, en Hy lei my op hierdie reis. Ek is nie perfek nie, maar hy rus my toe. Hy maak my bekwaam deur sy Heilige Gees. Hy gee my selfvertroue sodat ek op Hom kan vertrou. Al wat ek moet doen, is om gewillig te wees om te volg.

Ek kom niks kort nie
Hy voorsien in my behoeftes. Nie ek of my kinders het nóg besittings nodig nie. My idees oor genoeg en oor tevredenheid het verander omdat ek Hom ken.
Ek kom nie vaardighede óf kundigheid kort nie. Ek is die beste ouer vir my kinders. Ek is spesiaal vir hulle gekies. En as ek aanhou groei in die geloof, sal ek altyd die beste bly. Hy maak my ’n waardige ma.

LEES OOK: Aanspreeklikheid – wie sien kans?

Hy laat my rus in groen weivelde

As ek oorweldig voel, as dit voel asof ek myself in ouerskap verloor het, gee Hy my weer ’n gesonde perspektief. Hy hou my siel gesond. Hy weet waarheen ons op pad is, al voel dit asof ons in die woestyn ronddwaal.

Hy bring my by waters waar daar vrede is
As my gedagtes in ’n warboel bly, as my doenlysie nie korter word nie, herinner Hy my aan dit wat ek wel vandag uitgerig het. As ek te klein voel, herinner Hy my daaraan dat ek geliefd is. Hy gee my die gemoedsrus en vrede wat alle verstand te bowe gaan. Daardie innerlike vrede wat nie afhanklik van my omstandighede is nie.

Hy gee my nuwe krag
As die wasgoed of skottelgoed gewas moet word en die kos gaar moet kom; as ek moeg is omdat die aande lank en moeilik is; as ek die kinders van die een buitemuurse aktiwiteit na die volgende moet neem; as ek saam met hulle deur tuiswerk en toetsreekse worstel; as hulle siek is of met hul emosies sukkel – dan gee Hy my die krag wat ek nodig het.

Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam
Hy kom soek my as ek afgedwaal het, Hy help my om elke dag ’n beter ma en ’n beter weergawe van myself te wees. Ten spyte van al die vrese wat ek oor my kinders se toekoms het, kan ek hulle aan Hom toevertrou met die wete dat ons vir sý doel met ons geskape is.

Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my
As ons met dood of siekte gekonfronteer word, sal ons nie vrees ken nie. As ek of my kinders met die lewe sukkel, of as die lewe se storms ons tref, kan ek weet Hy hou ons in sy hand. Vrees het nie ’n houvas op ons gesin nie. As my kinders pyn ervaar en ek dit nie kan wegneem nie, vertrou ek dat Hy by hulle is. Dat Hy hulle vashou.

LEES OOK: ‘Hoekom laat leef God my gestremde seun, en my gesonde kind sterf?’

In u hande is ek veilig

Hy beskerm ons teen alle bedreigings en teen elke vrees wat ons koester: finansiële onsekerheid, emosionele onstuimigheid. Sy beskerming is oral om ons.

U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid
Ek is altyd tuis by Hom. Hy is my huis. Ek en my gesin ontvang seëninge uit sy hand wat vir ander mense moeilik is om te verstaan. Ons leef daarvan. Hy dra ons op sy hande.

U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly, en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae
Hy maak ons plek gereed in die huis met die baie blyplek. Ongeag wat ek doen of sê, daar sal altyd plek wees vir my. Ek verdien dit nie, ek is ook maar ’n wegloopkind. Maar daar is niks wat sal maak dat Hy die deur in my gesig sal toeklap nie. Sy goedheid is onbegryplik. Dit oorweldig my.

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die hoeksteen vorm vir ’n gesonde, gelukkige gesin met gesonde, gelukkige kinders.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img